Ons praat met

Die regte Koos van der Merwe

Hy is rústig (niks kan hom aanjaag nie, selfs al herinner sy vrou hom hy mag maar 60 ry), hy’t gospelmusiek weer cool gemaak (aldus sanger Koos Kombuis), hy’s ’n begeesterde visserman (daar’s bewerings van 50 katrolle in sy motorhuis), amptelik toebroodjiekoning, ’n prediker wat die kerk laat volloop.

Jy kan Koos van der Merwe op verskillende maniere definieer. Maar SARIE-lesers ken hom veral vir dié eienskap wat sy vrou, Barbara, as sy sterkste beskryf: Sy gawe met woorde.

Hy hanteer sedert Junie 2002 die Sielsdinge-rubriek, wat dadelik by lesers aanklank gevind het. Vir Koos het skryf nog altyd maklik gekom. Woorde fassineer en ontroer hom, al van sy laerskooldae toe hy ’n fanatiese leser was.

“Dieselfde woorde wat my bly maak, is dikwels ook wat my hartseer maak,” sê hy, sy blou oë ernstig agter die swartraam-brilletjie.

Ons “stipuleer die lewe uit” in ’n Stellenbosse koffiewinkel, waar hy en sy Prophet-sangmaat, Theo Geyser, pas ’n ontbyt-werksessie agter die blad het. Koos kuier ’n paar dae hier uit Heroldsbaai in die Suid-Kaap.

Dis baie jare sedert dié twee se musiek in party kringe as kontroversieel beskryf is weens hul kommentaar op die kerk en selfs op ’n paar Christelike radiostasies verbied is. Soos Koos dit stel: “Niemand sal Prophet ooit kan naboots nie. Ons is geseën met ’n gekheid as ons saam is.”

Reeds tóé het sy lirieke aandag getrek. Sy lied “Houtkruis” was só ’n groot treffer dat dit vandag, byna 20 jaar nadat hy dit geskryf het, steeds as een van die gewildste oorspronklike geestelike liedjies beskou word. Dis deur talle sangers opgeneem.

Nou het Koos sy eerste solo-album, Ter wille van die opdaag, uitgereik, en met die eerste konsert meer CD’s verkoop as met enige van sy Prophet-konserte in 27 jaar. En Prophet het skielik opnuut oud en jonk se belangstelling gaande – hul nuwe CD, Blou, verskyn vandeesmaand.

Hy probeer altyd sy boodskap poëties mooi oordra, verduidelik hy.

Hy gesels intens oor dinge wat hom na aan die hart lê. Hoewel hy nie maklik kwaad word nie, kan hy hom ontstel oor geestelike snobisme, as godsdiens plastiek is en as mense “voorafverpakte kitsantwoorde” op komplekse kwessies soos lyding aanbied.

Vir hom is spiritualiteit jou hele lewe, nie net een aspek daarvan nie. “Alles het te doen met wat jy glo. Wat jy eet, hoe jy werk, waar jy vakansie hou. God en glo en die Bybel en kerk is die onderbou van alles wat met jou gebeur. As ek net dít deur my rubrieke aan SARIE-lesers kan oordra, het ek geslaag in my doel.”

Jy het ’n paar jaar gelede van Johannesburg na Heroldsbaai verhuis. Wou jy afskaal?

Nee, die skuif was onverwags. Ek was gelukkig in die stad. Ons leraars is gevra om ’n krisis in ’n kleinerige gemeente op George te besleg. Met my eerste preek toe die klompie mense voor my in die saal sit, het ek net geweet: Die Here wil hê ek moet hier aangaan.

Vir die meeste mense het die skuif geen sin gemaak nie. Baie het gedink ek beleef ’n middeljarekrisis! Nou, drie jaar later, is ons almal verras. Ek kan nie dink aan ’n beter lewe nie. Ivan (17) en Claudi (13) het ongelooflik goed aangepas. Ons bly in ’n natuurreservaat, dis heerlik. Die gemeente groei mooi – ons het nou grond gekoop om ’n kerk te bou.

Wanneer het jy besluit om predikant te word?

