Ons praat met

Dorette ‘n bokkie met byt

Die op en die af, die teatermaskers wat lag en huil. Dis Dorette Potgieter, nou weer op haar
stukke in die kykNET-sepie Villa Rosa.

deur SONIA CABANO
foto’s LEANA CLUNIES-ROSS

Wie is Wanda Retief?
Nie iemand wat jy onverhoeds op jou drumpel wil aantref nie, dís gewis. As die nuwe super-sepieteef in kykNET se gewilde Villa Rosa laat sy hardebaard-manne op hul hakke
terug steier en vroue beweeg kat voet om die angel van haar tong te ontduik. Haar perfekte grimering, soepel liggaam en slinkse truuks is alles bloot wapens in ’n gedug – te arsenaal wat sy oordeelkundig in haar mag spel aanwend.
Want Wanda troef altyd. “Sy’s uiters veeleisend,” sug haar eks, Ben Retief, “maar ai,
sy’s onweerstaanbaar.”
Feeks van formaat, dié een. ’n Aartsmanipuleerder en uitgeslape kenner van die eeue oue konflik tussen die geslagte. Nooi jy Wanda dus vir tee, maak jy seker jý skink sodat daar nie ongesiens iets bedwelmends in jou koppie beland nie …
Die vrou wat Wanda so oortuigend vertolk, is Dorette Potgieter, gesoute toneelspeler, sangeres, danseres en algemene blonde seksbom, met ’n professionele CV so lank soos jou arm, wat menige ander aktrise se oë sal laat knipper van naywer.
Maar wanneer sy my vroegoggend ontmoet, is sy so broos soos glas. Weerloos. Haar blonde hare deurmekaar op haar kop vasgeplak. Hierdie keer is dit ek wat terug steier. “Is jy orraait, jong? Sal ons die gesels uitstel?”
Nee wat, beduie sy. The show must go on. Sy’s ver van haar mense doer onder in die Kaap, sy’s eensaam in haar nuwe blyplek hier in Jozi, uitgeput ná ’n moeilike week op stel, en die trane lê vlak.
Maar sy’s nie een om haar verpligtinge te ontduik nie. En só ken haar kollegas haar ook – ’n absolute staatmaker.

