Ons praat met

Sean Else: Die Droomvanger

Hy dink soos ’n sakeman, nie soos ’n kunstenaar nie. Hy wag nie dat geleenthede na hom toe kom nie, hy skep hulle. Hy’s ’n self-made man. Sean Else is bly sy ouers het bietjie gesukkel. As hulle ryk was, sou hulle die wêreld vir hom op ’n skinkbord wou gee. Pleks daarvan het hy ’n belangrike les geleer: Om van vroeg af sy eie geld te verdien.

Hy het van dertien vir sy eie sakgeld gesorg. Sy eie motorfietse en later motors gekoop, vir sy eie studies betaal. Ja, hy was stout en het op skool gejol, maar toe hy ná matriek in ’n hipermark moes gaan werk, het hy geweet hy sal verantwoordelikheid moet leer as hy sy drome wil bewaarheid.

Sy klein sakeryk het begin toe hy agt jaar gelede die moontlikhede van die klug My vrou se man se vrou raakgesien en die regte daarop gekoop het. Hy het toe pas by die boyband Eden aangesluit: ’n Goeie leerskool in die musiekbedryf. Hy het die groep verlede jaar verlaat, en ons het hom kort daarna as aanbieder van die Afrikaanse Idols leer ken.

Sy eerste maatskappy, kookoo! Productions, het met sukses die klugte My vrou se man se vrou, My boetie se sussie se ou en As die kat weg is in die Staatsteater op die planke gebring, maar ná meer as 220 000 bywonings het hy die maatskappy verkoop en die geld gebruik om Mozi Records op die been te bring en die omstrede liedjie “De la Rey” van Bok van Blerk op te neem. Dis Afrikaanse musiekgeskiedenis.

Maar dis nog net die begin van groot dinge by Mozi Records, belowe hy. In die studio by die huis in Die Wilgers, Pretoria, wat hy en Louis Pepler, oftewel Bok van Blerk, deel en saamgekoop het as belegging (Bok is eintlik ’n bouer van beroep en hulle maak die huis reg om teen ’n wins te verkoop), speel hy die titelsnit van die Wêreldbeker-CD, Ons vir jou Suid-Afrika, wat Bok en Robbie Wessels saamsing. Sy gut feeling sê dit gaan ’n wenner wees . . . Die CD sou die volgende dag (1 Augustus) uitgereik word en daar is ’n tasbare opgewondenheid in die huis.

Bok en ’n paar musiekmanne is doenig in die sitkamer, waar’n platskerm-TV byna ’n halwe muur beslaan. In een hoek staan ’n klomp musiekinstrumente en klanktoerusting. ’n Huishulp probeer desperaat orde skep, want die manne het duidelik belangriker prioriteite as huishouding. ’n Week of wat later blyk dit Sean se gevoel op sy maag was reg. Hoewel dit nog maar die begin van Wêreldbeker-koors is, is 200 000 eksemplare verkoop van Ons vir jou Suid-Afrika in die eerste 9 dae nadat dit uitgereik is. Reeds meer as die 190 000 eksemplare wat tot dusver van De la Rey verkoop is!

’n Tweede wenner!  Hoe proe sukses?
Dis die eerste volwaardige stap in die rigting van my en my vennoot, Johan Vorster, se drome vir ons maatskappy. (Johan is steeds ’n lid van Eden.) Die tweede sukses plaas druk op ons, maar ons is ook opgewonde oor ons derde CD, Vergeet my nie, met Lianie May, ’n 30-jarige beesboer van Oranjeville in die Vrystaat. Ons het haar ontdek toe ek nog in Eden was en ons daar opgetree het.

Ons het haar gevra om te wag tot ons Bok op sy pad gesit het … en sy het. Sy gaan die nuwe sangsensasie word. Sy is beeldskoon en klink soos ’n mengsel van Shania Twain en Dolly Parton. Ek het ’n musiekvideo vir haar geskiet. Dis net so vol emosie soos die “De la Rey”-video. Tot dusver was die ontvangs oorweldigend. Maar Mozi se groot werk begin nou eers. Ons kan nou mense aanstel om die dinge te doen wat ons voorheen weggehou het van wat ons eintlik wil doen: Om stories te skryf en te skep.

Het jy baie geld gemaak uit “De la Rey”?
Ons het goed geld gemaak. Geld was vir my nog altyd ’n manier om my drome te finansier en ek het dit nog altyd teruggeploeg in my projekte. Ons kan nou groter projekte begin aanpak.

