sr0907michelle
Ons praat met

Michélle van Breda: Die Gesig van SARIE

Sy floreer op adrenalien en hoë hakke. Party dae moet jy haar as ’t ware voorlê en vang om haar te laat stilsit. Want Michélle van Breda, SARIE-redakteur, is ’n gedurig-aan-diegang- joernalis wat skynbaar nie end het nie.

Sy loop nie, sy draf. As jy haar wil beskryf, hoef jy nie veel verder te soek as woorde soos energie, entoesiasme en passie nie. Haar idee van ’n stil, ontspanne Saterdagoggend is om in  Exclusive Books te gaan sit met ’n koppie koffie en deur al wat ’n internasionale tydskrif is te blaai. Haar kantoor in Kaapstad – sy’t een in Johannesburg ook – lê gestapel van die tydskrifte, maklik meer as in Exclusive Books self. Jy kan maar sê sy leef tydskrifte.

Sy leef SARIE. Sy’t skaars in 2001 redakteur geword toe wen SARIE drie belangrike pryse: Tydskrif van die Jaar, Vrouetydskrif van die Jaar, en sy self Redakteur van die Jaar (uit 80 eweknieë landwyd). Sedertdien reën dit pryse – meer as 50 sedert 2001 (dis nie meer snaaks nie). Pas was daar nóg ’n goue een as Beste Vrouetydskrif, die derde agtereenvolgende jaar (uit 91 tydskrifte).

In 2006 was dit die Rapport/City Press Prestige-vroueprys. Verlede jaar is sy bekroon met die gesogte Piet Cillié-prys vir Joernalistieke Uitnemendheid, die man by wie sy honneurs geloop het op Stellenbosch en wat die joernalistiek-saadjie in haar kop geplant het (sy wou eers lugwaardin word om die wêreld te sien, maar eintlik meer oor die skoene).

Vandag is sy die gesig van SARIE. Toegegee, uiterlik was dit seker nie moeilik nie – kyk maar na die foto regs, daardie skoene! Boonop was vorige redakteurs soos Bakkies Rossouw en Izak de Villiers nie juis oil paintings nie. Tog . . . Reeds in 1997 verskyn sy in die klassieke kalenderreeks van die fotograaf David Dodds, Portraits of SA Women, en in 2003 was sy op die ontwerper Simon Rademan se lys van top-10 besgekledes. Sodat lesers (manlik) al astrant vir haar gesê het: “Nee, jy’s te klein en te mooi om redakteur van SARIE te wees.”

Daar’s een ding waaroor sy vandag half skaam is, en sy wil nie eintlik daaroor praat nie . . . op Stellenbosch was sy joolprinses. En twee keer ’n Mej. op universiteit. Eers Mej. Helderberg, en die ander een kan sy nie eens meer onthou nie. “Hierdie donkerkop is meer bekend vir haar intellek as haar looks, maar glo my, sy staan nie terug vir beide nie,” staan dit op ’n South Africa’s Beautiful People-webwerf, met die kommentaar: “Sy’s seker ’n Kroonstad girl? Kan julle dit nou glo?” en die antwoord: “Mooiste girl ooit. Donners sexy!”

Menere, Menere, moenie dat voorkoms en hoogte-van-die-grond-af julle mislei nie. Sy kan goed beneuk wees. En maklik lag. Trouens, soms klink dit of daarlag-groepe by SARIE aan die werk is – en Michélle dikwels die voorbok (ook tydens hierdie onderhoud). ’n Sorgelose, laggende kindertyd in die Overberg (Caledon, Meneer, nie Kroonstad nie), redakteur van die Hoërskool Overberg se skoolkoerant, leerlingraad en als. Maar nie sorgeloos nie, nie sorgeloos nie.

Op ’n dag het sy haarself geplaas in die rol van pa in die huis vir haar ma, jonger suster en broer. Sy was agt jaar oud. Op skool, het sy gevoel, het hulle haar fluisterend aangekyk. Of eenvoudig weggekyk.

Die hele dorp het geweet . . .

SARIE is 60. Wat maak die tydskrif so gewild? Ek dink aan die leser wat gesê het sy’s al jare lid van SARIE, bedoelende intekenaar.
Presies dít. Daar’s ’n ongelooflike sterk emosionele band tussen SARIE en haar lesers. En omdat Afrikaanssprekende vroue so uitgesproke is, laat hoor hulle van hulle, deel hulle hul emosies. So ons weet altyd hoe hulle oor dinge voel. Dit het als te make met die dinamika tussen tydskrif en leser. Vrouetydskrifte is glans, aspirasie, drome.

