Ons praat met

Die plat-op-die-aarde prinses

Marita van der Vyver het spesiaal vir SARIE by Charlene Wittstock (en haar prins!) in hul Pienk Paleis gaan kuier. En agtergekom die nuwe prinses van Monaco – tussen al die glans en goud – hou van melkkos, bobotie, koeksisters, potjiekos . . . en braaivleis ná ’n Sharks-wedstryd…

Op pad na die paleis in Monaco voel ek ’n bietjie bewerig – en nie net vanweë die steil opdraand wat ek te voet moet aflê van my hotel langs die hawe tot by die befaamde vesting op Die Rots nie. In my jare as joernalis het ek heelparty beroemdes ontmoet – rolprentsterre, sportsterre, mooi mense – maar nog nooit moes ek ’n prins en ’n prinses uitvra nie. Boonop ’n prinses wat ’n sportster uit eie reg is, en so mooi soos die mooiste rolprentster.

Drie-in-een dus, menige joernalis se droom, maar dosyne vrae maal deur my kop. Hoe moet ek hulle aanspreek? Dis kort voor die troue, dus is Charlene Wittstock nog nie amptelik ’n prinses nie, maar wat van prins Albert? U Hoogheid? En moet ek ’n kniebuiging maak? Hoe máák ’n mens ’n kniebuiging? Die laaste keer dat ek dit moes doen, was in ’n balletkonsert op laerskool!

By die Pienk Paleis – wat deesdae eerder ’n gelerige skynsel het, maar steeds meer soos ’n Disney-kasteel as die tuiste van ’n regte prins lyk – moet ek eers by die carabiniers verbykom. (Dis die prins se wagte in onmoontlik wit uniforms wat heeldag voor skares toeriste heen en weer marsjeer.) Dan stap ek na ’n binnehof, waar ’n man in ’n grys pak “boontoe” bel voordat ek goedkeuring kry om in ’n buitenste wagkamer te sit. Daarna word ek saam met vier ander joernaliste van internasionale publikasies na die binneste heiligdom begelei. In die weelderige Salle des Gardes wag die paleis se bekwame mediaspan ons in met koffie in koppies met goue randjies en servette met die prins se monogram op. Dis genoeg om enigiemand se asem weg te slaan. Teen die donkerblou mure hang enorme skilderye van die prins se voorsate, die Grimaldi’s wat al agt eeue lank op Die Rots regeer, en op tafels oral in die vertrek staan foto’s van die huidige Grimaldi’s
saam met wêreldleiers soos die Pous en Bill Clinton.

Charlene 1

‘n Troufoto van prinses Grace en prins Rainier

Teen dié tyd het selfs my gesoute tydskrif-kollegas van die Duitse Bunte, die Belgiese Le Soir en die Britse Hello! erken dat hulle senuweeagtig is omdat ons weke lank vir hierdie onderhoud moes wag en vooraf ingelig is dat elkeen net ’n beperkte tydjie saam met die paartjie mag deurbring. Al vier is oortuig dat ék, as die bruid se landgenoot, ’n onregverdige voorsprong het. (Ek hoop natuurlik hulle is reg.) Ek stel vas dat ek die prins as Monsignor of U Hoogheid moet aanspreek, maar dat ek nie “verplig” is om ’n kniebuiging te maak nie. Tog berei ek my geestelik voor op my eerste kniebuiging sedert
laerskool! Wie weet of ek ooit weer ’n kans gaan kry?

Eindelik breek my beurt aan en ek word begelei na die manjifieke Salon des Glaces, die ene vergulde mure en goue meubels en groot vensterdeure wat oopmaak op die paleis se amptelike balkon, waar die Grimaldi’s op belangrike datums voor hul onderdane verskyn. Teen die agterste muur hang ’n lewensgrootte skildery van ’n jong prinses Grace, blond en
beeldskoon, waarop die ooreenkoms met haar seun se bruid selfs meer treffend as gewoonlik is. En dan slaan ons eie Afrikaprinses my voete onder my uit. Sy staan op, maak haar arms wyd oop en begroet my met ’n breë glimlag.

