Gys de Villiers en sy vrou, Jaci
FOTO: Willem Lourens

Gys de Villiers en sy vrou, Jaci FOTO: Willem Lourens

Ons praat met

Die vrou aan Gys se sy

Die akteur Gys de Villiers en Jaci Smith, aktrise, toneelskrywer en regisseur van Johannesburg, is op 1 Julie 2006 getroud. Hy wil saam met haar oud word, want sy is vir hom intelligent, sexy en laat hom glo hy kan enigiets regkry.

“My pa, die rolprentmaker Dirk de Villiers [oorlede in 2010], het my gewaarsku teen ’n graad in drama. Maar in 1981 is dit wat ek toe wel aan die Universiteit van Kaapstad begin swot het. Ek was kwaad vir die destydse regering ná twee jaar in die weermag, my kop was deurmekaar. Ná ’n jaar wou ek my eie geld verdien, toe doen ek ’n ruk lank kinderteater vir die destydse streeksraad TRUK.

In my jong dae was daar baie partytjies waar ek die son sien opkom het. My hart is dikwels gebreek en ék het ook ’n paar harte gebreek. Maar ek was altyd ’n romantikus en het gedroom van iemand wat saam met my kan oud word. Dit was desperate, eensame, wilde dae. Al die sigarette en drank het my lyf moeg gemaak, jou stem raak gouer stukkend.

Daar was toekennings. Onder meer vir my rol in die toneelstuk Die Spinner met anti-oorlogsentimente. [AA Vitaen Dalro-toneelpryse vir beste akteur.]

Daar was ook lekker rolle in TV-reekse soos Die vierde kabinet, Triptiek 1 en 2. Ek was ’n funksionerende alkoholis.

Maar op veertig was ek gatvol vir ’n babelas, die kar afskryf, beursies verloor en al die aande wat ek nie kon onthou hoe ek by die huis gekom het nie.

En toe haak ons af

My en Jaci se paaie het in 1993 gekruis. Sy was die verhoogbestuurder van ’n produksie wat Grahamstad toe gegaan het. Ek het met ’n vrou in dié produksie uitgegaan.

’n Jaar later het Jaci my in die toneelstuk Die nag, die moeder van die dag gesien en lekker na my geloer. Ek was nóg nie gereed vir haar nie.

Toe kruis ons paaie weer in 2001 op Grahamstad. Ek was ses maande lank nugter (en is sedertdien!) en kon haar rááksien. Toe gaan eet ons uit en haak af. Maar toe hardloop ek weer.

Agt maande later het ek haar egter gebel en gevra om te help skryf aan die toneelstuk Suig. Ná ’n naweek se saamwerk in die Magaliesberg laai sy my af en ek dink: ‘Sy moet nooit weer wegry nie.’ Ek het haar dadelik gebel en dit vir haar vertel. Later koop ons toe huis en trou. By haar hoef ek nooit deur hoepels te spring vir liefde nie. Sy aanvaar my onvoorwaardelik.

Nuwe lewe

Jaci is ’n besonderse vrou wat my geleer het om die lewe te beskou as ’n plek vol moontlikhede, nie ’n struweling om oorlewing nie. Ons skreeu of baklei nie, maar soek oplossings vir probleme. Ek het drie jaar gelede opgehou rook. My werk het ook verbeter. Sy laat my nie wegkom met truuks as sy regie doen nie. Jaci is báie puntenerig en sy druk my uit my gemaksone tot hoër hoogtes.

Soms raak dit ’n bietjie knap as jy saam bly en werk, maar ons kom altyd sterker daaruit. Ons wedywer nie, maar inspireer mekaar. Ons hou van reis. Dít blaas jou kop oop. Sy is ook so ’n lekker grapjas.

In die toekoms wil ons in New York gaan woon. Ons soek nuwe avonture. Tyd sal leer wanneer.”

Wat Gys geleer het

  • Jaci is my familie, my enigste beste maatjie. Ek kan my nie die lewe sonder haar voorstel nie.
  • ’n Mens het altyd keuses.
  • Gee met ’n oop hand. Wees veral vrygewig met jou kennis en talente.
  • Wees altyd dankbaar vir wat jy het.
  • Wees vriendelik, veral oor die telefoon.