Ons praat met

Die sleutel tot Anna-Mart

As Anna-Mart tegelykertyd aan meer as een produksie werk, sê sy, soek sy ’n baie spesifieke simbool, ’n sleutel tot elke karakter wat sy vertolk . . . ’n Blom, ’n dier, ’n kleur of ’n geur, wat sy dan deurentyd met daardie rol vereenselwig. Vir haar is die teks alles. “Soos jy krap, krap, krap, begin ’n draaiboek ontvou, vind jy die ding wat die essensie van die karakter vasvat.”

En so, met twee eenvoudige opmerkings help sy my om die sleutel tot háár karakter te kry. Behalwe dat dit nie ’n enkele sleutel is nie, maar sommer ’n hele bos. Party blink en nuut, ander oud, geroes en vol karakter, hier en daar een vol krulletjies en frilletjies. En soos jy krap, krap, krap, ontsluit jy. Maar metafore vir Anna-Mart hou nie by sleutels op nie. O, nee. Die eerste ding wat my opval terwyl ons onder die prieel van ’n rustige kwekery-restaurant sit, is haar wit linnehemp.

En ek dink: Jis, Anna-Mart is ’n wit linnehemp. So eg, natuurlik, ongekunsteld, so classy en perfek by daardie klassieke gesig sonder ’n greintjie grimering. En terwyl ek nog sit en herkou aan dié vernuftige insig, kom ek agter dis ’n vrou wat die verskil ken tussen ’n vetvrye cappuccino en ’n laevet-cappuccino . . . En net daar laat dink dit my aan die storie van die prinses en die ertjie, wat eersgenoemde, danksy haar inherente koninklikheid, onder twintig matrasse kon voel!

Maar my missie met dié sonderlinge vrou is nie om eindelose vergelykings op te spoor nie (die versoeking is egter konstant daar). Dis om uit te vind wat lê onder die grimeer-lose, wit-linnehemp-oppervlak. Is daar meer aan Anna-Mart as goeie aktrise en voorbladgesig? Is daar donker dieptes en skaduryke stories wat sy nóg nie in oënskynlik eindelose onderhoude verklap het nie?

“Almal het verskillende opinies oor en idees van ’n mens,” antwoord sy. “Die mediabeeld is uiteindelik die onderskeie joernaliste se ‘interpretasie’ van die akteur en dis hul reg. Ek het geen probleem met my beeld nie, en ek wil nie beheer daaroor hê nie.” Sy voeg met ’n boere-Mona Lisa-glimlaggie by: “Uiteraard is daar baie ander fasette aan my, en kan ek nou hier begin sê hoe sleg ek kan wees en hoe wild ek kan wees en hoe hard ek kan vloek, hoe oulik en interessant ek is, soet sjokolade met ’n rissievulsel?! Maar wat wil ek dan bewys?”

Dit, vermoed ek, is die ding van Anna-Mart, die duiselingwekkend deursigtige mens met die hardnekkige misterie. Sy het baie om te gee, baie om te leer (soos in learn én teach), baie om te doen en te deel. Maar Anna-Mart bewys nie. Anna-Mart is . . .

 

Ek sukkel om ‘nee’ te sê, die ewige dilemma met ‘wat is my rede?’ Ek moet tog ’n rede gee . . . Sug!

 

Sy is byvoorbeeld nie bang om te erken dat sy bang raak nie, dat sy soms voel sy het nie genoeg lewenservaring vir ’n rol nie, dat sy, in haar eie woorde, “nog nie lank genoeg gelewe het om reg te laat geskied aan die reis nie”. Soos wat die geval was in die verhoogopvoering van Tsjechof se Oom Wanja en in Katinka Heyns se film Die storie van Klara Viljee, sê sy. En wat doen ’n mens dan? “Dit het te doen met voorbereiding,” antwoord sy. “Om jou in ’n situasie in te dink. Die finale akteur-strewe is totale oorgawe, om te vertrou en jouself heeltemal oor te gee.”

Dan is daar natuurlik ook die bang vir die nuwe soos die dans en sing wat sy onlangs moes uithaal en wys in regisseur Jaci Smith se produksie van Imbumba/Samesyn by die KKNK. “Dit was nuwe goed, beweging, sang. Ek is ’n akteur, ek is nie gewoond aan ’n mikrofoon aan my kop sit nie.”

En dis maar net die begin van die bang. Sy is ook soms bang om ’n probleem of situasie vreesloos te takel en “gaan kruip dan sommer agter die boom weg”. Maar wanneer, vra ek, was sy nog die heel bangste in haar lewe? En sy vertel:

“Met ons familievakansie in 2004 in Robbehoekkloof in die Humansdorp-omgewing. Dit het kwaai gereën en die rivier het skielik in ’n bruin, siedende monster ontaard. Ons kon nie meer met die motors uit die vallei kom nie, want die paaie was toe al verspoel. Ek was so bang vir die water, en ek was so bang my hartsmense gaan dood. Dit het my ook laat besef dat iets soos die Laingsburg-tragedie nie net ’n ‘veilige’ Huisgenoot-storie was nie. Ek is seker daardie trauma leef nog voort in elke mens wat daardie dag op die dorp was.”

