FOTO: Marijke Willems

FOTO: Marijke Willems

Ons praat met

Desiré Gardner gesels oor kritiek op vroue #vrouemaand2015

Desiré Gardner het al ver gekom sedert haar eerste dag op die stel van Binnelanders, toe sy grootoog nader aan Nadia Valvekens (Pippa) gesluip het en haar stilletjies moes vra: “Ek’s só jammer om te pla, maar wat beteken dit as die regisseur sê hy soek ’n cutting point?”

Hier volg ’n uittreksel uit ons onderhoud met Desiré in die Augustus-uitgawe van SARIE.

As “soort-van-introvert” is die aandag wat sy as aktrise kry nie altyd maklik nie, sê sy. “My ouers woon deesdae op George in die Suid-Kaap en op sulke dorpies kan dit nogal oorweldigend word. Ek onthou nog ek was so twee jaar by Binnelanders, toe bel my ma, Desiré, om te sê ek is in die Huisgenoot-blokkiesraaisel. Ek het dit gekoop, maar voorin was daar ’n hele bespreking oor my tandvleis wat wys as ek lag – een ou het gesê dit gee hom hoendervel. Ek moes vinnig leer om dit eerder af te lag.”

Desiré en haar seuntjie, James

Desiré en haar seuntjie, James

Ook maar goed, want erger storms sou volg. “Mense het op ’n punt bespiegel of ek anorekties is, maar ek is net so gebou dat my sleutelbene altyd uitsteek. My ma sê altyd sy kan 30 kg oorgewig wees, maar dankie tog vir haar sleutelbene. Deesdae grap ons op stel daaroor. Mense neem my soms af as ek middagete eet as ‘bewys’, dan sê ek, ‘ja, maak gou, want ek eet net op Vrydae’.”

Met die goed én die sleg is sy net bly om elke dag te kan doen waarvoor sy ’n passie het. “Dit was nog altyd my droom om elke dag te kan act. Ek wil nie saans in die bed klim en dink ek het darem my woorde onthou nie, ek wil dink ek het gedoen waarvoor ek lief is. En sover is dit nog elke dag so.”

AUG cover nuwe mashoof Diaan lawrenson en Desiré gardner augustus 2015