Ons praat met

Diaan en Jody: ’n span binne én buite die huis

In hul huis in ’n voorstad van Johannesburg dra Jody Abrahams (7de Laan, Semi-Soet) vir sy vrou, Diaan Lawrenson (Paula van 7de Laan) koppies tee aan in die middernagtelike ure terwyl sy hul seuntjie, Thomas James Abrahams borsvoed.

Thomas is hul tweede, en ‘n boetie vir Olivia-Rose (onder) wat in 2010 gebore is. 

Diaan en Olivia-Rose

“Die huis is nooit vervelig nie, daar is ‘never a dull moment’. Dis vol liefde en vreugde!” sê Jody oor hul besige huis.

“Dit voel ongelooflik om weer pa te wees. Ons seuntjie is pragtig en soet – ons is so geseënd met ’n gelukkige gesonde familie.”

Jody is ’n betrokke pa wat help met doeke omruil. En volgens hom draai Olivia hom reeds om haar pinkie.

Toe Olivia onlangs siek was, het Jody eerder by haar gebly as om na die Naledi-toekennings te gaan. Dit is by dié teater-toekennings waar hy die prys gewen het vir Oorspronklike Choreografie saam met Loukmaan Adams vir Kat and the Kings.

Maar dit is nie slegs binne die huis waar Diaan en Jody ’n goeie span maak nie. Hulle werk ook saam by Jester Productions, ’n produksiemaatskappy wat Jody begin het.  

“Ons is ’n span met alles wat ons aanpak … Ons maak ’n goeie span!” sê Jody wat binnekort in kykNET se nuwe televisiereeks Trek Net te sien is.

Jester Productions se jongste produksie, Titanik, waarin Jody en Christo Davids (Errol van 7de Laan) speel, is een van die voorbeelde van dié egpaar se spanwerk. Diaan bestuur die produksie, en behartig die kommunikasie en vervaardiging daarvan. Jody en Christo het die teks geskryf.

Jody en Christo in Titanik

Titanik is ’n prettige interaktiewe opvoering wat handel oor ’n werklose man wat ’n brief ontvang uit Engeland. Dit wil voorkom of sy groot-oupagrootjie op die Titanic was en dat hy nou sy erfporsie ontvang. Dié vertoning voorspel net groot pret.

Titanik wys by die KKNK, 2-6 April om 13:00 in die Griesel Saal. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.