Sy is – desondanks ’n onlangse gerug – nie ’n werkoholis nie. “My werk hou my aan die lewe, dis my passie. Maar ek kan myself baie maklik onttrek en net boeke lees, in my kop rond lewe, reis en iewers met ’n glas wyn in die hand die mensdom en die lewe van ’n straatkafee-stoel af beleef.”  Nee, sy is nie altyd gelukkig, glimlaggend en vol lewensvreugde nie, veral nie sekere tye van die maand as sy soms “ondertoe glip” nie. Meestal, erken sy, “oor ek daai fout maak om in negatiewe gedagtes rondom my lyf/gewig/aard te verval. Baie pateties en self-indulgent.

En, ingeval ons wonder, sy verloor haar humeur oor mense wat sigaretstompies by motorvensters uitgooi, oor selfsug en oor haar rekenaar. Sy is miskien nie ’n kaartdraende houer van “Springbokkleure in die verhoudingsafdeling” nie. Sy is ongetwyfeld ’n fontein van insig. “’n Mens voel dat jy net in verhoudings die kans gegun word om jouself en jou identiteit en lewenswaarhede te leer ken, te ontdek. Niks skuur aan die vind van ’n eie identiteit soos familie nie. Niks gooi spieëls voor jou op soos ’n romantiese verhouding nie. Niks mentor jou soos ’n goeie onderwyser, baas of ouer nie. En niks laat die skille van jou oë afval en naak voor die waarheid staan soos ’n sê-ding uit ’n suigeling se mond nie.”

Sy is, sy voel ten diepste verantwoordelik. Op my vraag of daar enige lewende persoon is wat sy verag, antwoord sy: “Nee, of liewer, daar is seker. Maar ek het iets waardevols geleer uit daardie wonderlike toneelstuk van Lara Foot-Newton, Tshepang, oor die verkragting van ’n ses maande oue baba. Dit eindig met een karakter wat sê: Shame on us. Dit het my laat besef ek is uiteindelik deel van die samelewing waaruit verkragters, kindermolesteerders, despote, moordenaars, ensovoorts, kruip. Wat is my aandeel daaraan?”

Sy is vol lof vir haar mentors . . . Drama-doyenne Babs Laker, wat haar aan die wonderwêreld van drama bekend gestel het toe sy eintlik gaan tale swot het. (“Babs het my oë oopgemaak en my deur die geboortekanaal gedruk.”) Annie Basson, wat haar nie net alles van die filmbedryf geleer het nie, maar ook totale konsentrasie en die vermoë om elke woord te hoor asof dit die eerste keer is. En nog ’n hele paar wat in die loop van die gesprek opduik.

Sy is baie stil oor haar egskeiding van mede-akteur Philip Moolman vyf jaar gelede. En oor die nuwe man in haar lewe, George. Iets wat jy uit respek, met graagte en uit dankbaarheid vir haar spontaneïteit en wit-linnehempeerlikheid aanvaar. Die ding is, mens wil nie eintlik ’n storie oor Anna-Mart skryf nie. Jy kan ’n kortverhaal, ’n tesis, ’n roman skryf oor die vrou met die vele sleutels . . . Wie se idee van volmaakte geluk stilte en die volmaan is, wat verkies om haar geld op geskenke, kuns en kos uit te gee, wat sukkel met haar knock knees en wie se grootste lewensliefde suurstof is.

Maar uiteindelik is sy eindeloos meer as die somtotaal van haar fassinerende dele – van die blink tot die roes, van die oud tot die nuut. Let wel: Anna-Mart is nie ’n ou siel nie, sy’s ’n tydlose siel . . . En ’n akteur wat nie iets spesifieks meer wil doen nie. Sy wil net groei. “’n Rivierklip,” sê sy, “word net geskaaf as water oor hom vloei. Dis om daardie proses toe te laat.”

. . . en nog iets wat jy nie van Anna-Mart geweet het nie. In haar eie woorde . . .

 

‘Ek dans graag op my eie in die sitkamer. Met my 35ste verjaardag sou ek op ’n stel wees, maar ons het vroeër klaargekry. Ek het vir myself ’n soesji take-away gekry, skemer by die huis aangekom, musiek aangesit, ’n bottel vonkelwyn oopgemaak en my beste verjaardagpartytjie nóg saam met Betty en Gatto, my katte, gehad. Ons’t gedans dat die biesies (en die muise!) bewe.’

 

‘Ek is bang vir die donker, slange, spinnekoppe en rekspring.’

 

‘Ek kan ’n hele jumbo-pak marshmallows in een sitting opeet.’

 

‘Ek hoor mense sê hulle kan nie alleen drink nie, maar ek kan ’n glas wyn skink, op die stoep sit en heerlik oor dinge dink’

 

‘Ek kan nie konfrontasie hanteer nie.’