Elizma Theron en haar man, Nico. FOTO: Facebook

Elizma Theron en haar man, Nico. FOTO: Facebook

Ons praat met

Hoekom dink Elizma Theron haar man gaan ’n goeie pa wees?

Die sangeres Elizma Theron gesels met SARIE.com oor haar swangerskap en hoe sy voorberei vir Eli-zé se koms.

(Hierdie is die tweede aflewering van die onderhoud. Lees deel 1 HIER.)

Wat behoort vroue te weet voordat hulle swanger word?

Ek dink nie ek is al so gekonfyt dat ek kan raad uitdeel nie! Maar een ding wat baie belangrik is (en ek het agtergekom min vroue weet hoe belangrik dit is) is om foliensuur aan die begin van jou swangerskap in te neem.

Begin reeds met foliensuur as jy besluit jy wil swanger raak. Ek het dit 3 maande voordat ons uitgevind het dat ek swanger is, begin drink. Jy vind gewoonlik eers op 5 of 6 weke uit dat jy swanger is en foliensuur is belangrik vir die eerste 12 weke van swangerskap.

O, en besef sommer jy gaan weet presies hoeveel teëls in jou badkamer is! Niemand het my gesê hoeveel keer jou blaas jou soontoe gaan jaag nie.

Wat is jou raad aan ander swanger vroue?

Geniet die goeie en die slegte daarvan. En as jy oor iets wonder – Dr. Google is fantasties!

Hoe ondersteun Nico jou in die swangerskap?

Hy is só ongelooflik – hy is betrokke by alles. Nog voordat ek kan oplees oor Eli-zé se ontwikkelingstadium in die baarmoeder, het hy reeds gelees en vertel my als.

Hy het ook so hard gewerk om die babakamer reg te kry – en alles met ’n glimlag gedoen. (Kyk onderaan dié artikel vir foto’s van die babakamer.) Hy gesels ook deesdae meer met my maag as met my! Haha! Want hy kry sonder teleurstelling altyd reaksie by haar. Sy’s baie lief vir haar pappa se stem. En dan kry mamma ook elke aand ’n voet-massering, maar dit doen hy al van vóór ons troue af.

Hy is ’n man duisend, ek kon nie vir ’n beter pappa vir Eli-zé gevra het nie!

Wat dink jy gaan van hom ’n goeie pa maak?

Hy het soveel liefde om te gee. Hy is baie oopkop en regverdig. Hy het ’n sterk persoonlikheid met ’n klein hartjie. Kinders is altyd mal oor hom omdat hy nie bang is om ’n gek van homself te maak nie – hy het nog altyd daai kinderlikheid. Maar ek weet hy sal ook streng wees wanneer dit nodig is.

Hoe het jy geweet jy is gereed om ma te word?

Ek het nie. Ek het nog altyd geweet ek wil kinders hê, maar ek dink nie jy kan ooit 100% reg voel nie, want jy weet nie wat om te verwag nie. Maar ek het besef as jy moet wag vir genoeg geld en tyd en die heeltyd verskonings maak omdat jy bang is, gaan jy dit nooit doen nie. Die enigste ding waarvoor jy móét wag, is die regte man.

Wat moet jy nog doen voor Eli-zé se geboorte?

Die babakamer is basies klaar en ek moet nog net my hospitaalsak pak. Nege maande is lank en die opwinding maak lekker vuur onder jou. So al wat nou nog kort is ’n klein lyfie in die bedjie.

Wat is jou algemene gevoel oor swangerskap?

Dit is ’n onbeskryflike wonderwerk. Ek kyk nou die dag na al die sonogramme wat ons gedoen het, van 6 weke af tot nou. Dís waarom ons moet glo soos kinders, want jou brein kan nie die grootheid daarvan begryp en verstaan nie. Dis ’n seën om swanger te kan wees en te weet die Here het hierdie spesifieke babatjie vir jóú gekies. En ook vir jou gekies om hierdie engeltjie van Hom reg te leer en groot te maak. Wat ’n voorreg!

Eli-zé se kamer

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

(Hierdie is die tweede aflewering van die onderhoud. Lees deel 1 HIER.)