Ons praat met

“Die engele waak oor my” – Mary-Anne Barlow

“Ek is gelukkig, die engele waak oor my,” sê Mary-Anne Barlow een oggend in ’n bistro in Melville. Sy verwys na ’n pragtige Londense oggend byna ’n jaar gelede toe sy en ’n jeugvriend sorgvry op ’n motorfiets deur Londen se strate gevleg het op pad na ’n Dido-konsert. ’n Motor het hulle getref en sy het met ’n gekraakte pelvis in die hospitaal beland. Met al die superkieme in hospitale is sy gewaarsku om liefs dieselfde aand huis toe te gaan. Haar huismaats was toevallig weg en sy was alleen met ’n baie seer lyf. Haar broer, Ross, het haar ma, Heather, op ’n vlug na Londen gesit om haar by te staan. “Dis die sterk familie-fondament waarop ek nog altyd kon staatmaak. En dis hoekom niks my sal onderkry nie,” sê sy.

Op 32 is Mary-Anne mooier as ooit. Haar perske-en-room vel blos in die oggendson in kontras met haar nuwe donker bos hare. Sy was vir ’n sabbatsjaar van 18 maande in Londen nadat sy haar rol as Coreen in Egoli gegroet het. Sy het gevoel sy het nodig om ’n ruk lank haar eie ding te doen. Aanvanklik sou sy ses maande grasie van die stel kry en daarna terugkeer. Maar ná die halfjaar het sy die vervaardigers uit Londen laat weet sy’t besluit om in Engeland te bly.

Met haar vertrek na Londen het koerante bespiegel of sy ooit gaan terugkeer na Egoli en of haar verhouding met medester Darren Kelfkens (Joe in Egoli) op die rotse is. Sy verpes sulke sensasie in koerante. “Ek het steeds ’n goeie verhouding met die vervaardigers van Egoli,” verduidelik sy. “Dis net dat ek so lank weggebly het dat ek nie meer kon terugkeer nie, al wou ek.” Sy was nooit van plan om permanent oorsee te gaan nie en sy en Darren was ook nooit uitmekaar nie. “Hy was bereid om vir my te wag en het vir my in Londen kom kuier. Ons het ’n wonderlike verhouding.”

Sy het vroeg verlede jaar teruggekeer na Suid-Afrika en nog nie stilgesit nie. Drie rolprente en ’n TV-reeks het kort op mekaar gevolg. ’n Warboeljaar waarin haar loopbaan herleef het. Hoewel sy baie lief was vir die blonde Coreen is dit vir haar lekker om vir eers dié beeld af te skud. Maar dit was nie doelbewus nie. Toe sy onlangs in Griekeland gaan kuier het, het sy lekker bruin gebrand en vir haarself te veel soos “’n bruingebrande Barbie” begin lyk. Toe besluit sy die blonde hare moet vir eers waai. “Van my vriende het al destyds met my vertrek uit Egoli opgemerk hoe goed die donker pruik waarmee Coreen gevlug het, my pas. Ek hou self baie van my donkerder hare.”

Dis ook hoe ons haar in Leon Schuster se Mama Jack sien, ’n ervaring waaroor sy nie uitgepraat kan raak nie. Mama Jack was beslis een van die hoogtepunte van verlede jaar. Die rol van Angela was eintlik een waarvoor sy glad nie gepas was nie. Haar agent het haar nogtans gevra om vir die oudisie te gaan en hulle was ewe verbaas toe sy vir ’n tweede oudisie teruggeroep is. Dié keer saam met Leon Schuster.

 

Dis vir my heerlik om elke keer in iemand anders se kop te klim

 

“Ek het Leon nooit voorheen ontmoet nie en het nie geweet wat om te verwag nie. Ons het ’n toneel geïmproviseer en dadelik gekliek.” Sy het ’n ongelooflike bewondering vir dié “perfeksionistiese, ernstige” man en meen hy verdien elke stukkie sukses wat hom toekom.

“Hy werk vrek hard daarvoor.” Een van die lekkerste dinge van haar rol was klein Angelique Kotze, wat haar dogter gespeel het. Hulle het twee maande lank ’n kleedkamer gedeel en het groot maats geword. Sy en Angelique se ma het ook vriende geword en hulle het saam met Angelique die winkels gefynkam. “Daai kind weet van inkopies doen!” lag sy. Mary-Anne is baie lief vir kinders en geniet Darren se vierjarige seuntjie, Oliver, uit ’n vorige huwelik vreeslik. Die vyf kinders van haar broer en suster is ook ’n deel van haar hart se punt.

