jul08praatmet1a
Ons praat met

Henry Mylne: Die man agter ons sepiesterre

As jy ’n suksesvolle sepie-ster in 7de Laan wil wees, het jy die regte voorkoms en talent nodig. Én ’n man soos Henry Mylne. Hy leer nuwelinge ’n belangrike les: Agter die glans skuil harde werk. Henry, een van die regisseurs van 7de Laan, het sedert die  begindae van Egoli en daarna by 7de Laan, talle nuwe sterre se glans sien verdof. Maar ook afskeid geneem van dié wat akteurs in murg en been geword het. Wanneer spelers rou by 7de Laan inval, is Henry die een wat hulle onder sy vlerk neem en die fyner kunsies leer. Soos Elma Postma, wat Dezi gespeel het.

Ondanks ’n dramagraad moes sy eers van frustrasie huil voordat die essensie van aktrise-wees in haar kop gekliek het. Met haar afskeid van die Laan kon Henry met eerlikheid in sy hart sê sy is werklik ’n aktrise. Hy het ook al afskeid geneem van mense wat glo hulle is ná sepies “gereed om Ellispark vir ’n musiekkonsert” vol te pak. Maar dit maak hom nie hartseer as hy dan die verskiete ster se CD teen R19 op ’n  uitverkoping raakloop nie, sê hy.

Vir hom gaan die beroep van akteur meer oor passie as oor roem. Hy probeer die akteurs wat onder sy hande deurloop daardie vibrasie leer wat hyself as akteur op die verhoog voel. Dieselfde vibrasie wat hom nou tydelik uit sy regisseurstoel by 7de Laan lig en vir die eerste keer in twintig jaar weer op die verhoog plaas. Die titelrol in die toneelstuk Paulus, wat by die KKNK te sien was en ook na ander feeste gaan, is ’n katarsis in sy lewe.

Hy bestudeer die Bybel al jare intensief. Dis ’n omstrede stuk. Maar hy glo ons moet begin nadink oor ons geloofslewe, vertel dié man wat as jong seun in Bellville die top-student in sy katkisasieklas was. Die gemeente wou vir hom ’n beurs gee om ’n predikant te word. Min het hulle geweet hy sou eendag ’n groter “gemeente” dien met sy regisseurswerk by 7de Laan – die verhaal van gewone mense se lief en leed.

Hoe het dit gevoel om vir die eerste keer in twintig jaar op die verhoog te wees?
Fantasties! Ek was kalmer met die optredes as by die repetisies, want ek is ook die regisseur van Paulus. Ek het deur die jare baie tekstuur bygekry uit al die teorieë wat ek as regisseur ontwikkel het om die beste uit spelers te kry. Ek wou dit op myself toepas.

Hou jy van Paulus?
Die rol was ’n persoonlike geloofskatarsis. Die goed wat uitkom in die stuk oor hoe Paulus se kop werk, is min of meer waar ek nou in my geloofslewe is. Ek is ’n baie spirituele mens.

Hoe het jy die omstredenheid van Paulus gehanteer?
Howard Brenton, ’n ateïs, het die stuk geskryf en bevraagteken die opstanding – die fondament van die Christelike geloof. Die teoloog prof. Christina Landman en Theo Geyser, studente-prediker van Stellenbosch, het in die teatergesprek met my by die KKNK lof vir die stuk gehad. Ek moes 18 000 woorde leer, maar dis bevredigend. Dit dreineer my fisiek en emosioneel. Ek was nou gereed om die geestesreis aan te pak.

Kan ’n mens jouself regisseer?
Lizz Meiring was my assistent-regisseur. Sy het my deur die ding gevat soos ’n drilsersant.

Soos jy die akteurs by 7de Laan dril?
Ek voel met my gut en wil dit vir ander akteurs aanleer. Jou gut oor ’n rol lieg nie.

Neem dit lank om dit vir ’n rou akteur te leer?
Dis makliker as iemand uit ’n dramaskool kom, maar ons kry soms rou mense. Danie Odendaal, 7de Laan se vervaardiger, gee hulle vir my vir ’n paar maande en ek neem hulle een keer per week onder hande.’n Mens moet jou teks eers intellektueel en daarna emosioneel analiseer en dan moet jy die dialoog verbind met jou eie, individuele emosies. As jy ’n akteur wil wees, móét jy dit kan doen. Dis ’n moeilike proses, want jy klim in hul persoonlike lewens in. Die trane vloei.

Kom hulle met sterre van roem in hul oë?
O, ek het geen geduld daarmee nie! Vervaardigers moet soms iemand kies vir sy voorkoms. Dis die Amerikaanse sepie-ding. Ons is mos net ’n bad copy van Amerika in hierdie land. Mense wil mooi gesigte en mooi lywe sien as ’n akteur onder 35 is. By 7de Laan is ons uitgangspunt as jy oor 35 is, moet jy kan act. As jy jonger is, is jy moontlik daar vir jou gesig. As jy oor 35 is en nog nie kan act nie, moet jy loop. Dan het jy nie meer jou mooi gesiggie nie – jy moet ’n pilaar begin word waarop ons kan staatmaak.

Het jy al iemand gekry met wie jy níks kon doen nie?
Daar ís mense vir wie ek al twee jaar lank klas gegee het wat nooit akteurs gaan word nie. Ek onderskei tussen ’n akteur en wat Hollywood “filmsterre” noem. Hier noem jy hulle sepie-sterre. Jy kan ’n sepie-ster bly, dis jou keuse. As jou gesig en gewildheid goed is vir die produk, kan jy bly.

Op wie is jy trots?
Iemand soos Francois Rautenbach (Tiaan), wat rou van die straat af gekom en ’n ware akteur geword het. By Egoli was dit weer Cliff Simon (Mitch). Hy was Mnr. SA. Hulle is gekies vir hul voorkoms. Dis lekker as hulle saam met jou werk en as volwaardige akteurs weggaan.

Watter akteurs by 7de Laan het voor jou oë geblom?
Elma Postma (Dezi). Sy was ’n giggelende blondekop van Tukkies se drama-departement. Ek het een jaar met haar Hartsondes,’n vertaling van Crimes of the Heart, vir KKNK gedoen. Sy was toe al so drie jaar by 7de Laan. Ek het haar ’n week in trane gehad. Ek het vir haar gesê ek wil nie hierdie koekerige manier van speel hê nie. Sy het gehuil oor sy kwaad was vir haarself. Sy het ’n ongelooflike deurbraak in daardie rol gehad. Toe verstaan sy die proses vir die eerste keer in haar loopbaan. Ek weet nie of sy my gaan kruisig hieroor nie, maar met permissie gesê, sy sukkel om ’n kêrel te kry, want hulle is nie op haar vlak nie. Sy is té ontwikkel in haar kop. Ek het eenkeer baie hard met ’n kêrel van haar gepraat en gesê: Jy moet weet met wie jy hier te doen het. Jy het te doen met ’n vrou wat ’n hart ontwikkel het. Sy is nie net wat jy wil hê sy moet wees nie.

En die humeure vlam soms op voor die kameras?
Mense het hul afdae en hulle raak moeg. Die vroue moet my inlig wanneer hulle PMS het sodat ek dit in ag kan neem, want ek karring aan hul emosies. Dis ongelooflik hoe Danie en Annie Basson as vervaardiger en medevervaardiger daarin slaag om nie politiek op stel te duld nie. Mense praat reguit met mekaar.

Wie is die ontlaaiers op stel?
Annelisa Weiland het ’n ongelooflike sin vir humor. Sy sal in die middel van ’n toneel haar rok oplig en vra of iemand ’n “Hilda-surprise-special” wil hê. Ons verloor tien minute en almal lag. Dit maak die dag lekker.

Is dit waar dat Annelize van der Ryst (Matrone) al ’n ekstra (byspeler) geklap het?
Sy is ’n briljante aktrise en raak gespanne. As ’n ekstra iets verkeerd doen, raak sy ongeduldig. Vir my is dit ongelooflike swart humor wanneer sy die dag haar handsak gryp en op ’n ekstra afstorm en hom ’n klap oor die kop gee. Sy het al ’n hele paar geklap. Ons lag ons byna dood. Die ekstra is ’n bietjie ontsteld.

Hoe hanteer julle probleme met ’n akteur?
Danie sien dit self raak en hou dikwels vergaderings met die regisseurs. Dan sal ons oop en eerlik oor alles praat. Jy kan ongelukkig nie iemand jammer kry nie. Ons werk aan ’n professionele produk en dis nie soos in die teater waar jy vier weke repetisietyd het nie. Jy moet kan act at the drop of a hat.

Jy, Danie en Annie kom al ’n lang pad?
Ons was saam in die begindae van Egoli. Danie het eerste weggegaan om 7de Laan te begin. Annie kort ná hom. Toe het hulle my genader. Ek was agt jaar by Egoli. Dis moeilik om te gaan, want jy raak gewoond aan die mense. Maar daar was nie kwade gevoelens nie. Ek en Franz Marx is vriende.

Julle het by Egoli, en seker ook al by 7de Laan, probleme gehad met akteurs wat by drank en dwelms betrokke raak?                         
’n Akteur daag op met donker kringe onder die oë, en jy weet. Ek het een oggend een onder ’n koue stort ingestuur en gesê hy moet hom regruk en kom perform. Dis niemand se saak as hy in sy private lewe dwelms of drank wil gebruik, maar dan moet hy dit doen as ek finaal Cut! geroep het.

