lindi_wehrle
Ons praat met

Die nuwe Emma

Dis ’n ander Emma wat kykers deesdae in 7de Laan op SABC2 sien. Wat het in Bertha le Roux se lewe gebeur? En hoe het sy die opdraandes van Europa in afdraandes verander?

deur MARTIE SWANEPOEL
foto’s LEANA CLUNIES-ROSS

Five, six, seven, eight!”
Die choreograaf klap sy vingers ritmies om die groep dan sers aan te moedig. Voor in
die koor dans 7de Laan se Emma. Sy gooi haar lyf soos ’n professionele danser en beweeg
polsend en met selfvertroue op maat van die musiek.
Dis ’n ander Emma as die een wat ons ken. Sy’t ’n nuwe lyf, is moeg om “die mollige enetjie” te wees. En Europa lê agter haar …
Bertha le Roux sit tussen die verfilming van tonele in die akteurs se koffiekroeg by die 7de Laan-ateljee in Lonehill, Johannesburg. Sy gloei van energie en gesondheid. Haar koperrooi hare glim in die oggendson en haar blou oë vonkel.
Naby ons in die garderobe hang ’n stel uitrustings wat sy aanstaande maand in die groot 7de Laan mode parade gaan dra.
En dis ’n hele paar nommers kleiner as waaraan kykers gewoond is om Emma in te sien. Die 29-jarige aktrise het die afgelope vier maande byna 8 kg afgeskud.
“Met die vorige modeparade in 7de Laan is ’n diskrete agter-die-skerms-rol vir my ingeskryf, want ek was te dik om op die loopplank te verskyn!” sê sy prontuit.
“Dié keer kan ek ook mooi aantrek.”
Sy’t hoeka ’n lang pad van baklei teen die arme Emma se vormlose klere.
“Ek het die vervaardiger, Danie Odendaal, en die garderobe-mense al mal gemaak, want ek wou hê hulle moes oor Emma se kleredrag besin.”
Emma se beeld is verlede jaar opgekikker. Sy het ’n sagter, moderne haarstyl gekry en meer ontwerpersklere begin dra.
Bertha giggel. “Jy weet, ek glo nie maer mense weet hoe om vet mense aan te trek nie!”
Sy bespreek haar gewig sonder skroom. Want nou straal sy hope selfvertroue uit. Waar ander aktrises dalk emosioneel sal raak as hulle meen hulle lyk te vet in ’n uitrusting, hanteer Bertha haar gewig met ’n volwasse houding.
“Ek kon nog altyd wegkom met my gesig en maer bo-lyf, maar hier onderlangs het ek ’n lekker paar heupe en bobene van albei my oumas geërf. Ek is nog nie heeltemal daarvan ontslae nie, maar ek werk daaraan.”
Haar “transformasie” het sy aan ’n goeie skoot aanmoediging van Annie Basson te danke.
“Sy het my ingeroep en vierkantig in die oë gekyk.
‘Bertha,’ het sy ernstig gesê, ‘jy is ’n goeie aktrise, jy is mooi en daar wag ’n blink toekoms op jou, maar as jy nie gewig verloor nie, skiet jy jouself in die voet.’ Net so.”
Later beaam Annie die gesprek. Sy en Danie glo daar wag groot dinge op Bertha.
“Die dieet waarop ek nou is, is anders. Dié keer is my kop reg. Ek is vasberade.”
Sy was voorheen ’n tipiese wipplank-verslanker. Die een dieet ná die ander. Baie gewig verloor… net om dit weer op te tel as sy teruggaan op haar ou weë.
Die kamera maak ook nie mooi met molligheid nie, kla sy. Dis nie ’n mite nie. Die kamera
laat jou maklik 5 kg swaarder lyk!

Haar dieetsukses
Sy skryf haar nuwe dieetsukses toe aan ’n gesonde kruiedrankie wat twee van haar maaltye per dag vervang.
Daarby doen sy Tae-Bo- en Pilatesoefe ninge en besoek ook ’n gimnasium.
Haar man, Karel Wahl, sê sy het ’n regte fitness bunny geword.
Haar spiere is nou ferm en haar lyf gloeiend. Die paar maande waarin sy die gesogte 7de Laan-kos potte vermy het, was die moeite werd. As die ander akteurs gaan aansit vir ’n milde ontbyt en middagetes, hou sy links verby, dankie.
“Ek wou nie weer op ’n hongerlydieet gaan nie. My dieet het ’n gesonde basis, gelaai met vitamiene. Ek het ’n vol program en het die energie nodig.
“Dit het my nog nooit eintlik gepla dat van die ander aktrises so dun is nie. Ek het nie ’n obsessie oor gewig nie. Ek was op skool maer en in my kop is ek nog altyd daardie maer meisie met die bikini op die strand. Dis seker eienaardig, maar in my kop weeg ek
nog 57 kg!”
Hoewel sy nog nooit groot selfbeeldprobleme gehad het nie, en al is sy maer in haar kop, erken sy sy het tog op skool reeds “vet” gevoel. Sy was nog altyd daarop gesteld om reg aan te trek vir haar figuur.
“’n Mens moenie illusies hê oor hoe jy lyk nie. Dit help nie jy wurm jou lyf in toppies met dun bandjies in as jy te vet is nie. Jy hoef ook nie soos ’n slons te lyk as jy effe oorgewig is nie. Beklemtoon jou beste bates.”
Soos haar welige bos hare, wat sy by haar ma geërf het en die mooi blou oë, wat sy van haar pa gekry het.