Dit was te danke aan haar rol in die treffer-Schusterfliek dat Gray Hofmeyr haar laat kom het vir ’n oudisie vir Shado’s, wat in Januarie op SABC3 begin het. Daarin speel sy die rol van Jackie, ’n kroegmeisie met ’n groot geheim, wat sorg vir ’n skokonthulling in die reeks. Dit was ’n emosioneel uitmergelende rol en sy het sommige aande soos ’n uitgewaste lap gevoel. Gelukkig is die reeks in Johannesburg geskiet en kon sy saans by haar eie huis en by Darren ontspan.

Sy weet self nie hoe sy verlede jaar alles ingepak het nie, want kort voor Mama Jack het sy ook die rolprent Number 10 van Darrell Roodt voltooi. Hy het haar loopbaan glo lankal dopgehou en was eintlik op soek na ’n manlike spandokter vir dié rugbyfliek, wat na verwagting in April in teaters begin wys. Ná haar oudisie was die rol hare. “Dit was glad nie ’n slegte rol nie, want ek moes die rugbyspelers se seer spiere reg-dokter,” spot sy.

Sy is nou vir ewig ’n Roodt-aanhanger weens sy geesdrif en fantastiese geaardheid. Daarom was sy verheug toe hy haar later verlede jaar ook ’n rol in sy rolprent Prey aangebied het. Weer het hy eintlik ’n manlike veldwagter gesoek, en weer het hy besef Mary-Anne is eintlik die regte een vir die rol. Prey word later vanjaar uitgereik.

Dié gebore Zimbabwiër – haar ouers het hierheen geïmmigreer toe sy ses jaar oud was – en oudstudent van die Technikon Pretoria, erken sy leer nog elke dag iets nuuts van toneelspel. Sy sal 2005 onthou as die jaar waarin sy haar elke paar maande in ’n ander rol moes inleef. “Dis vir my heerlik om elke keer in iemand anders se kop in te klim,” sê sy. Of haar kop ooit Hollywood toe staan?  “Ek het my drome vir Hollywood verruil vir Darren. Hy is die wonderlikste ding in my lewe en word net beter met die ouderdom. Hy was voor ons verhouding my beste vriend en hy is dit steeds.” Hy leer haar deesdae gholf speel en sy is baie trots op die vordering wat sy maak.  “Darren sê ek is glad nie te vrot nie!”

Sy beken sy het ’n soort vrede in haar lewe gevind. Sy is tevrede met haarself. “Ek en my geslag vroue het nie die druk van die gemeenskap wat vroue in die 1980’s en 1990’s gehad het nie. Ons wil nie alles oorrompel en oorwin nie. Ons is tevrede en gemaklik met onsself.” Haar lewe het ’n paar kinkels gemaak vandat sy saam met Coreen onder ’n stofwolk uit Egoli gevlug het. (Coreen is glo nou in ’n inrigting vir siel-siekes nadat haar bose bedrywighede oopgevlek is.)

Maar sy is bly sy is terug in Suid-Afrika by Darren en sy is bly vir die vernuwende groei in haar loopbaan. Sy weet nie wat die toekoms alles inhou nie, maar vir eers wil sy net Mary-Anne wees. “Ek moet myself gereeld as ’n nuwe karakter uitbeeld, maar ekself bly dieselfde. Ek loop ’n paadjie wat ek danksy my sterk fondament reeds lankal uitgekies het.”

5 dinge wat jy nie van Mary-Anne geweet het nie

1. Sy kleur haar hare vandat sy ’n tiener is. Sy hou van eksperimenteer!

2. Sy is in haar finale studiejaar aan die Technikon Pretoria raakgesien – sy was aanbieder van Electric Workshop op SABC1.

3. Sy sou ná skool eers in Londen gaan studeer het, maar het dit laat vaar vir ’n groot liefde, met wie sy wou trou.

4. Sy hou daarvan om jare lange vriendskappe te sluit.

5. Sy hou daarvan om kinders op te pas.