GUNSTELINGE

BESTE BOEK Triomf, The Alchemist
GUNSTELING-MUSIEK
Jack Johnson, Chris Chameleon, Collective Soul
BESTE FLIEK
Legends of the Fall, The Piano, 300
PLAASLIKE AKTEUR Jamie Bartlett
INTERNASIONALE AKTEUR
Sean Penn
PLAASLIKE AKTRISE
Shaleen Surtie-Richards INTERNASIONALE AKTRISE Renée Zellweger
PLEK
Heroldsbaai, Mosambiek
GEREG
Thai-groenkerrie, hoenderpotjie
GOUE OOMBLIK
Toe Bok van Blerk 180 000 CD’s verkoop het

Bederf jy jouself darem ook ’n bietjie?
Ek het ’n groot liefde vir motorfietse, veral Harleys, en het vir my ’n mooi swart monster, die Dyna, aangeskaf.

Is jy en Johan ’n lekker sake- en kreatiewe span?
Ons is 50/50-vennote. Ons besluit saam oor alles en skryf ook die meeste van die liedjies saam. Ek kon nie vir ’n beter vennoot en vriend gevra het nie.

Waar het jy geleer om soos ’n entrepreneur te dink?
Ek het ná matriek eers twee jaar lank gaan werk, van kroegman tot koeldranktrokdrywer. Dit het my genoeg geld gegee om by die Pretoria Technikon vir drama in te skryf. Ek het ook as ’n kelner gewerk terwyl ek geswot het. Ek, Robbie Wessels en Francois Henning van Snotkop is maar enkele produkte van die technikon. Ons is nie opgelei om, soos vorige geslagte, vanselfsprekend werk te kry nie. As jy in ’n gemaksone is, demp dit jou kreatiwiteit. Ons skep ons eie geleenthede.

Het jy op skool geweet jy het soveel talente?
Ek het eers later besef ek het musiektalent. Didi Kriel, ’n pianis wat al baie kunstenaars gehelp het, was bereid om my te help om ’n musiekloopbaan te begin. Kort daarna het ek by Eden aangesluit. Ek het nooit gedink ek kan popmusiek sing nie. Ek besef nou, jare later, ek is ook nie eintlik ’n popsanger nie. Ek het dit net gemaak werk met Eden.

En jou skryftalent?
Dis darem een van die min dinge wat ek op skool kon doen. Ek het altyd ’n A+ vir my opstelle gekry.

Jy was stout op skool?
Verskriklik. Ons het agter die mure gesit en rook. Ek was net hier om die draai in Hoërskool Die Wilgers. Ek was baie min by die skool. Ons het meer geleer deur by die swembad met meisies te sit en gesels!

Waar het jou ambisie dan begin?
Ek het, toe ek ná skool by die hipermark gewerk het, uitgegaan met ’n meisie wat omtrent tien jaar ouer is as ek. Sy het my aangemoedig om my drome te volg en gehelp om dramaklasse by Frieda Muller in Pretoria te gaan neem. Dit het my lewe verander, want ek het besluit om drama by die technikon te gaan studeer.

Hou jy dus van ouer vroue?
Dit gaan oor wie die persoon is en of ek van haar hou of nie – of sy iets in my wakker maak.

Was al die vroue-aandag in Eden lekker?
Skielik is al die meisies mal oor jou en dit doen baie vir jou selfbeeld. Maar dis nie altyd meisies met wie jy oor kuns en dieper dinge kon gesels nie.

Sal jy ook kan trou met jou tipe leefwyse?
Nee, maar dis nie ’n reël nie. Ek glo ook nie aan vooropgestelde reëls wat vir almal se lewens geld nie. Ek wil nie by raamwerke inpas nie. Ek het my eie.

Word jou seksualiteit soms bevraagteken?
Omdat ons in ’n boyband gesing het, wou baie ouens ons graag as gay bestempel. Maar ek was nog nooit effens gay of het naastenby die urge gehad nie. Selfs my gay vriende betwyfel glad nie my seksualiteit nie. Ek dink skinderkoerante wat oor my liefdeslewe bespiegel, maak dit duidelik dat ek nie gay is nie.

Ek sien Christina Storm is op jou musiekvideo van die sangeres Lianie. Is dit waar dat julle ’n verhouding het?
Ja, ons het een gehád …

Wat is jou maatstaf vir ’n verhouding?
Ek neem my ouers, Robbie en Estelle, as voorbeeld. Hulle was saam al deur moeilike tye en hulle is beste vriende.

Het die stof al rondom Bok en “De la Rey” gaan lê?
Nog nie. Die koerante maak Bok as geldgierig uit. Dit maak my vies. Toe hy by sy vorige agent was, kon niemand voorsien hy sou so groot word nie. Hy is vir sommige gigs vir R6 000 of R10 000 geboek. Dit was heel haalbaar, want dit was net hy, ’n kitaarspeler, ’n agtergrondsangeres en ’n backtrack. Toe Bok groter naam begin maak, het hy meer mense getrek. Die backtracks het weggeval en hy het ’n band bygekry (5 mense) wie se salarisse hy self moes betaal. Hy moes dit meer professioneel aanbied en duurder toerusting koop. Hy is ook landwyd bespreek en moes baie rondry. Soms het hy teen ’n verlies opgetree. Dis hoekom ons Louis van Wyk ingekry het. Hy was die enigste mens in die bedryf wat dié soort ding sou kon hanteer.

