mei07praatmet1a
Ons praat met

Alvin Bruinders: “Die Here is my ‘business partner’”

Vyf jaar gelede was Alvin Bruinders ’n besige man wat jy net nou en dan in sy dolle vaart sou kon laat stilstaan – en net vir ’n paar minute. Want Alvin was oral. Akteur, sanger, seremoniemeester, komediant … In ’n stadium het hy tot 30 vertonings per maand gelewer, hy was in TV-produksies soos Gautengeleng, Vetkoekpaleis en Stoute Boude, asook die aanbieder van Pitstop.

Boonop het hy in alle erns begin om sy promosie-maatskappy op te bou. Dit was asof sy fokus op dinge en plekke was, en beslis nie op menseverhoudinge nie. “Ek het net rondgejaag. My agent sou my byvoorbeeld bel om dringend ’n kontrak in Kempton Park te kom teken. Dan het ek ná my vertoning in Klerksdorp deurgery soontoe, hom twee-uur in die nag opgeklop, dit geteken, nog ’n storie geskryf vir die volgende dag en agtuur die oggend was ek weer op pad na ’n show in Bloemfontein. “Een groot geskarrel …en ek was nooit regtig ‘teenwoordig’ in my eie lewe nie.”

Maar baie kan gebeur om jou om te draai en anders na die wêreld, jouself en die mense om jou te laat kyk. Tyd het ’n manier om ’n mens te temper, sou jy gewillig wees. Alvin was in 2002 in ’n ernstige motorongeluk. Hy moes talle operasies ondergaan, onder meer is staalpenne in sy arm geplaas om die gebruik van een van sy hande te behou. (Die dag voor hierdie onderhoud het die hof gelas dat hy R240 000 aan derdeparty-vergoeding ontvang). Daarna was hy die slagoffer van ’n rooftog. Al sy musiek- en klanktoerusting is gesteel – meer as R160 000 se skade. En dit was nie verseker nie.

Nog iets het gebeur: Hy het opnuut sy verbond met God bevestig. Én Alvin het getrou, en hy is dolgelukkig met die vrou van sy drome, sy  “lewensmaat vir altyd”. Anrika laat hom dinge anders sien, sê hy. En tog kyk hulle op dieselfde manier na die lewe. Dit voel vir hom asof hulle een mens is. By die foto-sessie sit ons eenkant en murmureer oor die misdaadsituasie in die land, hy het immers self al meer as een keer deurgeloop. “Ek dink nie die minister se voorstel dat almal vir ’n jaar militêre opleiding moet doen, sal werk nie.

Te duur … ek dink eerder dat ons die bestaande weermag meer binne die landsgrense kan aanwend. Nie noodwendig in uniform nie, dit sal net weer herinnerings oproep van daardie tye toe die townships deur Casspirs versper was. Maar ek wil net graag veilig voel in my eie huis – veral noudat ek getroud is.” Hoewel Alvin sy dolle program afgeskaal het, ruim hy steeds tyd in vir toneel- en TV-optredes.
“Ek doen nou net een TV-produksie per jaar.” Hy is van April op SABC2 in P.G. du Plessis se pennevrug Andries Plak te sien.

Waaroor gaan Andries Plak?
In ’n mate is dit soos Vetkoekpaleis – dit handel oor aktuele kwessies. Dis ’n komedie-drama wat die vele fasette van ons samelewing bekyk. Dit belig ons vreemdhede, maar op so ’n wyse dat jy ’n bietjie vir jouself moet lag. Elke karakter is ’n effense karikatuur van stereotipes in Suid-Afrika, maar met ’n kinkel.

Andries (Richard van der Westhuizen) is’n wit ou wat sy plaas verloor het. Hy is goed kwaad vir die regering. Hy word dan ’n plakker op ’n skoenlapper-reservaat, reg agter ’n Engelse tannie se huis, en sy soek hom nie daar nie. Die burgemeester is die nie-rassistiese leier van die dorp wat graag die tannie wil help, maar ook nie die plakker wil verwyder nie. Ek speel die rol van Sandy Hall, ’n konkelaar van die eerste water, en ’n swendelaar en afperser – ’n man met ’n plan. Hy doen hom voor as ’n tussenganger tussen Andries Plak en die benoude burgemeester, en voor jy “reënboognasie” kan sê, is hy die burgemeester se vertroueling. Kompleet met ’n kar, petrolkaart en ’n selfoon.

