Ons praat met

Die Heyl-tweeling, ‘Boeboe’ & Genée, maak hart oop

Jy kan maklik dink Genée is die ernstiger een van die twee. Sy’s immers ’n nuusleser op kykNET se eNuus en was op ’n kol ’n bedryfsielkundige. Maar nee, sê Genée (uitgespreek Jenay), hulle kan albei ewe laf wees en weer net so lekker saam huil ook.

“Ons kan verskriklik drama gooi. Dis die hele tyd ’n konsert.” Voeg hul twee kinders by en die pret verdubbel: Brooklyn, Genée se aangenome dogter, is vyf jaar oud, en Liane se klein Willow net oor ’n jaar. Die klomp boer by mekaar en slaap gereeld oor. “As ons dan in die oggend wakker word, is almal saam in die bed. Almal, almal, almal.”

En as die “konsert” te wild raak vir Chloe, die kat wat Genée saam met die meenthuis hier in Randburg gekry het, dan slaan sy op die vlug. Vir nou is Chloe egter veilig: Die kinders is by die kleuterskool, Liane is by haar eie huis en dis net Genée en die kat op die sitkamerbank.

Ja, sy en Liane is ontsettend na aan mekaar, mymer sy.

“Ons is identies, dieselfde sakkie in die baarmoeder en als. Ons kyk net vir mekaar dan weet ons wat die ander een dink.” Hulle is net 11 maande ná hul broer, Jan, gebore en die drie het in Lynnwood, Pretoria, grootgeword. Pa Theo was ’n dermatoloog en ma Diane ’n tuisteskepper. Albei hul ouers het in die afgelope vyf jaar ernstig siek geword en gesterf.

“Dis vir my verskriklik. Dis my groot hartseer in die lewe.”

Haar pa het altyd vir haar gesê sy moet in die uitsaaiwese gaan werk,maar destyds het haar kop net bedryfsielkunde toe gestaan. Uiteindelik het sy haar meestersgraad daarin met lof verwerf en ’n suksesvolle loopbaan as bedryfsielkundige gehad. Maar die uitsaai-droom het bly knaag… Tot sy op ’n dag besluit het, vandag is die dag dat sy dit bewaarheid…

Genée vertel in die September-uitgawe van SARIE hoe sy haar droom bewaarheid het.

[box:full:grey:both]

Liane vertel

Sy’s in haar “four-by-four”-jaar, sê Liane en lag. Ja, die aktrise wat kykers destyds laat lag het met haar streke as Boeboe van Vetkoekpaleis, is al 44 jaar oud. Maar sy’s so besig dat sy skaars agterkom die dae en jare gaan verby. So baie dinge het in haar lewe gebeur in die meer as tien jaar sedert dié TV-komedie: Sy het ma geword, was in die sirkus, het weens geldnood “gaan waitress”, haar pa se neef – die bankrower Allan Heyl – in die tronk ontmoet, ernstig begin opera-lesse neem, ernstig begin dramaklasse gee . . .

Babbelend neem sy jou op ’n uitasem-toer van haar lewensreis tot hier waar sy bene opgetrek op die stoep van haar huis in Lynnwood, Pretoria, sit. Rietskraal in haar jeans, stewels en sweetpaktop lyk sy heelwat kleiner as Boeboe soos ons haar in haar geel-en-blou kortrokkie-uniform onthou.

Dis maar ’n kombinasie van die TV wat destyds “5 tot 10 kg bygesit het” en die kilojoules wat sy die afgelope jaar weghardloop agter al haar nuwe pligte aan vandat sy ma is. Willow is nou ’n jaar en ’n paar maande oud. Haar pa, met wie Liane sedert 2008 ’n aan-af-verhouding het, wil nie sy naam in die media hê nie, maar hy’s hier in die huis rond terwyl ons gesels. Hy’s ’n “great pa”, sê Liane, en hy’t ook baie van haar kwessies genees.

Liane praat in die September-uitgawe openhartig oor haar warrelwindlewe van die afgelope 15 jaar.

[/box]