“Welkom hier by ons. Hoe gaan dit?” In Afrikaans. Die onverwagse hartlikheid laat my skoon vergeet van my beplande kniebuiging en ek groet die prinslike paar soos ou bekendes: “Baie goed, dankie, en julle? (In Engels, darem, sodat die prins ook kan verstaan.) Ek het gehoor Charlene is warm en toeganklik, maar tog gesukkel om dit te glo. Op TV en glansfoto’s lyk sy meestal so selfbeheers en elegant en onbereikbaar en, wel, koninklik. En hier staan sy nou, elegant in hoëhakke en weggekamde hare, maar haar hand rus op my arm en sy babbel voort in Engels met ’n onmiskenbare Suid- Afrikaanse aksent wat my week maak van heimwee.

Natuurlik ken sy SARIE, antwoord sy my eerste vraag, en hoewel sy in Zimbabwe gebore is, ken sy genoeg Afrikaans om selfs vir haar prins ’n paar woorde soos lekker te leer.
(Minstens een keer terwyl ons gesels, begin prins Albert ’n frase met die tipiese “Jaaa” wat alle Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe verbind.) Ek het meer vrae vir haar as vir hom, maak ek by voorbaat verskoning, maar hy luister met ’n geduldige glimlag na ons – twee vroue ver van die huis wat na koeksisters en braaivleis verlang. Want selfs voordat ek kans kry om te vra of sy al enige Suid-Afrikaanse geregte of gewoontes na die paleis
ingevoer het, bieg sy spontaan dat sy gek is oor melkkos en nie kan wag om prins Albert hierdie heerlikheid te laat proe nie. “En bobotie. Hmmm. En koeksisters. En potjiekos!” Sy het spesiaal ’n driepootpotjie laat oorvlieg na Monaco. Sy hou van koskook, ja, en sy hoop dat sy soms, soos enige getroude vrou, vir haar man sal kan kook. En braaivleis . . .

“Dis dalk wat ek die heel meeste mis van die huis. Sulke doodgewone dinge soos om ’n Sharks-wedstryd te kyk en ná die tyd saam met vriende vleis te braai. En die wye oop vlaktes,” voeg sy met ’n gelate glimlag by. Monaco is ’n ryk land waar mense dig op mekaar in hoë woonstelblokke woon. Die één luukse wat geen geld hier kan koop nie is ware ruimte. En wat waardeer prins Albert die meeste van Suid-Afrika? “Baie dieselfde as wat Charlene mis,” antwoord hy. “Die natuurskoon, die ooptes, die wildreservate.” Ek vra hom of Charlene enige spesifiek Suid-Afrikaanse eienskappe het waarvan hy hou of waaruit hy kon leer.“Ek weet nie of dit spesifiek Suid- Afrikaans is nie, maar sy is só natuurlik, in aanraking met die natuur, plat op die aarde, spontaan, vrygewig.” En hy kyk na haar soos ’n man net kan kyk na ’n vrou vir wie hy lief is.

Charlene 2Prins Albert praat so sag dat jy soms vooroor moet leun om hom te hoor, maar hy het ’n ondeunde sin vir humor wat ’n paar keer in ons kort gesprek opduik. Toe ek vra of hulle al hier braaivleis gehou het, antwoord hy skertsend: “Nie hiér nie,” en wys na die vergulde saal waar ons sit. Toe ek Charlene pols oor haar vordering met die moeilike Franse taal en bieg dat ek ook met ’n Franssprekende man getroud is, is sy enigste kommentaar ’n spottende: “Shame.” Sy wissel gewillig ’n paar sinne Frans met my, maar erken dat dit in
hierdie stadium vir haar makliker is om te verstaan as om te praat. En wat van hul toekomstige kinders? Aangesien die prins ook ’n Franssprekende pa en ’n Engelssprekende ma gehad het, weet hy uit eie ondervinding hoe om kinders in meer as een taal groot te maak. En as dit van sy vrou afhang, sal hul kinders ook ’n paar Afrikaanse woorde leer – en beslis ’n bietjie Zoeloe.

