sister_breyani_poster_image_bigger
Ons praat met

Denise Newman

Die toneelstuk Sister Breyani is van 8 tot 11 April by die KKNK en vandaar gaan dit na die Baxter-teater in Kaapstad. Die aktrise Denise Newman, wat die rol van die tweede oudste suster, Cassandra, hierin speel, het met Marguerite van Wyk gesels.

Wat probeer julle met dié stuk oordra?
Familieverhoudings is kompleks en kleurryk. Dit gaan oor vyf moderne vroue van Durban, so dit het ‘n anderste gevoel en “taal”. Hul lewens is ryk, hoewel hulle nie baie geld het nie.

Vertel meer van jóú karakter, Cassandra.
Sy is ‘n verpleegster, twee keer geskei, maar sy’s nou gelukkig met haar katelknaap en twee honde. Sy is in ‘n fase van haar lewe waar sy tevrede is met wie sy is. Haar susters spot met haar lewenswyse en daar is spanning tusen haar en haar oudste suster, Sheila (Mary Daniels).

En die titel van die stuk?
Een van die susters, Moira (Euodia Samson), maak die béste brijani, waaroor hulle dikwels praat. Kos is lewegewend en ‘n sentrale gedeelte van dié familie se lewens.

Hoekom sal dié stuk by Suid-Afrikaanse gehore byval vind?
Dit handel oor régte mense en gesinsverhoudings. Daar is drama en humor, so dis ‘n lekker vermenging van genres.

Lara Bye was die regisseur. Wat het jy by haar geleer?
Sy het my geleer komedie en drama kan sáám werk. Dis die eerste keer wat ek saam met haar werk. Dit was heerlik om ‘n karakter te skep saam met iemand wat my toegelaat het om te eksperimenteer en my toe gehelp het om die regte keuses te maak.

Met watter ander projekte is jy besig?
Erfsondes 3 word binnekort uitgesaai op SABC2 en Deeltiteldans is ‘n film waaraan ek werk vir kykNET. En ek werk aan die rolprent Shirley Adams, waarin ek die hoofrol vertolk, wat in rolprentteaters vertoon sal word en sal saamval met Vrouedag (9 Augustus).

Hoekom geniet jy dit om toneel te speel?
Jy kry dadelik terugvoer op die verhoog. Jy moet dit elke aand vars hou en eerlik wees. Toneelspel het my baie oor mense geleer en hoe om verskillende persoonlikhede uit te beeld.

Wat maak jy as die senuwees knaag?
Haal asem, fokus en dan laat waai jy.

* Meer oor Sister Breyani by die ABSA KKNK.