aug06voorbladartikel1a
Ons praat met

Ilne Nienhaber: Die tomboy het ’n ster geword

Ilne het die lyf, sy het die familie, sy het die man en sy het die loopbaan. Dit gaan goed met Ilne, verklap haar groot, groen oë en daardie Julia Roberts-mond wat maklik lag. Verál met haar loopbaan. Sy het onlangs by die kykNET-sepie Villa Rosa aangesluit waar sy “vreeslik gelukkig is en nog lank wil bly”. Sy speel die rol van Lindie Els. “’n Feeks met ’n hart,” is hoe Janine Opperman, Villa Rosa se hoofskrywer, Lindie beskryf.

“Iemand wat aaklige goed doen, maar iemand met wie kykers simpatiseer omdat sy ’n moeilike lewe gehad het. ’n Lekker driedimensionele karakter.” Met meer om die lyf as vorige rolle wat sy vertolk het, sê Ilne. “Ek het voorheen jong meisies gespeel, wat nie baie lewenservaring gehad het nie. Lindie is ’n opwindende karakter. Sy’s al deur so baie. Sy is streetwise. Dis ’n uitdaging om in haar skoene te klim.”

Toegewyd en professioneel, is wat Janine van Ilne sê. En mooi met ’n tikkie verleidelikheid. Jy sal Ilne ook onthou as Hermiena in die SABC2-komediereeks Oepse Daisy en die kelnerin Libby in 7de Laan, wat saam met Bart (Neil Sandilands) gevlug het ná ’n vorige kêrel handgemeen met haar geraak het. Ilne is ’n ongelooflik warm, vriendelike mens, sê Neil. “Dit was heerlik om saam met haar te werk. Sy het nie issues nie. Afgesien van die werk, kon ek altyd ’n geselsie met haar aanknoop. Sy het altyd ’n glimlag op haar gesig gehad.”

Aktrise word was onafwendbaar, vertel Ilne op ’n koue winteroggend in ’n koffiewinkel in Melville. “Dis my grootste tydverdryf én stokperdjie.” Dís te danke aan haar ma wat “iets” in haar raakgesien het toe sy skaars vyf was. “Ek wou altyd die middelpunt van belangstelling wees,” vertel dié 25-jarige aktrise. “My ma het my toe na ’n drama-onderwyseres geneem en gesê: ‘Hier is sy, sy wil iéts doen, help haar.’ My pa het van kleins af gesê ek leef in ’n TV-wêreld en moet terugkom aarde toe. My hele lewe was ’n rolprent. Ek het die mense om my as karakters gesien en die draaiboek vooruit beplan. As iets nie volgens plan verloop het nie, was ek heeltemal omvergegooi, want ek het die einde van die ‘rolprent’ anders beplan.”

 

My pa het van kleins af gesê ek leef in ’n TV-wêreld en moet terugkom aarde toe

 

Sy het drama aan die Universiteit van Pretoria begin studeer, maar toe die kans opduik om in Egoli te speel het sy haar studies gelos, vertel sy oor haar eerste rol in 1999. Haar ervaring as aktrise het toe maar so on the job gebeur, sê sy. By Egoli was Christine Basson (Nora) haar groot inspirasie. “Christine is ’n ongelooflike aktrise en baie professioneel. Sy het my bygestaan en gehelp, altyd wenke gegee.”

Die voortdurende aandag van die publiek is onvermydelik as jy ’n sepie-ster is. Fake fame, noem Ilne dit. “Omdat jy op TV is, is jy die alfa en die omega omdat die SA rolprentbedryf so klein is.” Sy vertel hoe mense letterlik “in troppe” op haar afgestorm het toe sy in 7de Laan gespeel het. “Ek is nie mal oor daardie deel van my werk nie. As ek kon, sou ek graag in ’n Amerikaanse fliek wou speel wat net in Thailand uitgesaai word.”