Durban is haar “tuisdorp” waar sy en haar gesin ’n ruk lank gewoon het en waar sy ook geswem en geoefen het. Dis die eerste plek wat hulle saam as getroude paar sal besoek. Hoewel prins Albert reeds ’n paar keer in Suid-Afrika was, het Charlene hom nog nooit haar hartland in KwaZulu-Natal gewys nie, daarom is hierdie besoek vir haar baie spesiaal. Trouens, sy wil ná hul troue so gereeld as moontlik ongesiens probeer inglip vir ’n kuier “by die huis”. Ek wonder hardop of dit nie onmoontlik sal wees vir iemand wat vinnig besig is om een van die bekendste gesigte op aarde te word nie, maar sy grinnik en verseker my dat die Suid-Afrikaners haar sal help om dit reg te kry.

Charlene se maCharlene Wittstock is ’n besonder familievaste jong vrou. Haar ma, Lynette, woon die afgelope agt maande net buite Monte Carlo om haar te help met die voorbereidings
vir die troue, en een van haar twee broers pendel tussen Monaco en Londen. Sy is die ousus, met die verantwoordelikheidsin, beskermingsdrang en leierseienskappe wat so dikwels kenmerkend is van oudste dogters. Maar volgens haar is dit haar loopbaan as professionele swemmer, meer as enigiets anders, wat haar paraat gemaak het vir haar nuwe rol as Haar Deurlugtige Hoogheid die Prinses van Monaco.

 

 

Van die ouderdom van agt jaar moes sy totale toewyding en buitengewone selfdissipline aan die dag lê om haar sportdrome te verwesenlik. Eensaamheid, deursettingsvermoë,
perfeksionisme, dis alles lankal deel van haar lewe as swemmer. Ek vra of die verskuiwing van Zimbabwe na Suid-Afrika toe sy twaalf was dit vir haar makliker gemaak het om nou as volwassene weer eens van land te verander. “Ek dink my swemloopbaan het ’n groter rol gespeel,” sê sy nadat sy ’n oomblik nagedink het. “Ek moes al in soveel verskillende lande aanpas. Engeland, Duitsland, Suid-Amerika, Australië . . . Ek het vyftien jaar lank uit ’n tas gelewe!”

En kry sy steeds tyd om te swem? “Vier keer ’n week,” antwoord sy dadelik. Prins Albert het net gisteraand nog geswem, voeg sy by, “terwyl ek van die kant af sy armhale gekorrigeer het”. Sport was van die eerste oomblik af ’n gedeelde belangstelling. Hulle
het mekaar in 2000 tydens een van haar swemkompetisies in Monaco ontmoet, en hulle is albei bekend as rugby-geesdriftiges. Die prins het van rugby gehou voordat hy haar ontmoet het, maar erken dat hierdie passie selfs groter geword het vandat hy dit met sy lewensmaat kan deel. Durf ons hoop dat hy die Springbokke binnekort gaan ondersteun in die Wêreldbekerreeks? “Behalwe as hulle teen Ierland speel,” antwoord hy. “En miskien Frankryk.” Maar van Frankryk is hy nie so seker nie. Charlene glo sy sal altyd maniere vind om haar lojaliteit te wys, soos om ’n serp in die Suid- Afrikaanse kleure te dra wanneer sy ’n wedstryd bywoon.

Charlene 4Haar skoonfamilie kan spog met van die stylvolste vroue van die afgelope eeu – eers prinses Grace, later prinses Caroline en deesdae ook Caroline se lieflike dogter, Charlotte – maar Charlene het reeds erken haar eie stylikoon is daardie ander blonde skoonheid van Suid-Afrika wat wêreldberoemd geword het: Charlize Theron. “Nee, ons het mekaar nog nooit ontmoet nie. Wat seker verbasend is, want ons het in dieselfde era naby
mekaar in Benoni gewoon. Terwyl sy in die Scout Hall ballet geoefen het, was ek in die swembad aan die swem.” Twee toegewyde goue meisies van Benoni wat intussen rolmodelle vir vele ander geword het.

Later die dag volg ek, in die voetspore van bootvragte vol Amerikaanse toeriste, die Prinses Grace-staproete deur die stad. Dit sal my glad nie verbaas as daar eendag ook ’n Prinses Charlene-roete sal wees wat net sulke getroue skares Suid-Afrikaners lok nie . . .