Haar lewe voor 7de Laan
Ná matriek aan die Hoërskool Florida het sy ’n jaar oorsee gewerk. Sy was ’n paar rampspoedige maande ’n au pair in België. Sy en die kinders se ma het vasgehaak omdat sy gemeen het die ma skeep die kinders af. “Ons paaie het geskei nadat ek en sy ’n hewige skreeurusie op Frans gehad het.”
Daar was tye in Europa wat sy nie juis as hoogtepunte van haar lewe kan
beskryf nie. ’n Liefdesverhouding het skeefgeloop.
“Ek was soms eensaam en ongelukkig. Toe gee ek myself aan kos oor.
Ek het al hoe meer gewig aangesit. Só erg dat mense wat my ken, geskrik het
wanneer hulle my gesien het.”
Sy was in ’n ellendige toestand. ’n Belgiese dokter het pille voorgeskryf, maar dit het nie gehelp nie. Met haar terugkoms het ’n dokter antidepressante voorgeskryf, maar sy het
dit ná twee weke gelos omdat sy nie beter oor haarself gevoel het nie.
Met haar terugkoms het sy haar by die Universiteit van Pretoria vir ’n dramakursus ingeskryf. Sy het toe so min selfvertroue gehad dat sy nie eens geglo het sy sou gekeur word nie.
“Op pad terug van die universiteit het ek so gehuil, my ma moes stilhou. Sy het getroos met die woorde: ‘Ons weet mos waartoe jy in staat is.’ Vandag is my ouers baie trots op my loopbaan.”
Griet en Braam le Roux het hul vyf kinders beskermd grootgemaak, maar hulle gereeld oorsee geneem en avonture in die buitelug in Suid-Afrika laat beleef. Bertha is hul laatlam.
Die gesin ken ook groot hartseer. Twee van Bertha se broers is oorlede.
Haar oudste broer, Chris, het in ’n motorfietsongeluk gesterf toe hy in die weermag was en haar boetie, Bruwer, wat twee jaar ouer as sy is, is op 7 jaar dood aan limfklierkanker.
“Ons het vir lank nie oor die dood gepraat nie, maar dit het ons mettertyd nader aan mekaar gebring. My ouers was versigtig om ons nie daarna te oorbeskerm nie. Toe elkeen van ons
oorsee wou gaan, het hulle ons laat begaan.”
Dié liefdevolle opvoeding het ’n invloed op haar lewe. Sy is die akteurs en produksiespan by 7de Laan se liefling. Daar word na haar verwys as “die hoofmeisie” omdat sy altyd so
positief en behulpsaam is.
“My ouers was daar vir ons. Selfs al was my pa, ’n eertydse hoof van Spoornet, baie besig, het hy moeite gedoen om saam met my vroeg op te staan sodat ons saam ontbyt kan
eet. Ons het elke oggend saam huis-godsdiens gehou.”
Bertha onthou gelukkige kinderjare in Saldanha en Florida, Roodepoort.
Daar was die Kersfeeste aan die Weskus, soms met ’n Kersboom van bamboes, seesterre en skulpe. En die Kersfees-konserte.
Van haar eerste “professionele” optredes was toe die Laerskool Gustav Preller in Florida se Tinktinkies-koor in ’n episode van Wielie Walie gesing het!
Naas haar ma, ’n oud-onderwyseres en glaskunstenaar, het sy haar kunstige streep van ouma Adrini le Roux, wat ’n sangeres was, geëerf. “Ouma was gesteld op korrektheid en het my en
my niggie voor die spieël laat sit en geleer om reg te eet. By my ouma Cora Esterhuizen, ’n sendeling, het ek van die liefde van Jesus geleer.”
Ná haar drama-opleiding aan die UP het sy by kunstefeeste klank en beligting behartig en daarna by poppe- en kinderteater betrokke geraak. Sy het ook in ’n paar produksies van Joyce
Levinsohn se Johannesburg Youth Theatre gespeel.

Haar groot liefde
Sy was darem nie so besig met haar loopbaan dat daar nie tyd was vir liefde nie. Sy en haar man, Karel, wat klank by groot aanbiedings behartig, ken mekaar al van skool af.
Sy skrop nou lekker nes in hul huis in Little Falls, Roodepoort, maar maak ook tyd vir lees, naaldwerk en sepies kyk. Sy het baie as mens gegroei vandat sy by 7de Laan is, sê sy. Die kanse wat Danie en Annie haar gee, is ongelooflik.
Verhoogwerk lê haar ook steeds na aan die hart en sy is gereeld in produksies op kunstefeeste te sien.
Met haar agtergrondkennis oor verhoogbestuur, klank en beligting is dit nie onmoontlik dat sy ééndag as regisseur agter die kameras kan beland nie.
Bertha gaan pas haar dagrok aan wat sy later die middag gaan dra vir die modeparade-danspassies. Sy skop ’n paar keer lekker hoog. “Danie Odendaal is die enigste mens vir wie ek bereid is om met so ’n kort rokkie te dans!” sê sy.
Sy’s ’n meisie op ’n verslankingsmissie.