Ongekunsteld sou ’n mens Ilne ook kon beskryf. En klein, baie klein. Met die onderhoud is daar nie ’n tikkie grimering op haar blas vel sigbaar nie en haar swart, reguit hare val sonder fieterjasies op haar skouers. En die groot, groen oë . . . Dis die einste groen oë wat “net eenvoudig ophelder” as die kamera flits, soos die fotograaf Leana Clunies-Ross sowat twee weke later by die voorblad-fotosessie opmerk. Ilne lyk modelmooi in die vurige rooi uitrustings aan haar nommer 32-lyf. “Sy lyk net eenvoudig nie sleg op ’n foto nie,” sê Candice-Lee Kannemeyer, SARIE se skoonheidsredakteur. “Die kamera is gek oor haar.” Dié glans is ver verwyder van Ilne se rabbedoe-dae.

“Ek was ’n verskriklike tomboy toe ek klein was. Ek is nog steeds! My ma moes my dwing om rokke te dra. Ek was gemakliker in my ouer broer se kortbroeke. Ek haat aandrokke en dra min grimering. Maar ek is vandag gewoond aan al die grimering wat ek moet dra omdat ek ’n aktrise is.”

Beste herinnering as kind? “My ballet-eksamens. My ma het my elke jaar vir middagete uitgevat ná my eksamen. Dit was die hoogtepunt van my jaar en baie spesiaal. Ek was die enigste idioot wat opgewonde was oor die ballet-eksamen!” Sy is die enigste van hul vier kinders wat ’n kunssinnige streep het, soos haar ma, Irma, ’n pottebakker en skilder.

 

Ek sou graag in ’n Amerikaanse fliek wou speel wat net in Thailand uitgesaai word

 

Ilne praat maklik én graag oor die man in haar lewe, Seef Muller, ’n projekbestuurder, met wie sy begin-Julie getroud is. “Dit was liefde met die eerste oogopslag,” borrel sy. “Ek date ouens al van st. 8 af. Seef is die eerste ou wat my skoenlappers in my maag gegee het. Dis sy sin vir humor, sy teerheid en liefde wat hom onweerstaanbaar maak. Hy is daardie ou wat almal soek wat nie meer bestaan nie.” Seef gee ’n verbaasde laggie en sê effe ongemaklik: “Ek is bly sy sê dit. Ek voel dieselfde oor haar.”
Dis Ilne se spontaneïteit wat haar onweerstaanbaar maak, sê hy. “Sy kan partykeer soos ’n klein meisietjie wees, vol energie. Ek is mal daaroor. O, en dan’s sy flippen mooi en baie goed gebou,” kan hy nie help om by te voeg nie.

Seef bring ’n algehele kalmte in haar uit, sê Ilne. Dié kalmte is broodnodig, want sy stres oor alles, erken sy. “Die kleinste goedjies, my werk, die huis. Ek het ’n spastiese kolon daaroor en ek kners saans op my tande. En ek is ’n bietjie behep met orde. Stupid goed soos die skottelgoed wat altyd gewas moet wees en die huis wat altyd skoon moet wees. Seef is ontspanne en vat alles soos dit kom. Hy gee ons verhouding balans.”

Dis dissipline wat haar soggens douvoordag laat opstaan om te oefen, sê sy. “Ek gebruik nie my Health Walker as ’n handdoekreling nie. As ek 07:00 op stel moet wees, is ek 04:15 wakker om te oefen. Ek raak geïrriteerd as ek nie oefen nie en ek kry hoofpyn.”

Die wêreld lê oop voor Ilne en sy sal graag wil toer. Dis haar droom om New York toe te gaan, maar vir ’n ander rede as wat jy sou dink. Waar baie mense graag die Empire State-gebou of die Vryheidstandbeeld wil sien, wil Ilne net ’n koppie koffie by een van die gewilde Starbucks-koffiewinkels bestel. “Dis laf, ek weet. Maar die eerste dag dat ek in New York aankom – dit moet in die winter wees, want ek wil ’n jas aantrek – wil ek ’n lae-vet vanilla-cappuccino en ’n bagel koop,” sê sy voor sy nog ’n koppie koffie in Melville bestel.