Wat nog?
Passie! Dis meer as net ’n liefde vir tydskrifte. Dis ALLES van die tydskrif – die kleure, die glans, die woorde.

Jy was SARIE se skoonheidsredakteur, ook vroueredakteur by Beeld. Wat is skoonheid vir jou?
Skoonheid vandag maak verbysterende spronge. Dit raak-raak aan die mediese veld, daar ís nou produkte wat wérklik ’n verskil maak. Dis lank nie meer net potjies hoop nie.

Maar julle gaan in elk geval oud word.
Nee, wag! Wat’s oud? Oud sit in jou kop, dit het niks met jare te doen nie. Ek haat dit om in ’n ouderdomskassie geplaas te word. Vroue lyk vandag langer beter omdat ons jonk dink. Skoonheid is in elk geval ’n weerspieëling van hoe jy oor jouself en jou wêreld voel. Elkeen van ons is ’n unieke brand.

Ek hou daarvan. As vroue aan hulself dink as ’n handelsnaam gaan dit sekerlik ’n paar selfbeeldprobleme oplos?
Elke handelsnaam het sy USP’s, unique selling points. Ons moet werk met ons beste eienskappe. Ons is so geneig om te konsentreer op swakker eienskappe.

Jy glo nie meer aan skoonheidswedstryde nie?
Ek hét al gesê ek vind dit vernederend dat vroue op hul uiterlike beoordeel word, maar ek het “sagter” geword. Ek dink eintlik hierdie vroue is baie braaf – om mense uit te nooi om jou hoofsaaklik op jou uiterlike te beoordeel.

Die klem op uiterlike . . . is ons by SARIE nie maar ook skuldig daaraan nie, want mooi verkoop?
Kyk, mense hóú van mooi dinge, of dit nou ’n gesig,’n boek, ’n blom is. Navorsers glo mos ons het ’n spirituele geen. Ek glo vroue het ’n móói geen. Ons word aangetrek deur iets moois. Dis hoekom ons so maklik deur mooi verpakking verlei word. En wat is tog mooier as ’n mooi glimlag? Vir my was interessant nog altyd die mooiste.

Hoekom is vroue so gepla met gewig en dieet?
Ek moet sê, oral waar ek reis, sien ek dieselfde probleem. Ek het nog nooit sulke maer vroue gesien soos in New York nie. Êrens word daardie saadjie geplant: mooi + maer = suksesvol. En ek weet nie hoe ons dit ooit gaan verander nie. Toe ek ’n ruk gelede gewig verloor het . . . jy lyk nie net beter in jou klere nie, jy vóél beter, jy’t skielik meer selfvertroue, sien kans vir die wêreld. Dís die vangplek.

Oukei, wat is die geheim van ’n suksesvolle dieet?
Om kos te ken. Vir lank was koolhidrate en proteïene vir my als dieselfde! Jy moet wéét wat jy in jou mond sit. Jy moet beheer neem van wat jy eet. En dan: Om jouself darem nie heeltemal te ontneem van die lekker nie. Ek is ontsettend lief vir soetgoed. Ek sal soggens opstaan en ’n stuk koek kan eet, soos niks! Ek kan ’n blik karamel opeet met ’n lepel sonder om asem te haal. So, my filosofie is: Wanneer jy lus is daarvoor, eet ’n hele groot blok sjokolade op, kry dit uit jou sisteem, en pak dan weer jou eetplan aan.

Jy sê daar’s nie rokke in jou kas nie? Tog is jy vroulik en stylvol. Daar is, maar die meeste hang nog met hul etikette aan. Was jy ’n tomboy?
Nee, nee, nee. Ek het in my ma se hoëhakke rondgeloop toe ek vier was, die hare plat gejel met water, en bloedrooi lipstiffie. Ek dink vroulikheid is liggaamstaal. Dis hoe jy jouself dra, selfs jou lewensuitkyk. En jy weet ek is mal oor skoene!

Solank dit nie plat hakke het nie.
Ek het ’n paar Crocs – wat ek nou nie eintlik wil vertel nie – maar dié dra ek as ek langs die see by Paternoster stap, een keer ’n jaar. Daarna word hulle baie, baie diep weggebêre.

