dewald_wasserfall_album_310w
Ons praat met

Dewald Wasserfall: Die nuwe goue seun van Afrikaanse musiek

Hy het altyd geweet sy debuut solo-album het dit wat nodig is om goue status te behaal, maar selfs hy het nie gedink dít sal so vinnig gebeur nie. “Dit is amazing! Ek is baie dankbaar en trots.”

“Dit was harde werk om die album te maak en om te toer, maar die moeilikste is die wag. Nadat jy die album opgeneem het, moet jy wag ek kyk wat gebeur.” Die bekroonde platemaatskappye Johan Vorster Songs en Coleske Artists het sy album vervaardig.

Kyk hier na agter die skerm foto’s van Dewald se Namibiese toer saam met Willem Botha en moniQue.

Die gesoute liedjieskrywer het die meeste van die liedjies op die album self geskryf. Hy kry sy inspirasie uit werklike gebeure en probeer om vanuit ‘n eerlike plek te skryf. En met liedjies soos “Vergeet wat jy weet van liefde” en “Eendag as ons groot is” wat die hartsnare roer, is dit nie moeilik om te glo dat mense gehaas het om dié album aan te skaf nie.

Dewald het al die aksie met die skiet van sy musiekvideo vir “Eendag as ons groot is” met sarie.com gedeel.

Natuurlik inspireer sy vrou van twee en ‘n half jaar, Anel, hom ook. Sy is betrokke by ‘n hoërskool en verantwoordelik vir hul kulturele aktiwiteite soos musiekblyspele. “Sy is ook musikaal – dalk nóg meer as ek!” Hy lag. So hulle gaan musikale kinders hê? “Oe, dit sal my mal maak! Kan jy dink ‘n 6-jarige wat heeldag op tromme speel?” Hy lag verder. “Nee, dit sal eintlik baie cool wees…” 

Dewald Wasserfall en Anel

FOTO: Dewald en sy vrou Anel

SARIE het aan ons lesers die geleentheid gegee om vir Dewald vrae te vra. Hier is die vrae én sy antwoorde:

Hannetjie Jordaan: Wat hou jou voete plat op die aarde?
Ek het onder begin in die bedryf. Ek het eers beligting gedoen vir Eden en klank vir Willem Botha en MoniQue. Ek ken die bedryf goed. Ek weet ook sukses kan net so vinnig verdwyn soos wat dit gekom het.

Marisa Naudé: Is jou loopbaan soos wat jy gedink het dit sal wees voordat jy beroemd geword het?
Beroemd? Dis ‘n interessante woord! (Hy lag). Ek is nog taamlik nuut en ek volg ‘n benadering van kinderlike onskuld. Ek ontdek nou nog alles en geniet dit om myself in dié bedryf te wees.

Francois Blake: Wie is jou musiek-inspirasie en gunsteling-sanger?
Ek het respek vir alle goeie liedjieskrywers soos Johan Vorster, Hunter Kennedy en Albert de Wet. Ek het baie respek vir Theuns Jordaan as sanger én liedjieskrywer.

Internasionaal kyk ek op na John Mayer, John Rzeznik (van Goo Goo Dolls) en Keith Urban.

Zanelle Breedt: As jy nie gesing het nie, wat sou jy doen?
Ek sou waarskynlik haweloos onder ‘n brug gesit het! Ek sal nie iets anders kan doen as om in die musiekbedryf te wees nie. Ek sou liedjies geskryf het of by die tegniese aspekte betrokke wees. Op een of ander manier sou ek in die musiekbedryf gewees het.

Ria Lewis: Is jy tevrede met jou lewe?
Definitief! Ek maak die beste van die ups en downs. Ek is baie geseënd, maar ek is nog nie waar ek wil wees nie.

Enige planne vir ‘n volgende album?
Ek werk al aan nuwe konsepte en nuwe liedjies. Niks is nog naby genoeg aan klaar nie. En die volgende een wil ek baie beter maak.

NUWE TELEVISIEPROGRAM!

Jy kan eersdaags op kykNET sien hoe Dewald se pad geloop het om ‘n sanger te word én sien wat dit vat om ‘n debuutalbum aanmekaar te slaan.

Die program word op 6, 13, 27 en 28 Julie om 12:30 – 13:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Kyk hieronder Dewald se musiekvideo “Eendag as jy groot is”: