Ons praat met

Die man wat Charlize se hart gesteel het

Hy  was die aantreklike eenkant-outjie, “op sy eie planeet”, onbewus van die skoolmeisies wat giggelend na hom geloer het.

En die beeldskone Charlize Theron, ons eie Hollywood-superster, was destyds een van hulle.

Vandag kan Johan Botha van Johannesburg nie glo hy het op skool háár hart vinniger laat klop nie.

In ’n onderhoud in die Desember-uitgawe van die glanstydskrif Vogue in Amerika vertel Charlize sy was op skool obsessief oor hom.

Desember 2011-uitgawe van Vogue

Sy het gewag en gewag dat hy haar na die skooldans moes vra, maar hy het nie . . .

Sedertdien het die twee mekaar nog nie weer gesien nie.

In die Vogue-onderhoud sê sy: “Johan Botha . . . ek dink ek het vyf woorde met hom gepraat . . . Ek sou in my bed lê en luister na daai hartseer liedjies van die tagtigerjare en het gedink dis die einde van die wêreld dat hierdie seun nie weet ek bestaan nie.”

***
En hier sit hy, 19 jaar later, op ’n reënerige oggend in ’n Argentynse koffiewinkel in Linden, Johannesburg. Charlize se Johan Botha. Miljoene mans sal hom beny.

Donker hare, pikswart broeiende oë, sagte stem. ’n Diep ou.

As Charlize hom nóú kon sien . . .

“Sy was die eerste meisie wat ek raakgesien het toe my ouers my van die Hoërskool Linden na die destydse Hoërskool Die Kruin in Parktown, Johannesburg, gestuur het. Sy het op ’n trap gestaan. Lank en mooi.”

Charlize was toe in standerd agt, waar sy ballet gedoen het, en hy in standerd nege.

In dié skool was die meerderheid leerlinge meisies. “Hulle het verby my geloop en gegiggel. Ek het nie verstaan waaroor dit gaan nie.”

Hy het aan die Vogue-joernalis beken hy was ook mal oor Charlize.

“Maar ek het nooit gedink ’n mooi meisie soos sy sou in my belang stel nie,” sê hy in ons onderhoud.

“Ek het een middag oor die skool se rugbyveld gestap. Ek kon hoor iemand hardloop my van agter in en het gedink dit is een van my maats wat my wil platduik. En toe kom staan dié pragtige meisie voor my. Sy het my hand geneem en gesê: ‘Hallo! Ek is Charlize!’ ” Toe hardloop sy weg.

“Sy was ’n tomboy met chutzpah. Sy het nog bril gedra, maar dit was cute. Jy kon haar nie miskyk nie.

“Toe sy die Oscar gewen het, het 
ek gedink: Wow! Charlize! Dis so great wat jy bereik het.”

As jong kunstenaar in die middel negentigs moes hy ’n portefeulje saamstel met verskeie skilder-genres om homself te begin bemark.

“Ek het toe nog nie geweet in watter genre ek gaan spesialiseer nie. Ek het ’n foto van Charlize in ’n tydskrif gekry en haar geskilder. Ek het moeite gedoen om haar adres te kry sodat ek dit vir haar kon pos. Toe dink ek, nee, almal wat haar geken het, wil nou incash daarop.”

Johan het in ’n huis met bekende ouers grootgeword. Aktrise Annalise Bosch en akteur en skilder At Botha is geskei toe hy in 1992 in matriek was.

FOTO: Johan Botha in sy jonger dae

Johan Botha in sy jong dae

Charlize se pa is dood (haar ma, Gerda, het hom in 1991 uit selfverdediging geskiet) in die tyd toe hulle saam op skool was, maar hy dink nie een van die kinders het dit geweet nie.

Skool was dikwels vir hom moeilik. Hy kon nie inpas nie. “Altyd die outsider. Afgesluit in my eie kop.”

Dit is uit sy pen wat die gewilde strokiesreeks Skaapstad in Rapport 
se My Tyd-tydskrif gekom het. Hy teken nog by geleentheid karikature
 of spotprente. Hy doen ook gereeld sketse vir Pan Macmillan-uitgewers.

Annalise vertel hy teken al vandat hy ’n pen kan vashou. “Nog lank voor sy pa ’n skilder was, het Johan potensiaal gehad. Hy het so ’n sensitiewe kunstenaarsiel. Dis asof hy nou eers begin mens word,” gesels sy uit haar gastehuis Ah! op Paternoster aan die Weskus.

Sy is nie verbaas dat hy op skool verby meisies soos Charlize gekyk
 het nie. “Sy kop is beslis op ’n ander plek as ons ander s’n. Hy het op skool nooit van Charlize gepraat nie, maar ons wel later vertel hoe trots hy op sy skoolmaat is.”

Johan woon in die Johannesburgse voorstad Linden, maar het onlangs lank by sy ma gekuier. Op sy webtuiste johanbotha-art.co.za pryk van sy Paternoster-skilderye.

Hy het by die bekende kunstenaar André Naudé klas geloop en beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Johan dink nie sy pa se werk het ’n invloed op hom gehad nie; At het eintlik eers begin skilder nadat hy sy loopbaan as akteur begin afskaal het.

“Ek het elke figuratiewe styl van skilder beproef en nou eers my nis 
– simboliese kuns – gevind.”

In sy nuutste reeks fokus hy op woude en bome. “Ek raak so verdiep in die skilder van elke blaartjie dat ek byna in ’n trance gaan. Ek probeer nie die natuur naboots nie. My werk is abstrak en ek wil die energie en vibrasie van die natuur oordra.”

Sy ander reeks noem hy sy Amoeba-reeks. ’n Amoeba proteus word deur bioloë beskryf as ’n eensellige organisme wat van vorm kan verander. Die reeks beeld abstrakte realiteit uit en het ’n ligtheid, donkerte en dikwels ’n tong-in-die-kies gevoel. “My karakters lyk asof hulle deel is van ’n strokiesprent. Die vorm is altyd iets anders as die gewone.”

Die mode-ontwerper Anna-Mari Pretorius van Soda het sy werk met syskermdruk op materiaal oorgedra en dit as fokuspunt gebruik vir uitrustings wat by die 2010 SA Modeweek in Sandton te sien was. Die blog safashionweek.blogspot.com beskryf dit as “cheeky, vars en pret”.

Johan is op 37 ’n alleenloper wat erken hy verloor homself in sy kuns.

“Ek was op skool ’n ernstige fietsryer. [Charlize verwys ook in die artikel na sy fietsryery.] Ek sou ’n professionele fietsryer kon word, maar ek is nie ’n mededingende mens nie. Ek ry steeds en geniet my rock-band Billy Buckle. Ek skryf self die liedjies oor my waarnemings van die wêreld en die liefde wat my altyd ontwyk.”

En as Charlize hom nooi om te gaan kuier, sal hy gaan? “Natuurlik!”

Annalise sê juis Johan het nou ’n meisie nodig.

  • marie saayman

    dis wonderlike nuus om te hoor sy sal miskien haar ou liefde vind sterkte hoop alles gaan goed

  • E Compion

    Kan Sarie nie maar vir hul ‘n ontmoeting bewerkstelling nie. Mens weet nooit, ou liefde roes nie, lui die spreekwoord!

  • Elma

    O give that man a bells!!! Sarie asb!! Wil julle nie asb nie dat die twee mekaar ontmoet nie!!! Wow ek dink dit klink soos ‘n storie uit nicholas sparks se hand.. Wow sal dit nie die coolste cool wees a hulle mekaar weer ontmoet en verlief raak nie????
    Hou ons ASSEBLIEF GROOT ASB op hoogte!!!!

  • Carina Morgan

    Die spreekwoord se nie verniet "What will be, wil be….." nie! Maar dit gaan nie gebeur as ‘n mens stilsit en niks doen nie, hierdie klink vir my na ‘n sprokie wat wag om waar te word! Die fisiese en emosionele aantrekkingskrag tussen twee mense bly gewoonlik na jare steeds daar en is nie iets wat deur omstandighede uitgewis word nie! Wonder of die tweetjies al op Facebook kontak gemaak het…….