Besluit jy die vorige aand wat jy die volgende dag gaan aantrek, of staan jy voor jou kas en sê mmm . . . ?
Ek is ’n tipiese vrou, ek maak die klerekas oop en ek dink o, hel, ek . . . Het niks om aan te trek nie? Net mooi niks! Dan begin ek deur my hangkas blaai tot ek sien daar’s nou regtig nie meer tyd nie, dan sal ek ’n langbroek gryp, of my gunsteling,’n paar jeans, dan nog iets in swart of grys en ’n baadjie. Dis ’n gemaksding, dis ’n broek plus ’n baadjie. Dan sit ek die hoëhakskoene en die juweliersware by. Ek trek soos jy aan, kyk, daar’s min verskil! Behalwe nou die skoene en die jewellery.

Ja-ja. En bykomstighede, grawe jy in bokse?
O, ek grawe in bokse, dis nou sommer die gemorsjuweliersware. Dan het ek ’n paar stukke wat ’n bietjie meer werd is, in sakkies. Ook lang stringe krale en goeters wat aan hangers in my kas hang.

As ek na jou grimering kyk, glo jy minder is meer?
Dit moet darem nog lyk of dit my eie vel is. Die waardevolste grimeerwenk is: Bring jou beste gelaatstrek na vore. Ek glo dis my oë, so ek konsentreer daarop. En dan begin ek met lip ice en so halfpad deur die dag sit ek lipstiffie aan.Ek het ’n hele paar lipstiffies in my handsak en sit sommer elke uur ’n ander kleur aan!

Gaan jy ooit by die huis uit sonder grimering?
Nooit! My ma het my geleer jy gaan nie kafee toe in ’n sweetpak of sonder minstens ’n bietjie lipstiffie nie.

En jy het ’n skoonheidsroetine?
O, ja, ek glo in reinig, verfris, bevog. En dan beskerming teen die son. Dis skokkend as jy hoor tot 80% van ons plooie is weens die son!

Sal jy Botox?
Wie weet? Ek wil nee sê, maar êrens is daar ’n stemmetjie wat sê dalk. Ek is ontsettend verras oor hoeveel vroue dit doen. Ek dink ek sal nogals sukkel om uiteindelik by daardie punt te kom.

Jy’s nie ’n groot tradisionele feminis nie. Hoe sien jy die rol van mans en vroue?
Basies glo ek aan 50/50. Ek glo regtig mans en vroue is gelyk.’n Huwelik is ’n  vennootskap.’n Verhouding is gee en neem. Maar ek moet eerlik wees, as ek so kyk na wat om my aangaan, sien ek hoe party kinders ontwrig word waar die man én vrou albei in volle loopbane staan. Ek besef                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                         ouers het selde ’n keuse, maar ek kry vandag se kinders jammer. Ek kry ouers ook jammer. Nee, ek’s vir seker nie ’n feminis nie, maar ek glo in regverdigheid en ek haat male bashing. Maar vroue verdien stééds minder in die werkplek. Waarom? Dis belaglik. En natuurlik is die mishandeling van vroue en kinders in hierdie land ’n absolute tragedie.’n Klad op ons nasie.

Het jy ’n humeur?
Ja. Wat ek al baie beter hanteer as voorheen.

Wat is dit wat jou kwaad maak?
Onregverdigheid. Onbetroubaarheid. Snobisme. Mense wat ’n kans vat tot nadeel van ander.

Wat doen jy in die nag as jy nie kan slaap nie?
Lees, kyk TV, meestal nuus en dokumentêre programme, luister geselsradio – waaroor ek mal is. Ek was nog nooit gemaak vir slaap nie. So 5 ure ’n nag is genoeg vir my.

SARIE se kosblaaie en SARIE KOS lyk so goed. Ironies dat jy self nie kan kosmaak nie, nè? Jy eet ook sleg.
Wat bedoel jy ek eet ook sleg? Jy eet nie gesond nie. Jy eet sommer so in die hardloop. Ek weet. In die week eet ek sleg; eintlik is dit net plein ’n slegte gewoonte.Toe ek getroud is, het ek ’n poging aangewend, maar Dewald het gesien my kosmakery gaan nie werk nie . . . Hy hou van kook. So hy kook, ek eet. Dis die 50/50 waarvan ek gepraat het!

Ek het al vir jou gesê jy maak my moeg met jou rondhardlopery. Ontspan jy ooit?
Ek lees en ek sal . . . e . . . Ek dink dis maar net my persoonlikheid.

Boonop pendel jy tussen Kaapstad en Johannesburg en sien jou man naweke. Werk, werk, werk. Dink jy nie jy lewe ongebalanseerd nie?
Ja, dit pla my. Ek praat dikwels by Vrouedae oor slow living en dan preek ek sommer vir myself ook. Maar dis seker wat gebeur as jou werk jou passie is.