Vandat ek my verstand het, het ek geweet ek is bestem daarvoor, al was ons nooit in die kerk nie. My pa, Gerrit, het ’n groot teleurstelling gehad met sy boerdery toe ek nog ’n baba was. So groot dat hy nie wou kerk toe gaan nie. Ek het altyd op my eie in die kamer Bybel gelees.

Ek was veertien jaar oud toe ek ’n kruispad-oomblik beleef het, byna humoristies as ek nou daaraan terugdink. Ek het Matteus begin lees.

Toe kom ek by die deel: “. . . elkeen wat sy broer uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.” Dit het my diep geraak. As die ewigheid bestaan het, het ek geen kans gehad nie! Ons was agt kinders en ek het al baie erger goed vir my broers gesê.

So het my pad met die Here begin. Ek het verskillende kerke besoek. My pa was sinies daaroor, my ma, Breggie, nie. In haar hart wou sy eintlik saamgaan, en later het sy ook. Ek het uiteindelik teologie geswot en by die destydse RAU in Johannesburg my doktorsgraad gedoen.

Barbara (jou vrou) vra hoe het die leraar met die eng idees wat sy 22 jaar gelede ontmoet het, se sienings só verander?

Ek is spyt ek het geluister na hulle wat my laat glo het Christene beeld hul geloof uit deur al die taboes – van verbode “sekulêre” musiek tot dans, hoe ’n prediker se hare en klere moet lyk, selfs hoe sondig grimering is. (Kan jy glo?)

Barbara, ek vra jou in SARIE om verskoning dat ons nie die vonkelwyn in die wittebroodsuite van die Sandton Sun in 1988 gedrink het nie – het ons maar! ’n Skynheilige, wettiese engheid stel altyd teleur. Ware lewe lê nie in hoe min ’n mens doen nie, maar hoe baie jy gee.

Party gevestigde kerke loop leeg. Voel mense nie meer tuis nie?

Alle kerke, eintlik alle organisasies wêreldwyd, het die uitdaging: Jy moet jouself heeltyd herskep. Ek is nie ’n sosioloog nie, maar ek is oortuig elkeen se reis na selfverwesenliking sal afdraaipaaie hê na plekke wat nie vir jou gee wat jy soek nie. Die mens het ’n geestelike honger.

Maar die tragiese is as jy terugdraai na die kerk en besef: Hierdie raak my nie, dis steeds oer-opinies oor kerkhou. Ek glo dit gaan al hoe minder oor ’n spesifieke dogma, al is dit nog belangrik. Dit gaan eerder oor wat jy as gemeente in jou omgewing doen – hoe jy mense bereik.

Wat is jou opinie oor die invloed van iemand soos Angus Buchan?

Ek ken hom nie en was nog nooit by sy dienste nie. Hy lyk na ’n opregte mens. Deur die eeue het groot figure opgestaan en duisende beïnvloed, nog altyd. Máár as my geloofsreis afhanklik raak daarvan om gereeld só gestimuleer te word, dan is ek versigtig.

Die geloofsreis gebeur primêr agter ’n toe deur. As jy afhanklik raak van glam byeenkomste, sonder dat jou geloof as individu groei, dan het jy ’n probleem. Om jouself net in massas te verloor . . . dis byna toksies.

Is daar ooit dae dat jy “af” voel?

Ja. Ek is ’n blymoedige mens, maar ek het ’n taamlik melancholiese persoonlikheid. Soms is daar tye dat ek voel ek is half in die skaduwee. Jy moet dit leer verstaan en gebruik. Daai donker kant kan vernietigend wees, behalwe as jy dit betekenis gee. Ék raak kreatief. Sodra ek voel ek moet nou nie te veel met mense of ligte goedjies doenig wees nie, sal ek doelbewus musiek maak of skryf.

Jan Hoogendyk (jou vriend en musikant) vertel jy het al gesê jy wil ’n boek oor die liefde skryf, maar of jy daarby sal uitkom . . . So, hoe lyk ware liefde?

Hy wat dit waag om ware liefde in ’n neutedop te beskryf weet nie veel daarvan nie. Maar miskien het ons nodig om weer te stoei met woorde soos teerheid, respek, aanhou, getrouheid. En ons kan beslis baat vind by ’n drastiese afname in woorde soos “die bokkie of tertjie wat vanaand by my wil lê, kan maar lê, ek is ’n loslappie met ’n los muis of dergelike anatomiese lastighede . . .”