GUNSTELINGE

KOS: Gunsteling-liefdeskos: soesji saam met my vrou. Vir myself: eiers
DRANK: Ek drink nie alkohol nie. Wel baie dry lemon!
MUSIEK: Dis in fases. Tans is dit ou geeste soos Aretha Franklin en Randy Crawford.
AKTEUR: Anthony Hopkins. Sukkel om aan ’n goeie aktrise te dink.
FLIEK: Fahrenheit 9/11 en die hele Rocky-reeks
BOEK: Donald Trump – The art of the deal
TROETELDIER: My twee Amerikaanse veghonde, Shira en Mafasa
PLEK: My huis

 

Hoe is dit om met PG se teks te werk?
Og, ek het van voor af respek vir die man! Hy kan darem met woorde werk, hoor. Maar wee die arme kêrel wat daai woorde moet instudeer – dis met ’n spesifieke ritme geskryf, en jy kan nie daaraan wil timmer nie. Koos Roets is die regisseur en hy is ongelooflik. Hy haal op een of ander manier net die beste uit jou.

Wat is jy eerste – akteur of sakeman?
Beslis ’n sakeman. Dán ’n akteur en vermaaklikheidster. Ek moet sê, ’n bekende gesig help baie in die sakewêreld. Daar is eenvoudig net die persepsie dat jy OK is. Betroubaar. In Suid-Afrika moet jy televisie gebruik as bemarkingskanaal – vir jouself ook. Ons bedryf is nie so sterk soos Hollywood waar jy werklik ’n reuselewe uit filmwerk kan maak nie. So, televisie is in ’n mate die ideale kanaal om eerste “gesien” te word. Wat jy daarna met jou sigbaarheid doen, is jou eie verantwoordelikheid. Maar ek wil meer tyd aan my vrou en my besigheid bestee.

Vertel meer van jou promosie-maatskappy.
Die maatskappy se naam is Virgo Promotions (my sterreteken). Ons fokus meestal op nywerheidsteater. Dit het destyds met al my optredes begin. Vir elkeen moes ons klank huur, en dit kan’n duur storie raak.Toe besluit ek om self in klank te belê. Ek het dit later ook begin uitverhuur. Deesdae het ek ook drie buite-verhoë, klankskerms en goeie beligting. Tans werk ons by die myne vir Anglo American en De Beers.

My pa, Simon, skryf die tekste. Ek en hy voer dit dan op saam met twee ander akteurs – wat albei Sotho en Xhosa magtig is. Die huidige produksie handel oor veiligheid en gevare in die werkomgewing. Dit is die eenvoudigste dinge, soos om maskers te dra om die longe teen stof te beskerm en rede hoekom oorpluisies belangrik is. Dit help die maatskappy én die werkers. Dié tipe opvoeding werk baie beter as ’n klaskamer-situasie. Ons gebruik drama en humor om die boodskap van veiligheid oor te dra, en die resultate is sigbaar.

Vertel bietjie van jou grootwordjare?
Ek is op George gebore. In 1980 is ons na Secunda – my pa het vir Sasol gewerk, en ons het daardie nywerheidsdorpe letterlik voor ons sien opskiet. My pa het skakelwerk tussen die werkers en die maatskappy gedoen – hy moes onder meer toesien dat kulturele bedrywighede onder die verskillende gemeenskappe gevestig word. In elke plek waar ons gekom het, het my pa heel eerste ’n toneelgroep gestig. Ek sal nooit vergeet nie … Elke week was ons sitkamer óf ’n garage óf ’n kroeg óf ’n hospitaalsaal, na gelang van die stuk wat die spelers instudeer.

En toe, in die tagtigs, het hy sy eerste hoofrol gekry in ’n stuk as ’n bruin speler – in Jans Rautenbach se Broer Matie. Hy het dadelik by Sasol bedank en dit gaan doen! Die stuk is later ook verfilm. My pa het omtrent drie keer in sy lewe sy werk gelos om toneel te speel, en dan maar weer aansoek gaan doen sodra die stuk verby was.

Het dit jou honger gemaak vir die verhoog?
Ja, beslis. Maar ek het ook gesien dat dit ’n groot tol kan eis van jou familie – veral as die inkomste nie stabiel en gereeld is nie. Ek vermoed dít was my dryfveer in daardie jare toe ek so rondgejaag het … Ek wou so gou as moontlik en soveel as moontlik inryg om seker te maak dat ek nie later jare moet rondval vir ’n inkomste en rigting nie. Ek het geweet jy moet geleenthede skep, en ek het gesóék daarna. Ek het egter besef dat jy dit te genadeloos kan aanpak, te hard kan hardloop vir daardie einddoel … En dan gaan kosbare dinge verlore. Ek is nou op ’n baie, baie lekker plek.

