sr1203dawie_roodt01
Ons praat met

Dawie Roodt en sy ‘Russiese poppie’

Gaan kuier jy by celeb-ekonoom en TV-persoonlikheid Dawie Roodt, gebeur dinge in die volgende volgorde: Eers sien jy sy enorme huis, wat byna soos ’n herehuis lyk, aan die bopunt van die Pretoriase landgoed. Dan ry jy verby ’n dam waar hy ’n hele gesin sierlike wit swane aanhou. En dan wag Dawie jou in die oprit in met ’n joviale verwelkoming en die volgende waarskuwing: Pasop vir die meerkaaie, hulle byt.

“Moenie bekommer nie,” voeg hy gelate by, “ons het entstof teen hondsdolheid, bloedplasma, alles, bly net 
naby my.”

Ek gehoorsaam en ons haal die spoggerige Frans-Provensaalse voordeur sonder ’n meerkat, byt of hondsdolheid.

En dan, in die Frans-Provensaalse voorportaal, tref ons haar aan: Marina Roodt, Dawie se mooi Russiese vrou. Hy het haar agt jaar gelede op ’n Russiese webblad raakgesien en haar in St. Petersburg gaan haal. Toe was sy Marina Levoshenia. Nou staan sy hier met haar blink pruimkleurige bob, lank en skraal in ligblou jeans en ’n blinkerige top.

Sy groet in Engels met ’n swaar Russiese aksent en sê ek kan ontspan, sy het die twee troetelmeerkaaie in hul slaapkamer toegemaak. Van Afrikaans verstaan sy nie veel nie, praat ook nie juis nie. “But you can say ‘my liewe man’,” por Dawie haar aan. Marina gee nie toe nie. Nee, sê sy, sy noem hom net Dawie en klaar. Hy noem haar “Poeps”, wat volgens hom ’n afkorting is vir ’n Russiese woord wat poppie beteken. En sy noem hom “Dawietschka”, sê hy ingenome. Is nie, stry sy. Is, sê hy. “If I’m in a very good mood,” gee sy koelerig toe. Dan ontdooi sy en daar’s ’n vae glimlaggie toe sy sê: “When I just wake up, I call him my dear husband.”

Ons sit by hul eetkamertafel in die formele huis met sy lang fluweelgordyne en swaargeraamde skilderye en dan begin die twee hul unieke liefdesverhaal vertel. “Oukei, ek gaan nou die ding ver terugvat,” sê Dawie, deesdae veral bekend vir sy aanbieding van die TV-program Ontbytsake op kykNET.

Agt jaar gelede, toe Dawie reeds naam gemaak het as ekonoom en lank reeds geskei was met twee groot kinders, het hy en ’n span van kykNET Rusland toe gegaan om ’n dokumentêr te gaan maak oor sogenaamde Russiese bruide – Russiese vroue wat as’t ware oor die internet “bestel” word. Die program is getiteld Russiese poppies.

So begin hy toe navorsing doen op die internet. “Met my gekarring op die een website, kom ek op ’n pop met oë af. Dis nou hierdie een,” sê hy, druk teen Marina se arm en sê: “Marina, don’t look so tired, show your eyes.”

Sy’s moeg, want hy praat nou al twee uur lank Afrikaans en sy antwoord vakerig: “Dawie, it’s like lecture at university.”

Maar hy stoom opgewonde voort. “Jy sien dadelik die oë. Dit lyk soos water. Oseaanblou, haar oë.”

Sy was toe 34 jaar oud. “In Russia it’s like an ouma,” sê sy. “Everybody was asking why you not married.” Dis hoekom ’n vriend haar foto na die webtuiste gestuur het. “More than 60 answered to my picture.”

In Rusland is Marina ’n gekwalifiseerde veearts en dit het by haar profiel gestaan. “Ek hou toe van die veearts-gedeelte en die pop se oë natuurlik. Toe skryf ek vir haar, and you didn’t even reply.”

Droogweg antwoord sy: “I wasn’t looking for divorced husband from Africa. I wanted a prince on white horse.”

“From France?” vra Dawie. “Sy kan Frans praat, terloops.”

Marina: “My dream was a prince on a white French horse.”

“They’re all sissies anyway,” sê Dawie. “Tell her how you deleted my e-mail.”

Marina: “I ignored it, deleted it, I don’t know. There were too many men. I preferred a European.”

