sr0910skoonheid200
Ons praat met

Die nuwe rooi reëls . . .

Rooi lipstiffie is ‘n gewilde staatmaker in die skoonheidswêreld. Dit was immers nie verniet die enigste luukse-produk waarvan die verkope tydens die Groot Depressie van die 1930’s gestyg het nie!

In vandag se ekonomiese resessie is dit steeds ‘n topverkoper, en in die weke ná 11 September 2001 het verkope van rooi lipstiffie in die VSA verdubbel.

Dié tendens het Leonard Lauder, voormalige voorsitter van Estée Lauder, die term “lipstiffie-faktor” as ekonomiese aanwyser laat skep: Hoe slegter dinge gaan, hoe meer lipstiffie koop vroue glo.

Warm en vol woema
Rooi het ‘n universele aantrekkingskrag, verduidelik Anne Roselt, kleurbestuurder by Plascon, selfs al hou jy nie van hierdie “kyk-na-my”-kleur nie.

Ons liggaam het ‘n fisiese reaksie wanneer ons rooi sien:

  • Ons adrenalienvlakke, bloedsirkulasie en liggaamstemperatuur styg.
  • Rooi is die opwindendste en mees dramatiese kleur,
  • en die kleur van lewe, want dis die kleur van ons bloed.
  • Rooi staan altyd uit, ook in die natuur - dink maar aan rooi bessies.
  • Daar is selfs bevind dat bestuurders met rooi motors die meeste spoedoortredings begaan!

Is dit vir álmal?

Dit hang af waarin jy gemaklik voel. Maar daar is so ‘n wye verskeidenheid rooie, maak nie saak wát jou veltoon is nie – daar’s ‘n rooi vir jou.

 

Rooi lippe vir selfvertroue?
Rooi is ‘n bondel energie! Dit is die warmste kleur in die sprektrum en het die grootste impak op ons. As jy moeg is, gee rooi jou die kits-hupstoot. Jou bloedrooi lipstiffie beloof lewenskrag en opwinding – elke keer.

Watter rooi is môre se hoogmode?
Ná die Olimpiese Spele in China verlede jaar was helderrooi baie gewild – dié land is sinoniem met die kleur rooi. Maar helderrooi is besig om plek te maak vir wynrooi en donker persrooi, verryk met swart pigment.

Die nuwe rooi reëls

Die meeste van ons is gefassineer met die idee van rooi lipstiffie, maar om dit te dra kan intimiderend wees. Kenners sê hoe:

Vind jóú rooi

“Die ou reël was dat blondines ‘n blouer rooi en brunette of vroue met ‘n olyfkleurige vel ‘n geler rooi of oranje-rooi moet dra,” sê Tilda Wessels, grimeerkunstenaar van Pretoria. “Ek dink daardie dae is verby. Elke vrou se velkleur, ondertoon en haarkleur is uniek. Eksperimenteer met verskillende rooie. As jy een kry wat jou oë witter en jou gelaat helderder laat lyk, dan is dít jóú rooi.”
Johannesburgse grimeerkunstenaar Lisa Cloete voeg by: “Boonop laat rooi jou oë en tande witter lyk – dit kan daarom verjongend wees!”

Dink oor tekstuur

“Dikwels is dit nie die verkeerde kleur wat vroue kies nie, maar die tekstuur,” sê Lisa Cloete.

“Kies een wat by die res van jou voorkoms en persoonlikheid pas: ‘n Mat- of fluweelafwerking is meer klassiek,’n glanskleur trek aandag en ‘n deursigtige (sheer) tekstuur is goed as jy nog eksperimenteer.”

Dis hóé jy dit dra

“Dis die res van jou grimering wat rooi lippe maak of breek. Dra dit net saam met maskara en ‘n bietjie verbronser op jou wange. Die moderne rooi lip is ‘gemaklik’ – nie ‘n bloedrooi pruilmond nie. Gebruik jou vinger om dit op jou lippe te klad,” sê Lisa.