Die pendelhuwelik-ding?
Baie, baie opofferings.Toe ek as redakteur aangestel is, het Dewald (wat self ’n joernalis was) en vennote ’n sekerheidskonsultant-besigheid begin. Ons het albei ons hart en siel in ons werk ingegooi. Wanneer ons wel bymekaar is, doen ons goed saam en dan praat ons onophoudelik. Ons lag baie. Dis fantasties!

Jy’s sekerlik een van min tydskrifredakteurs wat bewonderaarspos kry. Kom dit meestal van mans?
Mans en vroue.

Waaroor skryf hulle?
Van my hare tot my redakteursbriewe. Mense is verras as hulle agterkom ek kan lekker lag. Een van die grootste komplimente is as hulle sê ons was versigtig om met jou te kom praat, maar toe’s dit asof ons met ’n vriendin gesels.

Wat is lesers se ding met jou hare? By kunstefeeste vat hulle selfs daaraan.
Ek weet nie! Wanneer mense oor my hare praat, sê ek dadelik ek het soos my ma en pa vroeg grys begin word.Ek het al Dewald se T-hemde gevlek om my hare te kleur (L’Oréal Casting Crème Gloss in Dark Chocolate, R114,95), nou roep ek professionele hulp in.

Het jy ooit ’n slegte haredag? Jaaa, absoluut! My hare doen net wat hulle wil. Die geheim is: My hare is nou geknip soos my hare w il lê.

Ek vermoed ook lesers wonder hoe oud jy is. Gaan ons sê?
Nee, ons gaan nie. Irrelevant. Soos SARIE is ek forever 30!

Ander stokperdjies behalwe SARIE en skoene?
My suster, Martine (haar seun, Nicolas, is soos my eie kind), is ’n pottebakker en sy gee saans klas. Sy probeer my só oorreed om te kom, maar ai . . . die tyd. En ek wíl leer kook, al lag jy daarvoor. Sommer in Marokko waar niemand my ken nie. Ek gaan nog al dié goed doen . . .

Wat het jy van vroue geleer by SARIE?
Wat ek altyd geweet het, dat hulle ongelooflike deursettingsvermoë het. Jy kry ’n vrou nie sommer onder nie.

Ek het die indruk gekry jou kinderdae op Caledon was idillies. Maar dit was nie. Jy was die enigste kind in die klas met geskeide ouers. Ná die egskeiding het jy geglo jy moet die rol van pa in die huis oorneem – jy’t selfs op jou pa se stoel aan tafel gesit.
Dit was vir my ver-skrik-lik. Egskeiding bly ’n swaar ding. Daar is nie eintlik oor gepraat nie. Dit het my anders laat voel. Dit was ’n baie alleen-gevoel: Ons gesin teen die wêreld. Finansieel het ons swaargekry. My pa het iemand anders ontmoet. Hy’t uitgestap. Ons het hom vir lank nie gesien nie. Daarna sporadies. Hy is in 1994 dood aan longkanker. Ons was by sy begrafnis, ook my ma.

Die egskeiding. Toe, later, 30 Oktober 1996 . . .
Ek was in SARIE se Johannesburg-kantoor en ek het die aand ’n geleentheid vir SARIE bygewoon. My selfoon was af.Toe ek later die aand in my motor klim, dit was al donker, sien ek daar’s iets soos 15 missed calls.Toe weet ek daar’s fout. Net gedink ek gaan nie nou bel nie, ek moet kalm bly en huis toe ry.Toe die garagedeur oopgaan, staan Dewald daar. Hy sê vir my François, my broer, is geskiet. Hy was 32. Toe sê ek ons moet nóú gaan, ons moet Kaap toe vlieg om te help. Hy sê nee, François is dood.Ek kon nie, ek kón nie verstaan wat Dewald vir my sê  nie! Ek kon verstaan dat François geskiet is, ek kon nie verstaan dat hy nie net gewond was en gesond sou word nie. Ek was van my kop af – ek het begin bel. Iemand moes net sê dis nie waar nie, ons gaan dit regmaak.

Ek het my vriend Tim du Plessis (nou redakteur van Beeld) gebel en gesê: Hoe nou met ons nuwe SA? Hoe nou met ons reënboognasie? François is doodgeskiet by die kragstasie-torings op die Kaapse lughawepad. Daardie torings is vir my twee duiwels wat daar staan. En elke week of so moet ek by hulle verby, lughawe toe. François het in die spervuur tussen twee strydende taxigroepe beland en is deur die hart geskiet. Dit was ’n snikhete dag. Iets soos 32 skote is oor die snelweg geskiet. Daar was ’n dokter wat spesialiseer in borswonde, kan jy dit glo, en hy’t gesien François se rooi bakkie met sy hond, Matt, agterop het skielik krag begin verloor. Hulle het François uitgehaal en die dokter het sy borsbeen met ’n knipmes oopgesny om te kyk of hy iets kon doen . . . Die skuldiges is nog nooit vasgetrek nie. Ek glo nie die polisie het ooit die wil gehad nie.

