sr0912hjg_005
Ons praat met

Die aktrise Vanessa Haywood oor District 9

Vanessa Haywood speel Tania van der Merwe in District 9 teenoor Sharlto Copley (Wikus van der Merwe in die fliek). Sy is trots daarop dat sy deel van dié produksie kon wees, veral omdat 90% van die rolverdeling en span Suid-Afrikaans is.

“Ek is oortuig daarvan die fliek sal vir een of twee Oscars benoem word, dalk vir beste fliek en beste spesiale effekte. Ek kan nie wag nie. Ek gaan in Amerika wees as die benoemings vir volgende jaar bekend gemaak word.

“Dis ‘n malhuis. Ek doen die een onderhoud ná die ander en hardloop rond om publisiteit vir die fliek te doen. Maar ek’s op ‘n gelukkige plek in my lewe; dis ‘n wonderlike reis.

“Ek is só trots op District 9. Dis hoofsaaklik ‘n SA fliek, hoewel dit ‘n Hollywood produksie is. Sci-fi is nie gewoonlik snaaks en emosioneel nie. Dié fliek is anders. Daar is ‘n liefdesverhaal en baie komedie. Dis heeltemal over the top.

“Een van die groot oomblikke was toe ek my naam aan die einde van die fliek op die grootskerm sien (dit was vóór die amptelike bekendstelling in Johannesburg). Dit het lewensgroot alleen op die skerm gestaan – wit op swart. Toe’t ek gedink: Wag ‘n bietjie, hier is nou die ware Jakob!

“Ek is onlangs Los Angeles toe en gaan vir ‘n maand in Kalifornië reis en vakansie hou. Dan sal ek in LA aanbly om ‘n loopbaan te probeer bou. Ek’s baie lief vir Suid- Afrika, maar ongelukkig is hier nie genoeg rolprentwerk nie.

“Ek sal ook graag ‘n rol in die rolprent Spud wil hê. (Dié fliek, gegrond op die gewilde boeke, word vanaf Februarie in SA verfilm.) Ek het einde November vir ‘n oudisie gegaan en as ek ‘n rol kry, kom ek terug” – Vanessa Haywood, aktrise.

* District 9 is pas vir ‘n Golden Globe benoem in die beste draaiboek-kategorie. En die Oscars wink!