Ons praat met

Deshun Deysel se hoop, vrees en lewenslesse

EK HOOP

om ’n maat te kry om my lewe mee te deel. Ek dink nie ek het ’n man nodig nie, maar ek sal graag een wil hê.

om nog baie te lag. Die lewe is te kort om ernstig te wees. Hopelik sal ek altyd die wêreld deur ’n kind se oë sien en dinge ondersoek asof ek dit nog nooit ervaar het nie. Dis een van die redes waarom ek so lief is om berg te klim: Ek wil nie hê iemand moet my vertel van ekspedisies nie, ek wil self sien wat ek in die berge kan ervaar.

om terug te kyk op my lewe en te sien ek het ’n verskil in mense se lewens gemaak. Ek hoop om mense te inspireer om hul passie uit te leef. Ons is so gekondisioneer om in ’n sekere veld te studeer of ’n sekere werk te hê sodat ons kan geld maak. Dis nie die moeite werd om ’n lewe te leef wat die teenoorgestelde is van wie jy is nie.

dat my twee ondernemings sal bly groei. Ek het ’n TV-produksiemaatskappy wat Christelike programme vervaardig. Ek is ook ’n motiveringspreker en bied onder meer spanbouwerksessies vir maatskappye aan.

EK IS BANG

nie vir doodgaan nie. Ek glo om berg te klim is deel van God se roeping vir my. Die dood is nie vir my ’n bedreiging nie, omdat ek ’n gelowige is.

vir spinnekoppe. Ek’s seker daarvan hulle weet ek’s bang vir hulle, want daar is ’n klomp in my huis!

WAT EK GELEER HET

Jy moet altyd nederig wees. Dis so maklik om die dinge wat jy bereik het te gebruik om jouself soos die heldin te laat lyk. As jy ’n berg klim, is daar geen waarborge nie. Soms maak jy dit tot bo, ander kere nie; soms is jou lyf sterk genoeg, ander kere nie. Op ’n berg is jy iemand sonder geld of status. Jy kry baie tyd om oor jou lewe na te dink en ek het besef ek is net ’n mens wat nie beter of slegter as enigiemand anders is nie.

Ek leer nog elke dag. Ek stamp steeds my kop, groei en vind goed werk nie. Die lewe is ’n nimmereindigende reis. Daar is nie ’n bestemmingspunt nie.

Dit gaan nie oor wen nie, maar om sekere doelwitte te bereik. Daar is altyd ’n les om te leer wanneer ek bergklim, wat ek met ander mense kan deel. My fokus is nie meer om die piek van ’n berg te bereik nie. Vandat ek só daaroor dink, het ek begin om die hoogste kruine van berge te bereik!

Status, geld en pryse is nie belangrik nie. Dis belangriker om te weet jy gee en ontvang liefde. En dít is gratis.

My ma het vir my goeie raad gegee: “Jy moet nooit vir die fonteintjie sê jy gaan nooit weer uit hom drink nie.” Behandel mense met respek, want jy weet nooit wanneer jy hulle gaan nodig hê nie.

Jy ontwikkel die krag in die laaste krisis waardeur jy gaan om die volgende krisis te hanteer, want daar gaan altyd nog ’n krisis wees.

My pa het my op skool gedruk om te presteer. Ek het altyd gevoel sy liefde vir my is aan my prestasies gekoppel. Dit het veroorsaak dat ek mededingend was en vir mense wou wys hoeveel beter ek as hulle is. Ek het geleer dat ek waardevol is, maak nie saak wat nie. En dat dit onmoontlik is om die beste in alles te wees.

Jy moet eers binne verander vóór jy buite kan verander. Vandag laat doen mense plastiese chirurgie en koop ’n groter huis en duurder motor. Ons fokus op dinge wat binne sekondes weggevat kan word.

Dis moeilik om die pyn in jouself te konfronteer, maar dis nodig om te groei. Ek moet ’n oop, eerlike en betroubare mens wees vóór ek dit van ander mense kan verwag.