Ons praat met

Die nuwe ”Niekie” – Ian Wessels gesels

IAN WESSELS neem van 4 Mei die leisels van Sê Wie op RSG oor. (Die program gaan herdoop word, maar die nuwe naam is nog nie bekend nie.) Ian is ‘n lekker geselser met ‘n fluweelstem. Hy het aan Lydia van der Merwe gesê hy het ‘n plan met daai kringfluit wat Niekie van den Berg so teen die mure uitgedryf het!

Jy was eers staatsaanklaer en regsadviseur. Hoe het jou pad tot by die mikrofoon geloop?

Radio is ‘n ou liefde. Ek het as kind in die Paarl radiodramas geskryf, op band opgeneem en dit vir 5 sent vir kinders in die buurt gespeel. My ouers het egter gevoel ek moet iets agter my naam skryf, daarom het ek in die regte gaan studeer. My radio-loopbaan het toevallig begin: Ek het in 1995 ‘n vriendin gaan ondersteun toe sy op Radio Helderberg in Somerset-Wes moes gesels. Die omroeper het my ook betrek en besluit ek is ”radio-maties” (‘n ou wat aangelê is vir radio). Die stasie-bestuurder, Schalk Swanepoel, het my toe ‘n werk aangebied. Sedert 2003 was ek in bestuursposisies by OFM in Bloemfontein. Ek was onder meer die kreatiewe hoof en betrokke by die skep van advertensies. Die afgelope twee jaar het ek advertensies, hoofsaaklik vir radio, geskryf. Ek gaan dit nog steeds doen, maar baie afskaal.

Hoe gaan die nuwe program van Sê Wie verskil?

As jy Niekie (van den Berg) wegvat, verskil dit al klaar met 50%. Mens kan vooraf besluit dít gaan die trant van die program wees. En as jy ná ‘n jaar terugkyk, het dit ‘n lewe van sy eie gekry. Jy moet ook nie daarteen skop as dit ‘n natuurlike koers inslaan nie. Dit moet veelsydig genoeg wees om alle soorte mense te betrek. En prikkelend genoeg dat mense wat normaalweg nie inbel nie, ook hul eier wil lê.

Sê Wie het amper ikoon-status gehad, almal het dit geken. Niekie van den Berg het dit gemáák. Dink jy jy sal sy skoene kan vol staan?

Daar is by my geen twyfel nie. Ek gaan dinge anders doen as hy. Hy was baie gewild en daar gaan mense wees wat ná ‘n jaar nog sal vra: ”Waar is Niekie tog?” Maar ek het volle vertroue dat ek luisteraarsgetalle gaan laat styg.

Nadat hy bedank het, het hy gesê dit was sy opdrag om kontroversieel te wees. Gaan jy dit ook doen?

Dis ‘n vreemde ding. Hoe meer mense jou haat, hoe meer luister hulle. Jy moet egter nie te hard probeer om kontroversieel te wees nie, dan flop dit. My aanslag is baie gemoedelik en informeel. Soms sal jy ‘n onderwerp aanraak wat kontroversieel is. Jy kan ook nie net sit en heeltyd kopknik nie. Jy moet ‘n ou kan druk ook: ”Waar het jy grootgeword as dit jou standpunt is?” Jy moet nooit vervelig wees nie. Maar baie van dié goed is instinktief.


Jy gaan nou van Bloemfontein Johannesburg toe trek. Laat die groot stad jou broek bewe?

Spitstyd in Bloem is daar seker so 13 karre! Ek is ‘n positiewe ou, geluk is ‘n keuse wat jy maak. Ek het klaar besluit ek gaan gelukkig en suksesvol wees. Johannesburg het ‘n energie wat nie in Bloem is nie.

En jou gesin, hoe voel hulle oor die skuif?

My vrou, Liesel, het altyd gesê: Stick with me, I’ll make you famous. Sy is in die kommunikasiebedryf en ek het gedink ons sal vanweë haar werk Johannesburg toe trek. Toe nie. Ons het nie kinders nie.

Niekie was maar lekker beneuk en wispelturig. Gaan jy minder buierig wees?

As jy elke dag vir vyf mense moet sê: ”Sit sagter daai radio”, sal jy ook moerig raak. Weet jy wat ‘n kringfluit is? Mense wat inbel, wil hul stemme op die radio hoor. Hulle sit hul radio’s te hard aan. Dit veroorsaak ‘n skerp geluid wat net die omroeper hoor. Dis dan wat die inbeller rondtas: ”Niekie, is ek op die lug? Niekie!” Maar ek het ‘n oplossing daarvoor. Ek het ‘n stelsel ontwikkel wat ek Knersus noem. Dit vreet kringfluite. As jy inbel en jou radio is te hard, word jy outomaties afgesny.