Maar die Afrika-man het aangehou (hulle het met vertalingsprogramme op die internet gekommunikeer) en eindelik het sy geswig en ingestem om hom voor die Winterpaleis in St. Petersburg te ontmoet.

Dawie begin met smaak vertel hoe hy oor die plein gehardloop het, hoe dit trietserig gereën het, hoe hy na daardie oë gesoek het, soos in ’n fliek, vertel hy. Dan knip sy hom ongeduldig kort: “Make it short, Dawie. Enough with the storyboard – rain and trees, we’ll be here ’till tomorrow.”

Goed, gehoorsaam hy, en fast forward tot waar hy haar onder ’n pienk sambreel gewaar het. “Toe sien ek die pop se oë. Ek kon dit op geen manier mis nie.”

Maar net daar het die romantiese klankbaan van die 
fliek gestop, want toe’s dit bra ongemaklik. “Wat doen jy 
nou? Groet jy met die hand, salueer jy, ek weet nie. Toe 
soen ek haar op die wang. I kissed you on your cheek, you know that?”

“I can’t remember.”

“Nou staan ons daar soos ape, soos stom hase, wat sê 
jy nou?”

Gelukkig was die tolk saam wat hulle gebruik het vir die dokumentêr, want in daardie stadium kon Marina nie ’n enkele woord Engels praat of verstaan nie. “Toe gaan neem ek en sy en die tolk St. Petersburg op horings.”

In ’n stadium het hy die tolk afgeskud en toe koop hulle 
’n klein woordeboekie – “daar ga’t ons toe, soek alles woord vir woord op”.

Die aand is hy saam met haar na haar niggie se huis toe. “Nou is ek bang vir hierdie girls wat mens oor die kop slaan en jou beroof en so aan. Daar’s gerugte wat die ronde doen. Jou niere word verkoop. Maar hier ga’t ons en dit word ál donkerder en die woonstelblokke raak meer sowjet van aard. En ek weet, hier kom dit nou, hier gaan ek nou beroof word, geroof word, hulle gaan my verkoop êrens op ’n slawemark.”

Maar sy vrese was ongegrond. Marina se niggie en dié se man (met ’n mond vol goue tande) was vriendelik en gasvry. Vodka is uitgehaal, in plastiekglase geskink “en nie lank nie, toe praat ek en hy vlot Russies”.

Die volgende dag het hy haar na ’n rivier geneem en vir haar “Al lê die berge nog so blou” gesing.

“Can you remember?”

“Of course, you remind me every now and then.”

“You didn’t like it, I know you didn’t like it, but I tried.” Dan vir my: “Ek kon sien sy’s tot oor haar ore verlief op my, ek meen dit was duidelik, sy’s ook maar net mens.”

Hy het die skoot ook hoog deurgehad. “Toe gee ek nie meer ’n moer om vir die program nie.”

Hulle was net vier dae saam in Rusland, “maar daarna kon ek haar nie uit my gedagtes kry nie”.

Gou daarna het sy vir ’n maand in Suid-Afrika kom kuier en vier maande daarna weer. Dis toe dat hulle besluit het om te trou. “Weet jy, ek was verlief genoeg, sy was verlief genoeg, sy’s mooi genoeg, nice genoeg. Ek dink nie jy het meer as dit nodig nie.”

Dit was net agt maande nadat hulle die eerste keer ontmoet het en nie een van hulle kon ’n woord van die ander een verstaan nie. “Maar liefde gaan nie oor taal nie,” verduidelik Dawie. “Liefde gaan oor klein goedjies, oor ’n kyk, om aan iemand se hand te raak, om vir iemand iets te gee of te doen. Taal en kommunikasie is stap tien van liefde. Daar’s ’n klomp ander dinge tussenin.”

Marina beaam: “I’m not a woman who can easily talk about my love. My love is when I take care of my husband, he looks young, handsome, nicely dressed.”

En toe trou hulle, sommer in ’n woonstel van ’n kennis. Wat was die troudatum? vra ek. Dawie weet nie, kan nie onthou nie. “Aijaijaijaijai,” sê Marina en gee hom ’n yskyk. 
14 Junie 2004, sê sy.

Sedertdien woon sy permanent in Suid-Afrika. Sy’s ’n huisvrou, want haar Engels is nie goed genoeg om hier te kan werk nie. Haar ouers was hartseer, want sy’s die enigste kind, maar hulle het al ’n hele paar keer by mekaar gaan kuier. En danksy Skype gesels hulle daagliks. Sy kyk ook elke dag Russiese TV en het Russiese vriendinne in Pretoria.

