amy
Ons praat met

Dít inspireer Amy Kleinhans-Curd

DIE BOEK WAT MY GEÏNSPIREER HET

When I Die – Lessons from the Death Zone deur Philip Gould (Little Brown, R180).

Dit het my uitkyk op die dood dramaties verander. Dit het op die regte tyd gekom, toe my ma se beste vriendin aan kanker gesterf het. Die titel klink dalk morbied, maar ek dink dis ’n voorreg om meer oor die lewe te kan leer by iemand wat besig is om te sterf.

Gould, self ’n kankerlyer, het dié boek in die laaste maande voor sy dood geskryf. In dié tyd het hy die lewe opnuut waardeer. Hy het trouens sy ‘reis’ met groot optimisme aangepak. Ek voel soveel wyser omdat ek nou verstaan dat selfs as jy deur die diepste pyn gaan, kan jy tog nog die lewe in sy volheid waardeer.

WAT EK NOU WEET

As skoonheidskoningin het ek geleer deur getrou aan jouself en ander te wees kan jy staande bly as individu.

Moederskap het my geleer dat kinders jou altyd buite jou grense sal druk. En dít is wat ’n mens so lief maak vir hulle.

Om ’n vrou te wees is ’n groot eer, maar bring ook baie verantwoordelikheid mee – ons moet onder meer ander lei, bystaan en raad gee.

Vriendskap is baie waardevol, want vriende hou my sterk. Sekere vriendskappe is kort en ander hou ’n leeftyd. Albei soorte is belangrik en dien ’n doel.

Ek weet dat ek nie op aarde is om noodwendig gelukkig te wees nie, maar om vervul te word. Die lewe het my geleer dat jyself die leier van jou drome is. Ek kan van niemand anders verwag om so toegewyd of opgewonde oor mý drome te wees as ekself nie. Dán is ek onredelik!

My gesin is vir my ongelooflik belangrik. Ek doen moeite om ons verhoudings gesond te hou en om spesiale geleenthede te skep wat die gesin saamsnoer. Dis vir my belangrik om my met
liefde te omring. Dit hou my gelukkig.

Onthou: SARIE se April-uitgawe met Corlea Botha op die voorblad is nou op die rakke – propvol inspirasie! Kry joune vandag!