Het Neil Sandilands (Bart) se kroegbakleiery en sy onderonsie met ’n lugwaardin gepla?
Neil se spelvernuf is alombekend. Hy het nooit op stel probleme gegee nie. Sy gedrag buite werkure het probleme geskep vir Danie oor die beeld van 7de Laan. As jy ’n kontrak sluit, moet jy lojaal bly aan die produk. As jy die produk ’n slegte naam gee, drop jy almal om jou. By Egoli het ons jare gelede so ’n geval gehad en Christine Basson (Nora) het vir die persoon gesê:  “Ruk jou nou reg, want weet jy wat? Jy neuk nou met my brood en botter.” En sy is reg.

Hoe voel julle as ’n aktrise soos Quinne Brown ná ’n lang tyd weggaan?
Ons was spyt en hartseer. Sy was miskien nie ’n opgeleide aktrise nie, maar dít wat sy gehad het, het sy ten volle benut en haar hart daarvoor gegee. Haar grootste bate is haar warmte as speler.

Mense dink julle het almal ’n glanslewe?
Ons werk soms twaalf ure per dag. As jy dan nog in ’n toneelstuk wil speel, moet jy dit saans ná werk doen. Die filmspan ervaar nie die glans nie. Of ’n akteur op ’n tydskrif se voorblad is en of 3 000 mense ’n aktrise in ’n winkelsentrum voorkeer, beteken nie veel as jy nie op stel jou deel doen nie. Akteurs kan soms ná hul uur of twee op stel loop, maar die filmspan moet heeltyd daar wees. Ek leer die akteurs om dit te respekteer.

Wat doen jy om te ontspan?
Ek het nog nooit die kuns aangeleer nie, maar ek’s lief vir swem. Ek is ’n Vis en moet altyd naby water wees. Ek gaan ook teater toe. Ek is juis nou weer so getap dat ek Londen toe moet gaan om teater te gaan kyk. Ek gaan sit daar alleen in die teater, twee of drie keer per dag. Dit laat my weer vibreer.

Baie sepie-spelers deel ’n passie vir die teater?
Dis die enigste plek waar jy groei, ontwikkel en gestimuleerd raak. Baie sepie-spelers verstaan nie: Jy gaan net tot op ’n punt groei op ’n sepie-stel. Veral as jy van die straat af kom.

’n Paar dinge op stel wat kykers nie weet nie?
Dié koffiewinkel waar ons nou in 7de Laan, Melville sit, is Oppiekoffie vir die kykers. Toe Wilmien (Nina Swart) nog ’n kelnerin in Oppiekoffie was, het kykers hierheen gery en gevra dat sy hulle bedien. Mense dink ook ons werk net ’n halfuur per dag omdat die episode net ’n halfuur lank is.

Die moord op akteur Randall de Jager (Aubrey) het jou diep geraak?
Hy was soos ’n broer vir my en het in my kothuis geloseer tot kort voor sy dood.

Wat het gebeur toe jy self deur rowers aangehou is?
In 2005 het drie rowers my van vieruur tot sesuur die oggend aangehou. Hulle wou geld hê en ek kon nie my aktetas kry nie. Hulle het al agter my aangeloop met ’n rewolwer teen my kop. Hulle het my ook met my oupa se knopkierie geslaan – dit was langs my bed om mý te beskerm! Hulle het laat spaander toe my alarmstelsel afgaan en lede van die sekerheidsmaatskappy opdaag.

Was jy getraumatiseerd?
Ek het nie vir berading gegaan nie. Ek het die polisie teen 6.20 gevra om te gaan, want ek moet gaan stort en gaan werk. Ek het die hele dag daarna gewerk. Die ervaring het wel my slaappatrone versteur. Ek kon eers nie saans laat gaan slaap nie. Nou kan ek nie aan die slaap raak nie. Ek het my huis se veiligheid verbeter.

Gaan jy nou meer op jou loopbaan as akteur konsentreer as op regie?
Ek sal regisseur bly en net soms in teaterstukke speel. Regie is my passie. My droom is om eendag ’n rolprent te regisseer.

Gunstelinge

AKTRISE: Dame Judi Dench
AKTEUR:
Cobus Rossouw sr. Ek aanbid hom. Ek het onder hom by Sukovs gewerk en kan nog elke les onthou wat hy my geleer het. Ek het in my huis ’n lewensgrootte foto van hom as Richard III. Ek het hom in daardie rol gesien toe ek in st. 9 was en die foto uit die foyer van die teater gesteel! Ek wil nog Richard III in Afrikaans speel.
BOEK:
Ek lees baie, maar my immergroen gunsteling is Wuthering Heights.
PLEK:
Bantrybaai, Kaapstad, waar ek elke jaar vir ’n week uitspan. Dis my paradys.
KOS: Pap, enige pap!
DRANKIE:
Ek drink nie, maar as ek drink, moet dit ’n enkelmout whisky met ys wees.
OOMBLIK:
Die nou . . . vandat ek die boek The Power of Now gelees het. Geluk gebeur nou. Netnou is dit oor.