Ons praat met

Die Antwoord-sanger se ma oor haar anderste kind

Daar is nietemin baie kritiek op Die Antwoord, veral op hul lirieke en voorkoms, maar Mandie glo elkeen is geregtig op sy mening.

“Ek het ook my voorkeure en afkeure wat nie altyd ooreenstem met dié van ander nie.Maak nie saak watter beeld Die Antwoord het nie, ek ken die besonderse kind agter Yolandi Visser [haar regte naam],” sê Mandie.

Sy steun haar enigste kind se drome en passies. “Enige ouer behoort dit te doen. Waarvan sy hou, is nie
noodwendig waarvan ek hou nie, en andersom. Sy is haar eie mens.” Sy vertel Yolandi het van kleins af ’n onverskrokke, vreeslose en just-do-it-streep in haar gehad.

“’n ‘Boksie-ma’ leer baie by ’n individualistiese kind. Sy het my ’n groter genaakbaarheid teenoor andersdenkendes geleer. Ek is ’n fan van my amazing, intelligente en individualistiese kind!”

Yolandi beskryf haarself as iemand wat daarvan hou om oorspronklik te wees. “Ek daag myself uit. Pleks van altyd in dieselfde sirkel om en om gaan, is dit goed om nou en dan uit te breek.” Yolandi geniet dit dat haar eie dogter, Sixteen (6), anders is as sy. “Ek is daar om haar te ondersteun, maar nie om haar te probeer vorm nie.”

Sy vertel speels hoe sy haar kind “wilder probeer maak”. “Sy is presies die teenoorgestelde as ek! Hahahaaa, ek dink ouers moet meer na Die Antwoord luister, want dan sal hul kinders nie so baie daarvan hou nie! Sixteen luister na Justin Bieber.”

Sixteen is glo ’n engeltjie en reis gewoonlik saam oorsee (sy het ’n au pair), vertel Yolandi uit Amerika, waar Die Antwoord ’n opname gemaak het. Kort daarna het hulle ook in Berlyn en Spanje opgetree.

Yolandi en haar lewensmaat, Watkin Tudor Jones, alias Ninja, woon in Suid- Afrika, maar sy is so privaat sy wil nie eens sê in watter stad nie!

  • Karin

    In die Rapport van Sondag 20 Februarie word daar gepraat van Yolandi (Anri du Toit) se pa en ma as Ben en Elna du Toit. Is Elna die stiefma, indien nie, wie is Mandie Visser dan?

  • Sanmarie Barnard

    Hi Karin

    Ek het ook hieroor gewonder…het Yo-Landi dalk vir Sarie om die bos gelei? Sy kom van Sandton af en hierdie foto wat ‘n armblanke-agtergrond impliseer pas glad nie daarby nie.