Wat het jou na jou vrou aangetrek?

Party mense het ’n stroperige spiritualiteit wat net nie eg kan wees nie. Sy is real. En sy het my uitgeboul, sy is ’n skoonheid.

Ons hou albei van kuns, musiek, kunsflieks, saam mooi goed koop. As sy kon, sou sy seker voltyds skilder. Sy is gemeentebestuurder. My gesin is baie belangrik. Soms kry ek so ’n hartseer gevoel oor my kinders grootword; seker maar my eie sterflikheid waaraan ek herinner word.

Ivan is ’n regte surfer, hy is ’n mellow siel. Claudi is weer die go-getter.

Ivan – deesdae langer as jy – wil weet hoe voel dit om nie meer die sterkste in die huis te wees nie?

Dis mooi, my seun – hou aan droom! En onthou, nie die dikte van die biseps maak ’n mens die baas nie, maar die dikte van die beursie.

Hoe hou julle vakansie?

Ons hou van die natuur. Barbara se ouers is woonwa-mense. En vir my moet daar altyd water wees. Vir die visvang. Ek was al op vakansie sonder water, dit werk nie.

Vanwaar die visvang-fassinasie?

Kleintyd in Edenvale aan die Oos-Rand het ons altyd karpies in die dam gevang. Ek vang al my lewe lank vis, waar ek ook kom. Ek sukkel om woorde te kry om te sê wat met my gebeur as ek ’n vis uittrek en in die pan gooi. Dis in my bloed, soos musiek.

Theo (jou sangmaat) wil weet of jy dink dis moontlik dat Prophet eendag ’n volwaardige sanggroep sal word − siende dat dinge nie vinnig gebeur in jou lewe nie.

Geseënd is hulle wat glo dat hulle niks is nie, want hulle sal iets kan word. Wee hulle wat dink hulle kan sing bloot omdat hul Afrikaanse CD goue status bereik het. Theo, dinge gebeur stadig, maar verkope is nie die maatstaf nie – onthou Van Gogh.

Was musiek altyd in jou lewe?

Altyd. Kleintyd, as ek opera gehoor het, het ek in die motorhuis gaan sing. Ek het aan skoolkonserte deelgeneem en met my hele wese begeer om klavier te speel. In standerd vyf (graad 7) het my pa ingestem, maar toe gee die ou pianola skielik die gees. Ek was só teleurgesteld.

Vyf jaar later het ons besef ’n hefboompie het bloot vasgehaak, maar dit was te laat. In 2007 het ek besluit dié hoofstuk moet klaar. Ek het daardie Desember my gesin byna gek gemaak met my geoefen. Ongelooflik, ek het presies dieselfde oorweldigende emosies ervaar as in standerd vyf. Emosies het nie ouderdom nie. Ek het deesdae ’n klavieronderwyser.

Lukie Carelsen (musiekvervaardiger) wil weet wat jou hoogtepunt as sanger/ komponis is?

Ongetwyfeld die talle kere dat mense my voorgekeer het en vertel het dat een van Prophet se liedjies ’n diep en betekenisvolle invloed op hul lewe gehad het.

Koos Kombuis (sanger) sê jou lied “Ek begin alreeds wonder” herinner aan “Money” van Pink Floyd – ’n vreemde ritme wat fantasties pas by die tema. Wat presies gaan hier aan?

In Bob Dylan se liedjie “Not Dark Yet” worstel hy met sy sterflikheid. Ek het self begin dink oor die dood, ’n soort nuuskierige fantasie. Hoe sal ek eendag doodgaan? Skielik? Waar? Toe het die lirieke net gekom. Die musiek moes die vreemdheid van my gedagtes weerspieël. Ons almal dink daaroor, maar wil dit ook vermy. Ons gedagtes oor die dood is op sigself ’n vreemde ritme.

Watter onvervulde droom wil jy nog uitleef?

Om ’n 51ste katrol te koop. En ’n kerk te bou wat soos musiek tot ’n mens spreek. En ’n boek te skryf wat mense se binneste laat reis na wêrelde waar die klanke van die ewigheid deur ’n baie dun membraan oor die siel spoel.