Jou ma?
Ons het eers gedink sy’t depressie. Sy het begin wegkwyn. Toe diagnoseer hulle ’n vorm van Alzheimers, wat dikwels aangebring word deur skok. Sy’t net minder en minder gepraat. Die laaste vyf jaar van haar lewe het sy byna glad nie meer gepraat nie. Sy’t net eendag uit die bloute vir my gevra: “Wanneer kom François huis toe?” Sy’s in 2004 dood, ek glo verlos van haar hartseer. Ek mis haar ontsettend.

Jou ma se reaksie toe jy haar vra hoekom jou broer?hoekom haar seun? was aangrypend. “As dit nie my seun was nie, wie se seun dan . . . ?” Was dit vir jou troos?
Jy weet, ek kan nie onthou wat ek in daardie jaar by SARIE gedoen het nie. Ek kan nie ’n steek werk onthou nie. Alles was grys. Later jare het ek weer haar woorde onthou, en ek het gedink, ja . . . Dit het berusting gebring, maar nie troos nie. Niks bring troos nie.

Jy’s tog optimisties oor SA. Hoe kan jy wees, in ’n land wat jou broer se lewe gekos het?
Ek wíl optimisties wees. Dis ’n besluit wat ek geneem het. Om eerder die goed as die sleg raak te sien. Ek glo in die goedheid van mense, van Suid-Afrikaners. Ek glo daar is sterkte in diversiteit, ek glo dit regtig.

Maar hoe?
Daar ís tye dat ek minder hoopvol is, maar weet jy, ek het iemand geken wie se broer ook doodgeskiet is en wat geen hoop meer gehad het nie, wat alles deur ’n negatiewe bril gesien het.Om met soveel haat en negatiwiteit en hopeloosheid te lewe is nie ’n lewe nie. Ek gaan nie toelaat dat dit gebeur nie.

* * * SARIE se slagspreuk is “My inspirasie”. Wat inspireer jóú?
Eerlikheid, dis nou wyd gesien. In wat ons hier by SARIE doen. Ek sê mos altyd daar’s ’n bietjie van ons elkeen se siel in hierdie tydskrif. Eerlikheid in kos. Eerlike woorde.’n Eerlike geur, waar jy die jasmyn en die roos kan ruik. En . . .en . . .’n mooi paar skoene, man!

  • Hetta Liebenberg

    Aie hoe lekker sit en huil ek oor jou hartseer maar bewonder jou vir jou innerlike sterkte. Gaan so voort om die wereld beter te maak. Snaaks dat ons altyd krag kry om aan te gaan. As die een deur toemaak maak n ander een oop. Sterkte

  • Suzette Talbot

    Hi Michelle

    Kan jy asseblief vir my boeke wat jou al deur die jare ge-motiveer en ge- inspireer het se name en skrywers deurgee!

    Groot asseblief

    Sarie Groete

  • http://rxvnvkwemquz.com/ wukxnltx

    JT10As gvfugiksvscf, [url=http://qiehbiteiazs.com/]qiehbiteiazs[/url], [link=http://fbbrqvmxplyh.com/]fbbrqvmxplyh[/link], http://cxiqtdydgveb.com/

  • http://aqiatfxaeakt.com/ imyade

    2oMcLl vwkmagqchqga, [url=http://tflqgbfiywkx.com/]tflqgbfiywkx[/url], [link=http://juezicbnbbhx.com/]juezicbnbbhx[/link], http://ecieswqyiuow.com/

  • Tania

    Wow, jy is ‘n ongelooflike vrou. Ek "love" dit om jou brief te lees in die Sarie uitgawes. Dankie vir jou harde werk

  • http://bqeqlsoiejrv.com/ lvxjuud

    NkoJH9 lasvjrwehizb, [url=http://ivhwlcebgsuu.com/]ivhwlcebgsuu[/url], [link=http://wkqaoayzxmlx.com/]wkqaoayzxmlx[/link], http://wzicxneccvaz.com/

  • Roosmarie Cornelius

    Ons wil graag jou ring van nader bekyk – Maart uitgawa, ring op trouvinger. Asseblief