Ons praat met

Diaan maak hart oop: “Dit gaan oor Olivia”

Olivia het haar pa, Jody Abrahams, se sjarme gekry en is klaar vol selfvertroue, al is sy nou eers twee jaar oud. “Spontaan en spraaksaam,” sê Diaan.

Maar sy besef sy sal haar dogter nogtans moet voorberei op die aanslae van die lewe. “Ek weet ek gaan Olivia nie net moet leer om ’n sterk, onafhanklike vrou te wees wat lief is vir haarself nie, ek gaan haar ook moet leer Mamma en Pappa is anders en dis oukei. Ons gaan haar moet grootmaak met die wete dat sy nie moet omgee wat mense van haar dink nie, dat mense haar nie kan definieer volgens haar kleur nie. Ek laat nie toe dat mense my in ’n boks sit nie. Ek hoop as dit [vooroordeel] na haar kant toe kom, gaan sy mense op hul plek sit. Hopelik teen die tyd dat sy groter is, gaan dit nie meer so erg wees nie.”

Maar ja, sê Diaan, sy en Jody moes al baie teenkanting verduur. “Ook omdat ons ’n kind buite die eg gekry het.” Haar ouers sowel as Jody s’n is geskei – hare toe sy 14 jaar oud was. “Dis nie iets wat ons vir Olivia wil hê nie. Ek hoop regtig ons kan vir die res van ons lewens ons dinge uitwerk sodat Olivia met albei haar ouers grootword.”

Sy en Jody is al vir ’n ruk verloof en beplan om een of ander tyd te trou.
“Voordat Olivia gebore is, het ek gedink ugh, trou, whatever. Dalk is dit omdat ek uit ’n geskeide huis kom. Ek is nogal sinies. Ek dink nie dis onmoontlik om vir die res van jou lewe saam met iemand te bly nie, ek dink net dis moeilik.”

Maar ná Olivia se geboorte het sy anders oor trou begin dink.
“Toe verstaan ek skielik hoekom mense trou. Dit gaan nie oor my en Jody nie. Ek en hy het al lankal aan mekaar belowe hoe lief ons vir mekaar is. Ek staan elke dag op en ek wil hê ons verhouding moet werk. Dit gaan ook nie oor die samelewing se norme nie, wat ons in elk geval daagliks ignoreer. Dit gaan oor Olivia.

Lees die volledige onderhoud met Diaan in die Junie 2012-uitgawe van SARIE

Kyk na ‘n video van Diaan, Jody en klein Olivia

  • Koekoe

    Sy lyk nes haar pa. Pragtig

  • Carin

    Wat ‘n pragtige voorblad en die mooiste gesin! Julle is pragtig en klein Olivia lyk soos ‘n engel! Julle 2 maak dat hierdie Sarie voorblad my gunsteling sal bly vir ‘n BAIE lang tyd!

  • Yvonne de Bruin

    Diaan jy en jou dogter is pragtig. Onthou net altyd dat ‘n kind ‘n geskenk van God is. As jy vir haar doen wat reg is sal God jou seen. As julle trou sal dit een minder ding wees waaroor julle en sy sal moet stress. Kinders kan wreed wees en op skool sal hulle haar dalk terg en se sy het nie ‘n regte mamma en pappa nie. So dink maar daaraan. Liefde oorwin alles. Geluk ook aan jou en Jody met so ‘n pragtige kleinding.

  • Marie rheeder

    Wie is die gesiglose mense sonder naam of van,sonder probleme of sonde , die regters oor mense, waar is hulle , in die strate, supermark ,kerk, werk, stop straat self met bedel bordjies, GENADE ASSEBLIEF. Ons almal leef van genade alleen.

  • jolene

    Jou kind is pragtig hoor geniet haar hoor

  • Cassey-Leight Mattfield

    Wow, wat kan ek se…my seun moet vinnig gebore word, ek glo darem nie twee jaar sal n verskil maak nie, haha. Ek spot net, maar jy het n pragtige kind.