Slegte tydsberekening?
Ja, dit was. Louis is baie goed in wat hy doen, maar ek kan nie ’n kunstenaar by iemand hê wat self probleme het nie. Louis is nog nie skuldig bevind aan seksuele teistering nie, maar ’n agent moet byna onsigbaar wees. Ons hanteer nou self Bok se besprekings.

Bok het dus nie skatryk geword soos mense meen nie?
Natuurlik het hy op die ou einde geld gemaak, maar nie soveel soos wat mense dink nie. Maar die ander ding is … mag ons as kunstenaars nie ook geld maak as ons ons hele lewe hard werk om suksesvol te wees nie? Moet ons regtig ly vir ons kuns? 

Is daar nog iets te sê oor die politieke herrie rondom “De la Rey”?
Die groot probleem, dink ek, lê by die Afrikaner self. Die ou generasie liberale Afrikaner verstaan nie die patriotiese gevoel wat die lied by ’n jonger generasie skep nie. Nee, kom ek sê eerder hulle vrees dat dit nasionalisme is. Dis al meer as dertien jaar ná die demokratiese verkiesing en die jong Afrikaner voel verstoot. Hy staan op vir sy kultuur en probeer meer as ooit vantevore daaraan vashou. Dis ’n lied wat sê dat die Afrikaner ook trots kan wees. Dis nie ’n oproep tot oorlog nie.

Nou is De la Rey, die musiekblyspel ook op pad?
Ek, Deon Opperman en Johan Vorster werk aan ’n musiekblyspel oor die Anglo-Boereoorlog. Sy werktitel is voorlopig De la Rey. Dis bespreek vir die Staatsteater in Februarie, Maart en April aanstaande jaar.

Gaan jy ’n rol speel?
Ek is baie lus, maar as daar mense is wat beter kan sing, sal ek hulle kies. Ons skryf nogal moeilike musiek vir die ding. Ons wil Bok van Blerk beslis gebruik.

Naas jou platemaatskapy, het jy nog ander planne?
Ek het ’n minireeks vir M-Net geskryf, wat hopelik volgende jaar uitgesaai gaan word. Scrap gaan oor twee drywers van ’n insleepdiens wat aan die Oos-Rand in ’n huisie op die Pomona-plotte woon. Die eerste weergawe is 300 bladsye, maar daar is nog baie werk aan. Ek werk ook aan JOU TAAL! Media. Dis ’n webblad waar jy Afrikaanse musiek en luitone en liedjies per SMS op jou selfoon kan ontvang.

Jy het ’n indrukwekkende lang lys teaterrolle op jou CV, asook gasrolle in 7de Laan en Scandal. Wat nou van jou akteursloopbaan?
Ek konsentreer nou op musiek en storievertel. Ek geniet die werk agter die skerms. Ek wil steeds speel, maar ek is in die goeie posisie dat ek kan kies. Ek moes vanjaar nee sê vir 7de Laan, Scandal en Binnelanders. Dis jammer, want sepies bied jou die kans om jou vaardighede as akteur op te skerp. Ek het myself 10 jaar lank redelik dun gesmeer, maar het verlede jaar besluit om te fokus op die dinge wat rêrig vir my belangrik is. Dis die hoofrede hoekom ek uit Eden bedank het.

Wat was die ander redes?
Ek kan nie so goed sing soos die ander drie ouens nie! Ek dink ’n mens moet vasstel wat jou sterk en swak punte is. Ek het in my tyd by Eden als geleer van musiek en besef dis tyd om te gaan.

Jy is gedrewe. Het jy jou lewe al heroorweeg?
Toe ek in 2004 in ’n vriendin se huis in Weltevredenpark deur ’n rower oorval is, moes ek ná ’n geveg waarin hy my in die been gesteek het, al my oorredingsvermoë gebruik sodat hy my nie doodmaak nie. Ek het gedink ek gaan my doodbloei. Ons het ’n vreemde konneksie gemaak. Hy wou nie gehad het ek moet hom in die oë kyk nie,  maar ek het aan sy stem gehoor hy is vreesbevange. Hy het my in ’n stadium op my maag op die bed laat lê en ek het gewag vir die doodskoot, maar hy het ná drie uur gevlug. In daardie paar oomblikke wat jy dink jy gaan sterf, dink jy aan baie dinge gelyk. Ek het besef die lewe is kort en kosbaar.