Dorette op stel
Christo Gerlach, een van die Villa Rosa regisseurs, som haar op: “Sy’s nie ’n prima
donna nie, maar vrygewig, professioneel en baie ondersteunend teenoor minder ervare akteurs. Sy slaan haar merke, ken haar woorde en hoef hoogstens twee takes per toneel te doen. Altyd reg om te skiet, gesig en hare perfek gedoen, en sy werk BAIE hard.”
Hy loer veelseggend na my. “Help natuurlik dat sy daardie goddelike lyf het, wat sy en ons nie skroom om te wys nie.”
Veteraan-aktrise Elize Cawood, wat die eksentrieke Rebecca in Villa Rosa vertolk, fluister komplementerend van agter haar hand vir my: “Dorette is uitstekend, hoor. Super-, super-talentvol.”
Medespeler Jan Ellis, deesdae draaiboek redakteur, beskou Dorette se groot aanleg as “’n essensiëleemosionele eerlikheid wat die kamera dadelik sien. Dis haar kern, dit verleen aan haar karakters ’n onmiddellike geloofwaardigheid, en kyk, sy’s eenvoudig daarmee gebore. Haar aanvoeling vir die ritme van die spel, van die interaksie tussen karakters, is ongelooflik.
Sy speel so goed met die kamera dat mens glad nie die meganismes agter haar werk bespeur nie.”
Sy hét immers 400 ander aktrises se hand in die stof geslaan met die oudisies om die regte Wanda te vind. En vandag fokus ek, nes die kamera, op haar…
Wie is Dorette?
Sy sit voor my, ek voel ek sien tot reg binne-in Dorette se siel, en ek voel ontredderd
om haar onthalwe.
Sy’s meer as net ’n onderhoudsonderwerp vir my, sien, sy’s ook my “kleinsus” wat ek al agt jaar ken, my vertroueling en bondgenoot. As sy huil, huil ek sommer saam. Want as Dorette die dag konsert hou, dan bly jy tot die einde!
Die Dorette wat ek ken? Sy ken ’n kind se siel. My kleuters is versot op haar, want sy verdwyn saam met hulle in Kammaland, waar GROOT avonture plaasvind wat hulle
laat jil van plesier. En laat ril van vrees. Sy’s Rooikappietjie én die wolf. Sy daag
maklik op vir ’n spontane kuier-en-kletssessie, maar nooit met leë hande nie.
Daar’s altyd ’n bos blomme, ’n bondeltjie kerse, ’n lekker bederf om aan te knibbel.
Wanneer dinge werklik holderstebolder gaan in ons huishouding, is sy net eensklaps
daar, inkopiesakke onder die arm, gereed om ’n smullekker aandete vir die Cabano’s aanmekaar te slaan. En ons daarna ruimhartig te vermaak tot ons weer hik van die lag. Sy was al menigmaal ’n anker in my lewe en in vele van haar groot groep lojale vriende s’n ook
en vandag is dit my beurt om haar te ondersteun.
Ons verkas summier na ’n plek waar troos en vrolikheid in glase koue wit wyn gevind kan word. Kort voor lank skater sy weer, met soutige grappe en sappige aartsskinder, wat sy luidrugtig uitdeel.
Kyk, sy’s ’n bokkie met byt, en as daar stories te vertelle is, is Dorette loshande
een van die beste vermakers wat ek ken
Sy’s meesleurend. Dalk nie met staaltjies wat jy in die openbaar kan herhaal nie,
maar nou ja…Ek sien hoe twee besorgde moeders by ’n tafel hul kinders se ore
toedruk en ek sien wenkbroue optrek.
Maar Dorette het haar tweede asem geskep en sy’s weer goed op dreef, met my as haar oorgewillige gehoor.
“Sjuut, sjuut!” giggel ek naderhand, tevergeefs. Met haar geoefende verhoogstem
dra die vertellinge verby die spuitende fonteine, die restaurantmusiek, die uitgelate
kleuters wat om ons rondtrippel.
Ek bloos bloedrooi, en tog verkneukel ek my. Sy’s ’n hele show, dié juffrou. Al die
karakters in een, die aanvang, die hoogtepunt, die ontplooiing. Ek voel half ek moet opspring en ’n hoed rondvat.
Sy ontsien haarself ook nie wanneer dit by kritiek kom nie. Van wipplank ry met
emosies ken sy alte goed.
“Ag, hemel,” proes sy, “ek maak myself kláár somtyds. Maar dis teater, nè?
Die maskers lag en huil mos tesame.”
“Hoe hanteer julle Dorette se wispelturigheid,” vra ek eendag vir haar pa, Org,
’n TV-regisseur en joernalis. Hy dawer asof hy die grootste grap nóg hoor.
“Nee wat, dis net plain nonsens daai! Sy’s ’n entertainer, hoor. Gelukkig vir
haar het sy grootgeword met ’n ma soos Barbara, ’n drama-onderwyseres.”
En was jy ’n regte verhoogma, wat ver hoogkunsies teen wil en dank by jou
spruit ingedril het? wil ek terselfdertyd by Barbara weet. Sy kyk my skeef aan. “Wat
vra jy dan? Dit was Dorette se besluit, man, kleintyd al. Sy het vroeg-vroeg beheer
geneem van haar loopbaan. Sy werk al vandat sy vyf jaar oud is, nè? Omdat sy
net wou. En dink jy ons kon haar hoegenaamd keer?”