Dawie se dieretuin, soos sy dit noem, hou haar so besig dat sy dit nie regtig mis om as veearts te praktiseer nie. Benewens die swane, meerkaaie en honde is daar ook allerlei voëls, voëleiers in broeikaste en marmotte, want Dawie is vreeslik lief vir diere. “My husband keeps me so busy with his home zoo, I don’t have time to be free.”

Vir Dawie se ouers en kinders was die Russiese vrou aanvanklik vreemd, maar hulle het dadelik van haar gehou, sê hy. En die huwelik het dadelik gewerk. “Die twee individue het mekaar goed aangevul op daai stadium en doen nog steeds,” sê Dawie. “Dit gaan ’n bietjie seksisties klink, maar ons rolle het gepas. Sy het baie nice na die huis omgesien en vir my ’n ondersteuningsbasis gegee.” Die rolle is nogal tradisioneel, sê hy. Hy werk ontsettend hard, reis baie en is bittermin by die huis. Sy skep vir hulle ’n tuiste en maak ook lekker kos. “Aanvanklik Russiese kos,” sê Dawie, “maar nou enigiets.”  

Moet egter nie vir een oomblik dink sy’s onderdanig of suutjiestrap nie, allermins. “Sy’s ’n tough pop,” sê hy. Marina voeg by: “It’s just my genetics.”

Nog nooit het hulle teruggekyk nie. “Ek het klomp kere gedink ek is mal, en ek het klomp kere gedink hierdie is die beste ding wat nog met my gebeur het.”

“We found what we were looking for,” sê Marina.

“You were lucky,” sê Dawie.

“I was clever,” sê sy. “It’s not about lucky, I just could see, it was right choice.”

En vir die eerste keer in die onderhoud smelt daai ys ’n bietjie en daar skyn ’n glimmer van liefdevolheid deur. “I knew he was not angels,” sê sy en sit haar hand in sy been se waai. “But we live on earth, not sky. No one is angel. If you want angel, look in the sky.” 

  • Chantelle

    Wat ‘n pragtige liefdes verhaal!! Geniet mekaar en wees goed vir mekaar!

  • Yvonne Dippenaar

    Baie geluk! Sy is pragtig! Pas goed by jou!
    Sy sal nie spyt dat sy Boertjie gevat het nie!

  • Aletta Keyser

    O so romanties! Wat ‘n mooi foto! Hul pas mooi bymekaar. Ek hoop dit hou.

  • Rhonda

    Wel as dit werk ,werk dit seker ,maar dit klink vir my maar na ‘n trofee by die huis.

  • Rina Kleynhans

    Ja dis REGTIG n mooi "love story"
    Sy is n baie gelukkige vroue: want ek
    weet jy het n stunning persoonlikheid,
    en kyk goed na haar en sy na jou!!!

  • Esbie

    ‘n mens is nie gemaak om alleen te wees nie en die beste resep vir ‘n huwelik om te werk is wedersydse respek .Beste wense
    Esbie

  • B.Schilder

    Het ek die artikel oor Dawie Roodt geniet. Nog nooit n aanhanger van die man nie, maar moet sy smaak komplimenteer. Nee wat Dawie jy kan so opkom vir jou volk soos jy wil en dis goed so maar as jy jou permanente maat moet kies, kies mens sorgvuldig. Interessant en vol lewenslus, geleerd en pittig verby! Moet maar visvang in n ander dam as die stokvisse hier nie kan byhou by jou kleurvolle (en mooi) vroutjie nie. Leer maar die Russies gou aan, want by daai een het gaan jy gaan jy sleg tweede kom ganse en al!!
    groete
    Benje

  • Anne-Marie

    Dit is baie duidelik dat hierdie liefdesverhaal bedoel was. Dawie, dankie dat julle hierdie mooi verhaal met ons gedeel het. Sy lyk pragtig en dit klink of julle mekaar baie goed aanvul. Sterkte vir ‘n wonderlike toekoms.

  • helene vandermerwe

    dis nogal weird – op ‘n nice manier – soort van vreeslik romanties, maar sy het beslis met haar kop in die huwelik begewe…

  • Riaan

    Kan mens ‘n Sharemeax man vertrou? Meerkaaie pas nie, hy moet muishonde kry!!