Ons praat met

Die ‘grotvrou’, Karen Wessels

Dis elke keer soos om ‘n lucky packet oop te maak – jy weet nooit wat om te verwag nie, sê aktrise Karen Wessels oor die gewilde eenvrou-komedie Groet die Grotvrou waarin sy vanjaar by die KKNK te sien is. Kaartjies vlieg so vinnig dat ‘n ekstra vertoning vir Donderdag 9 April (om eenuur) gereël is. Suzette Truter het haar uit haar grot gelok om te gesels.

 

Wat laat die mense die lekkerste lag in Grotvrou?
Vir elkeen is dit iets anders waarmee hy of sy kan identifiseer. Julle lag vir mekaar, maar jy lag ook maar lekker vir jouself. Daar is baie karikature en stereotipes in die stuk, dis lekker tong in die kies, en ook maar baie veralgemening. Ek sien baie van myself in die hoofkarakter Sonja Vermaak, maar ek sien ook niks van myself in haar nie! Die Grotvrou is ‘n fantastiese brand wat geskep is – Hannes Müller het reeds met die Grotman die fondament vir sukses gelê.

 

Hoe reageer gehore?
Ek kry partykeer mans wat nogal verbaal raak, wat hier uit die gehoor ‘n ding roep om my dalk te probeer omkrap. Vir baie Afrikanermans of -vroue is dit ‘n nuutjie om ‘n vrou op die verhoog te sien wat meer risque woorde gebruik. Dit maak dit juis ‘n uitdaging. Nou en dan is daar dalk ‘n oom wat bietjie brommerig is, maar uiteindelik is hy die een wat dikwels ná die vertoning kom sê dit was mooi. Die lag is baie, en party vroue doen dit so hard dat hul mans hulle snaaks aankyk … Dis wonderlik, jy kan mense se verhouding van die verhoog af lees. Uiteindelik is die boodskap: Kyk na die persoon langs jou en onthou op wie jy verlief geraak het, hoekom jy die stap geneem het. Ons het almal ons swakhede. Maar ons is lief vir mekaar, ten spyte van daai verskille, of juis as gevolg daarvan!

 

Het mense al uitgestap?
Nie waarvan ek weet nie – ek is al tien, elf jaar in die bedryf, en ek was al in stukke waar mense in hordes uitgestap het. Mense geniet dit, dis nie ‘n vertoning om die manne sleg te sê nie. Dis pure ontspanning, oor die gewoontetjies van mans en vroue, wat ons dink ons nie het nie, maar wel het.

 

Waar pas jou eie man in?
My man, Johan van Schalkwyk, is my grootste fan. Hy’s baie ondersteunend en baie meer metroseksueel as wat Frikkie Badenhorst, my verloofde in Grotvrou, ooit sal kan wees – dié is so ‘n stereotipiese mannetjie. Maar ek moet sê, ek raak al meer verlief op Frikkie soos ek hom leer ken …

 

Gaan die grotvrou en grotman mekaar ooit op die verhoog aandurf?
Dit kan net ‘n interessante debat afgee. Mmm, hy sal met sy spies staan en ek met my vadoek … maar ek dink nie die produksiespan het enige sulke planne nie.

 

Wat doen jy nog by die fees?
Ek is ‘n lid van Cutt Glas, ons tree ook daar op. Verder wil ek vanjaar ‘n slag na my vriende se produksies gaan kyk – gewoonlik is ek pal op die verhoog. Ek het al ‘n lys van als wat ek wil doen. Amper soos daardie dames wat hul lyste maak en letterlik in groepe van tien kom kyk na die Grotvrou, en hul gate uit geniet. Dis nogal inspirerend!

 

*Groet die grotvrou speel ook op die volgende dae by die KKNK: 8 Apr -20:00; 9 Apr – 10:00; 10 Apr – 14:00; 11 Apr – 18:00