Armand Greyling as Hendri in die nuwe fliek Die windpomp
FOTO: verskaf

Armand Greyling as Hendri in die nuwe fliek Die windpomp FOTO: verskaf

Ons praat met

Die Windpomp se Armand oor sy meevaller op stel

“Ek was eintlik net gelukkig,” vertel Armand Greyling oor die rol wat hy in die nuwe fliek Die Windpomp losgeslaan het.

Dié jong akteur, wat aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria gematrikuleer het, was eers net ’n assistent op die stel van die Afrikaanse fliek Die Windpomp. Hy het later aangebied om die fliek se skrywer en regisseur, Etienne Fourie, te help om akteurs vir die rolle te kies.

Etienne Fourie oor sy eerste vollengte-fliek

“Etienne bel my een middag en sê hy het my nodig. Toe ek daar kom, het hy gesê ek moet vir die oudisie gaan,” verduidelik Armand hoe hy sy eerste hoofrol losgeslaan het.

“Ek voel so bevoorreg op elke manier moontlik – dit was ongelooflik om saam met gevestigde akteurs soos Ian Roberts en Marga van Rooy te werk,” sê hy oor sy ervaring op Die Windpomp-stel.

Armand in Die windpomp FOTO: verskaf

Armand in Die Windpomp.
FOTO: verskaf

Meer oor Die Windpomp PLUS die lokprent

Armand, wat  by die AFDA-filmskool in Kaapstad drama studeer het, het byna ’n prokureur geword.

“Ek sou regte studeer, maar toe besluit ek op die nippertjie om eerder by AFDA te studeer om te kyk of ek nie ’n rolprentster kan word nie. Ek wou vandat ek ses jaar oud was ’n akteur wees.”

Armand speel die rol van Hendri in Die Windpomp en vertel dat een van die hoogtepunte van dié fliek was om teenoor Leandie du Randt te speel.

Leandie du Randt in nuwe musiekvideo

“Sy is so nederig en plat op die aarde, dis amazing om saam met haar te werk.”

Hy sê sy beste eienskappe is dat hy nederig, snaaks, vriendelik, interessant en positief is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Anders as sy karakter Hendri in die fliek, is Armand vandag selfversekerd. “Hendri is heeltyd alleen en hy weet nie hoe om met meisies te praat nie. Hy is eintlik Armand op 16,” sê hy.

Beteken dit dat Armand vandag weet hoe om met meisies te praat?

Hy ontwyk dié vraag effens wanneer hy antwoord: “Ek vat dit rustig en fokus nou op my loopbaan. Ek wil eers na myself kan omsien voor ek na iemand anders ook kyk.”

Maar as hy dan sy droomvrou móét kies, hoef hy nie lank daaroor te dink nie. “Jennifer Lawrence is my trouvrou uitgeknip!”

Sy liefdeslewe is egter nie die enigste geheim wat hy het nie. “Ek is eintlik ’n sanger. Musiek is my passie.”

Van assistent tot hoofrol én moontlik ’n musiekloopbaan wat vir hom wink … Armand sien die toekoms as een groot moontlikheid.