Jy is onlangs met Anrika getroud. Hoe was die troue?

Man, dit was ’n fees! Dit was een lang, familie- en vrienderyke fees. Blommemeisies, bruidegompoue, tafels en tafels vol blomme en kos, ’n band … dit was vir my soos ’n droom.

En die vrou?
Kyk, sy is nou met een woord wonderlik. Ons het binne ’n jaar en agt maande ontmoet, verlief geraak, lief geraak en getrou. Sy is ’n verlengstuk van myself – en ek glo ek van haar ook. Anrika is 23 en ek 32, maar dit voel soms vir my of dit eerder andersom is. Sy is ’n groot versorger – ’n caretaker. Ons verstaan albei die bedryf – en mekaar. Ons troubelofte, ons verbond aan mekaar, is om positief te leef. Ons is twee mense en wil mekaar beskerm. En sy het ons huis so mooi gemaak, vreesloos. ’n Klomp mure uitgeslaan en so aan. Een dag kom ek terug toe is daar 20 m² nuwe geteëlde vloer! Ek dink daar iewers in haar skuil ’n binnehuisversierder.

Hoe hanteer julle konflik?
Nooit met aggressie nie. Ons praat dit uit. Onthou, sy’s eintlik die volwasse een. (Grinnik.)

Is jy gelowig?
Geweldig. Ek is ’n tipiese NG seun. Maar ek het ook ’n lang paadjie geloop tussenin. Jy weet, ek “bid” nie juis nie. Ek gesels sommer die hele tyd Boontoe. Sommer so in my kar of in die bad of voor die TV. Ek het lank gelede met die Here ’n pakt gesluit: Hy is die 51%-aandeelhouer in my besigheid en ek sal dan al die werk doen. Net daarna is 60% van my goed gesteel, twee jaar se bymekaarmaakgoed. Ek was kwaad, jong.

Toe eendag vra ’n pastoor my om in sy kerk met die jeug te kom gesels. En ek vertel dié storie en ook hoe jy nie altyd verstaan wat met jou gebeur nie. Dis toe dat twee sulke jong latte, seker so 17, hul hande opsteek. Ou, sê die een. Jy verstaan nou nie wat met jou gebeur het nie, maar dis eintlik die Here wat met jou ge-brag het.

Verduidelik? vra ek hom. Nee kyk, sê die mannetjie, dis soos met Job in die Bybel. God was so trots op hom en sy geloof en sê toe vir die duiwel, check hier. Hierdie ou is my sterkste kind. Jy kan met hom doen wat jy wil, en jy sal sien. En die duiwel het Job hard geslaan. Hy het al sy goed verloor, en sy gesondheid, en familie … Maar hy het aangehou met glo.
En nou, ons almal ken Job se verhaal. Hy is ryklik, ryklik geseën daarna.

En die ander storie?
Die ander jongeling staan toe op en sê: Alvin, jy’t ’n fout gemaak. Jy’t vir die Here ’n 51%-partnership aangebied. Wat was dít?! Hy moet 100%-eienaarskap hê! Ek het daardie dag twee van my grootste lesse in my geloof geleer. Uit die monde van twee bloedjong seuns … So, ek kan nou in alle erns en reg sê: Die Here is my business partner.

Het jy enige rolmodelle?
Ja, Donald Trump en Richard Branson is beslis my rolmodelle. Hulle is mense wat ’n ding uit niks na iets groots kan laat groei.

’n Sydelingse, dalk onregverdige vraag: Wat dink jý van die liedjie “De la Rey”?

Ek wou eintlik daai song gesing het, maar toe spring Bok my voor! En nou lag hý al die pad bank toe!

Hoe sien jy jouself vorentoe?
Ek sal baie graag eendag soos daardie statige ou hoofkarakter in Meet Joe Black wil kan sê: ‘I have no regrets.’

***

Hy sit bietjie druk op my: “Ag toe, sê vir my: ‘Alvin, vra jou eie vraag!’”
 

Goed, vra.
“Die vraag is: Alvin, wat is die volgende grootste happening in jou lewe waarna jy uitsien? “Die antwoord is: Ek kan nie wag vir my eerste baba nie! Ek is gemaak om ’n pa te wees. Hoewel ons nog so drie jaar wil uithou. “Ek kan nie wag nie vir daardie eerste skool-atletiekdag wanneer hulle aankondig: ‘Die ouers moet hulle nou gereed maak vir die veterane-aflos.’ Ek berei my nóú al sielkundig daarop voor!”