Ons praat met

Die Wincklers se ski-vakansie foto’s

Ons was lankal al gevra om saam met vriende na Bulgarye te gaan vir ’n ski vakansie, maar omdat ons nou die trotse ouers van ’n jong baba seun is het ons nie eers twee keer daaraan gedink nie. 

Maar skielik soos ’n bliksemstraal van wysheid wat my tref het ek eendag net besef: “Hoekom nie?” Lian kan by sy ouma by die see bly (sy gaan dit terdeë geniet) en ek en pappa het definitief ’n bietjie tyd alleen nodig.

Vir dié wat nog nie kinders het nie, die bloeitjies sit buitengewone druk op jou huwelik, beursie, lyf  én slaappatrone. En deur ’n oorsese trippie word al hierdie aspekte, op beide positiewe en negatiewe maniere, aangespreek…

Tyd vir ‘n welverdiende vakansie

Tassies gepak, sien ons vir Lian af met BAIE trane vlak in ons oë en klim ons op Turkish Airlines om via Istanbul , Bulgarye toe te gaan. Ons sou oorspronklik (net) ’n 12 ure wagtydperk in Istanbul hê, maar nadat hulle vlugskedules verander is, het hulle betaal vir ons om een aand daar te oornag en eers die volgende middag uit te vlieg  na Sofia, Bulgarye.

Ons het deur die nag gevlieg en sesuur die oggend voos daar aangekom, maar die wonderlike Turke het hulle kamers en harte oopgemaak vir hierdie boertjies en kon ons ’n bed dadelik lelik seer maak.

Teen 12 uur die Vrydagmiddag  (oujaarsdag) is ons wakker gemaak deur ’n wekker van Moskees. Na ’n lekker warm stort en skoon klere kon ons die sogenaamde  Old City van Istanbul verken. Jy waag jou lewe, jou sanity en jou bankbalans as jy ’n “draai” gaan maak in die Grand Bazaar.

Die Grand Bazaar in Turkye was ‘n belewenis

As iemand jou daar los laat sal jy nie in ’n week deur die hele bazaar kan beweeg nie.  Elke stalletjie eienaar “will give you a good deal” en daar was selfs ’n paar wat kon hoor ons praat Afrikaans en weet ons kom van Suid-Afrika.  Om julle ’n idee te gee, voor jou , langs jou, agter jou en bykans bo jou, hang pashminas, juwele, tasse, Turkish Delight en Appel Tee, (nagemaakte ) ontwerpersklere, en dan my gunsteling: LEER.

O ja. Die Wincklers het ’n draai gemaak by Yosuf wat sommer net daar vir ons sê: “Pas bietjie hierdie aan.” (Ek wens ek kon die aksent neerpen). Hy het blykbaar met ’n dame van Pretoria ’n affair gehad, en kon lekker saam praat. Na ’n baie goeie onderhandelingsessie en bloedsweet verlaat ons die sjarmante man met vier leerbaadjies in ons arms. Asemrowend mooi en teen belaglike billike pryse.

Nou moet ek ook by sê, my man is baie beïndruk met my onderhandelingsvermoë, want net as hy wil ingee dan stry ek hulle nog so bietjie af.

 

Tassies gepak, sien ons vir Lian af met BAIE trane vlak in ons oë en klim ons op Turkish Airlines

 

‘n Nuwe jaar in ‘n vreemde land

Daardie aand gaan ons na die hawe waar honderde jong mense luister na ’n Turkse band, en wag vir die  nuwejaarstelling en vuurwerke! Wat ’n ervaring!

Gereed vir die ski-HEL-lings

Die volgende dag besoek ons die Blou Moskee en verlustig ons aan die argitektuur, kultuur en STARBUCKS!  Laatmiddag is op pad Sofia toe, waar ons weer ’n taksie kry na Bansko, ’n dorp wat ’n ski-oord is. Laataand voeg ons ons by die res van die brigade wat hul lywe jonk en viets gaan hou op die ski-HELlings. Ses van die agt besluit om eerder te snowboard  wat blykbaar moeiliker, maar ook meer bevredigend is…

Sondagoggend is ons toerusting en uitrustings bespreek ons vir ses dae op die berg. Twee lesse by Petyr Yovchev (kry die gevoel van tjoef-tjaf as jy dit sê) is ingesluit.  Toe Maandagoggend aanbreek is ons almal met ’n gondola bergop. Daar is ’n bonatuurlike stilte wat in die berge heers en die sneeu, wat deur die nag begin val het, het als spierwit gemaak. Van die manne wat al ge-snowboard het, wou ons bietjie touwys maak vóór ons les (en ná ons hot-chocolate met rum in) en binne my eerste 10 sekondes van my lewe op ’n bord val ek my stuitjie disnis en kan ek vir die res van die week nie daarop sit of val nie. Na dag een kon ons skaars loop en ons het besef ons is nie meer 20 nie!

Die lesse het goed gevaar en teen die einde van die week kon ons onsself mooi help. Heinz was ’n champ  wat op dag een ’n uur en ’n half gevat het om teen die berg af te kom het teen dag ses slegs 25 minute geneem.

“Die Bulgaarse kos was WONDERLIK”

Na ’n dag van harde werk op die sneeu het ons onsself gereeld beloon met ’n pannekoek met piesang en sjokelade of miniatuur doughnuts, of donuts soos hulle dit skryf. (Ja, ja ek weet ek het weer agteruit geboer sonder my dokter, maar dis ’n nuwe jaar en ons begin maar net wéér).

 

Na dag een kon ons skaars loop en ons het besef ons is nie meer 20 nie!

 

Het ek al genoem dat ons selfhelp huisie in die hotel die kleinste van almal was en kon ons twee beseerdes nie eers langs mekaar slaap nie. Inteendeel het ons ons lywe lekker jonk gehou en menigte nagte tot watter tyd saam met die ander kerjakker. Een van hierdie aande het ’n karaoke aand geword en ek kon net giggel toe Heinz en Sumari (ook ’ n sangeres) die mense onder die tafel in sing. Almal was tjoepstil en het net gestaar…

Altyd plek vir nog ietsie

Na die wonderlike ervaring in Bansko het die Wincklers nog een aand in Sofia (die hoofstad van Bulgarye) oorgeslaap voor ons weer die pad  huis toe via Turkye aangepak het.  Sofia is spotgoedkoop en  daar kon ’n mens ’n paar leerstewels koop vir R150! Ongelukkig het ek teen dié tyd nie plek vir ’n muis in my tas gehad nie. Alhoewel, toe kom ons by die grootste winkelsentrum in Istanbul en ek besoek net twee winkels (van die 100de) H&M en Zara, en hierdie mamma skaf sommer vir haar NOG bagasie aan om dit te akkommodeer.

Met ander woorde, soos julle kan aflei het ons huwelik, lywe, slaappatrone en beursies gebuig, maar vriendskappe is gesmee, kosse is geproe, kulture is ervaar en tradisies is begin. Dit was inderdaad NOG ’n fees!

“Blagadoria!” (Baie dankie in Bulgaars)

PS  volgende keer vat ek my kind saam!