Ons praat met

Die vinnigste man in die land

Simon Magakwe is vandag SA se vinnigste man op die atletiekbaan oor 100 m. Hy’t dit Saterdag sommer twee keer by die SA Kampioenskapsbyeenkoms op Stellenbosch bewys – die eerste keer het een van die atlete te vroeg weggespring en hulle moes weer hol. Toe hol Simon, en hy hol. Sy eerste tyd was 10,32 sek. Moeg? Nie sommer nie, want sy tweede tyd was 10,21 sek. Dié 23-jarige atleet van Carletonville, Gauteng, het met Mercy Morkel gesels.

 

Wat het deur jou gedagtes gegaan toe julle ’n tweede keer moes hardloop?
Ek was woedend, nie vir my mede-atleet nie, maar vir die beampte by die wegspringplek. Maar ek het die tweede keer ook met geen vrees in my hart weggespring en net op die wenstreep gefokus. Ek wou my werklik goed voorberei vir die 200 m net daarna, maar daar was nie genoeg tyd nie en ek het tweede geëindig.

 

En nou wag die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Augustus in Berlyn, Duitsland.
Ek kon dit nie glo nie! Ek wou maar net my wedloop wen. Ek sien baie uit daarna. Daar is uiteraard stres om my beste tyd te verbeter.

 

Jy’s ook genader deur die SA verspringer Khotso Mokoena se Finse agent om jou atletiek-belange te behartig. Opgewonde?
Mnr. Jukka Harkonen het met my en my afrigter, Annatjie Smit, hieroor gepraat. Ons het nog geen kontrak geteken nie, maar ek is dankbaar dat daar sprake is van ’n moontlike borgskap. Ek het Saterdag gehardloop in ’n frokkie wat iemand vir my gekoop het en met spykerskoene wat Hezekiel Sepeng drie jaar gelede vir my present gegee het. Die burgemeester van Carletonville het my reis en verblyf op Stellenbosch geborg.

 

Is Hezekiel een van jou helde?
Ja, hy moedig my altyd aan en sê gedurig ek moet nooit tou opgooi nie.

 

Aan watter klub behoort jy?
Ek oefen elke dag by die Smitanthlons-atletiekklub, wat deur Annatjie begin is. Sy is al sewe jaar my afrigter.

 

Volg jy’n spesifieke eetplan vir stamina?
Nee wat, ek kan nie spesiale kossoorte bekostig nie. Ek eet pap en vleis en is gelukkig baie fiks.

 

Wat doen jy as jy nie op die baan is nie?
Ek is ’n vryskutfotograaf wat ID- en paspoortfoto’s voor Binnelandse Sake se kantoor neem.

 

Waar het alles begin?
Ek neem sedert my eerste skooljaar in Itsoseng, naby Mafikeng, deel aan atletiek. Kaalvoet en vinnig. Toe ek op hoërskool met spykerskoene begin hardloop, was dit nogal ’n gesukkel om daaraan gewoond te raak!

 

Wie of wat motiveer jou om te wen?
My ma, Martha, is altyd daar om my aan te moedig. Haar beste wense was saam met my op Stellenbosch, terwyl sy in Carletonville vir my gebid het. En natuurlik doen ek dit ook vir myself. Ek dryf myself om die beste te wees, om soveel moontlik ervaring op te doen. Ek glo God gee my die krag hiervoor.

 

Jou grootste droom?
Sonder twyfel om die 100 m internasionaal in 9,99 sekondes af te lê.