Ons praat met

Dana Snyman se hoop, vrees en lewenslesse

EK HOOP

om mense aan te raak met my werk. Ek het geen literêre ambisies nie, jy kan in my hart inkyk. Elkeen moet besef waar hy in die groter skema inpas, ek sal nooit naby die Karel Schoemans kom nie. Maar ek kry ’n kick as iemand sê hy lees my rubrieke vir sy vrou of my boeke laat die gesin lag.

die oordrewe celeb-kultuur kry einde. Dis ontstellend dat ons ’n geslag grootmaak wat glo jy moet op TV wees voor jy iemand is. Gelukkig druk alle ouers hul kinders nie, maar baie doen dit – op die kleinste dorpie se landbouskou kry jy nou ’n Idols-kompetisie.

om eendag te trou en kinders te hê, al is ek dalk ’n sad 62-jarige langs die hokkieveld! Hoe ouer ek word, hoe selfsugtiger word ek. Dit pla my die meeste van myself. Ek kan nie so net vir myself leef nie. Jy moet ook wyer leef en meer gee.

mense begin besef daar is nie maklike oplossings vir belangrike kwessies nie. Ons lewe in ’n tyd van kitsoplossings: As jou maagspiere verslap, koop ’n abflex. As jy nie meer van jou land hou nie, kry ’n nuwe een. Ek het hoop vir Suid-Afrika, dit word bevestig deur ’n klomp dingetjies wat ek sien. Daar is drie dinge: geloof, hoop en liefde – en die grootste hiervan is die hoop.

EK IS BANG

vir bekendheid. Mense beskou bekendes dikwels as rolmodelle, maar ek het min om te bied – nie verhoudings nie, nie kinders nie. Ek vertel net stories. Ek sien myself nie as bekend nie, was altyd skamerig. Ek word darem gereeld na ’n losie op Loftus genooi!

as ek voor mense moet optree. Dan sweet ek verskriklik. Ek kry myself toenemend daar uit. ’n Mens is maar bang vir goed wat jou waardigheid aantas. Ouderdom is ’n lelike ding!

vir tegnologie. Ek verstaan net die basiese. My goed breek heeltyd. Ek vrees my iPod, hy het nou die dag in duie gestort.

nee, nie vir alleen-wees nie. Ek was nog altyd ’n effense buitestander, skrywers is dikwels. Ek was ’n enigste kind, besig in my kop. The Outsider van Colin Wilson het my laat besef ek is nie al een nie.

WAT EK GELEER HET

Mense wil van geweet wees, maak nie saak wie hulle is nie. Elkeen wil liefde en aanvaarding hê, iewers behoort. Sonder om te oorvereenvoudig: Ek dink in ’n groot mate, kan jy dinge wat skeefloop, terugvoer daarna dat mense nie liefde en aanvaarding gehad het nie.

Ek glo in stories soos ek in die Here glo. Die Boesmans sê ons is ’n storie wat deur ’n Hoër Wese vertel word. Dit maak vir my sin. Ek sien baie dinge in terme van stories. Die Here het
nie mense oor die lewe geleer met 25 wette of “stappe” nie, maar met gelykenisse. Met stories.

Ek sien die wêreld dikwels met hartseer oë. Materiële dinge maak my soms hartseer. Die eerste keer toe ek oor my ma se dood gehuil het, was ná die begrafnis toe ek haar goedjies op haar bedkassie sien: Die botteltjie Vicks, die tissue-houer, haar sakboekie . . .

Geluk gaan oor oomblikke. Eenvoudige dinge. Om langs die woestyn af te ry, laatmiddag ’n stoel op te slaan onder ’n koelteboom en dinge net te laat wees. Jy het nie sperdatums nie, skuld niemand groot geld nie . . . Daar lê ’n sekere wysheid in eenvoud.

’n Mens besef nie altyd wat jy het nie. In die joernalistiek sien ons so baie. As jy reis, kry jy met mense te doen wat nie so bevoorreg leef en beleef soos ons nie. Dit maak jou oop vir mense.

Vroue is die sterker geslag, die stabiliserende faktor, ek sien dit in soveel gemeenskappe. Hulle hou die huis aan die gang, dis vroue wat hulle ontferm, kinders inneem . . .

Jou ouers kan vir jou sekere lewenswaarhede leer, maar uiteindelik moet jy dit self ontdek. Jy stamp jou kop, en soms doen jy dit dwarsdeur jou lewe.