Haar suksesse en ervarings
Terug in Sandton kreun Dorette hardop met haar kop in haar hande.
“Og, ek’s so moeg daarvoor om die muse in ander mense se amusement te
wees!”
Was daar dan ooit enige ander loopbaan wat jy sou wou hê? vra ek gemaakonskuldig.
Asof sy enigsins moet of sal of kan. In skaars tye hou sy haar lyf (hoogs betaalde) model, en onlangs het sy verhore landwyd aangegryp met haar ontroerende spel in Hennie van Greunen
se kabaret Die Hangkas Haas. kykNETkykers het in Plek van die Vleisvreters kennis gemaak met haar as die veearts Sonja, die ene sagte selfontgelding.
Daar was ook vertolkings in verskeie plaaslik vervaardigde, sogenaamde Bgraad Hollywood-flieks en-TV-produksies. (Sy het agting afgedwing by ou hande soos Patrick Bergin en Jerry Springer, en eweneens haar kamerategniek goed onder die knie gekry.) Sy was ook al vryskut
aanbieder vir Top Billing en Pasella.
Daar was Soutmansland, Voete van goud, Fishy Fêshuns, vele meer, ’n stewige lysie
verhoog- en TV-produksies.
Sy’s baie opgewonde dat haar eenvrouvertoning, Trourock!, vir vanjaar se Klein
Karoo Kunstefees op Oudts hoorn (25 Maart tot 2 April) aanvaar is.
Uitsoekrolle kom in een ná die ander, en so was dit nog altyd. Van kelnerin speel
om liggaam en siel aanmekaar te hou was daar nog nooit vir Dorette sprake nie. En tog, en tog, die wipplank eis sy tol.
“Ek kan nie anders nie,” lag sy vir haarself. “Toneel speel is my kos, al is dit nou
nie juis brood-en-bottergeld nie, tja. Kyk, mense huil wanneer hulle die waarheid
sien, en dis my werk om dit vir hulle te wys. Maar wat vir my rêrig erg is van die
lewe, ek sien soveel mooi, en dan staan hy op en slaat jou dwarsdeur die gesig. Ai.”
Dis ’n ondankbare storie, merk ek op, hierdie aktrise-wees, die applous ten spyt.
“Ek het terdeë daarvan bewus geraak toe ek aan oorsese filmproduksies gewerk
het. Maande lank word jy op die hande gedra, soos ’n wafferse ster behandel, in
tophotelle gehuisves, dan’s dit klaar, fluitfluit verby, en moet jy weer onder begin,
in die tou gaan staan, van voor af oudisies bywoon. Net omdat jy in ’n movie was,
moet jy nie dink jy het Dorothy van The Wizard of Oz se skoene aan nie.”
Sy haal aan uit Paulo Coelho se Alchemist, ’n gunstelingboek. “Because
people become fascinated with pictures and words, they wind up forgetting the
language of the world.”

En wat ís daardie taal, Dorette?
“Die taal van die hart! Emosies, gevoelens, liefde! Met sepies kan kykers bietjiesbie
tjies identifiseer met ander mense se struweling en brose menslikheid.”
Die kwessies wat haar die meeste kwel, is ewig dié van die hart. Hoe anders, vir
iemand wat haar eie so blatant op die mou dra? So rou kan raak?
“Agt-en-twintig was my moeilikste jaar nóg. Ek’s gebore op 25 Maart 1973, reg
tussen die Ram en die Vis. Dis vuur en water, so ek gee baie stoom af! En hardloop
blindelings in ’n ding in, net om te wonder, vader tog, waarin het ek myself
nóú weer begewe? Ek het destyds ’n wilde perd opgesaal en in ’n verhouding betrokke
geraak wat my eindelose hartseer besorg het. My verpletter gelaat het. Ek moes letterlik van voor begin, weer kind word en leer om hulp te vra, iets wat vir my nie lekker of maklik is nie. Ek het so opgegaan in iemand anders, verswelg geraak, dat ek myself verloor het. Ek moes
tyd afvat om weer heel te word.”

Is dit daar waar jy vir Wanda leer ken het, want jy speel haar intuïtief, asof jy intiem vertroud is met haar wese?
Sy kyk na haar vingers en begin haar woorde tel. “Dis eintlik vir my baie moeilik om ’n feeks te vertolk. Ek verpes sulke vroue, maar ek verstaan waarvandaan hulle kom. Wanda is baie mooi om na te kyk, maar sy wil opsetlik seermaak, en dis heeltemal verwyderd van waar ék
wil wees. Sy sal nooit haar ware kleure wys nie, en ek, wel, ek gee en wys álles. Dadelik. Dit skrik mans seker af!” Sy grinnik.
“Maar Wanda, mmm… ek los haar daar in die studio, want as ek haar saam huis toe moes neem, sou ek mal word.”

A, maar geniet jy dit nie soms om daai uitspattige helder rokkie aan te pas en naels te wys nie?
Sy glimlag fyn en haar blou oë blits onnutsig terwyl sy my stip aangluur.
“Daar’s ’n feeks in ons almal. Jy behoort tog self te weet?”
Hier moet ek liefs nie te diep grawe nie. Ek herinner myself aan ’n heftige foongesprek tussen my en haar ’n jaar of twee gelede, wat met ’n lang stilswye tussen ons geëindig
het totdat Dorette, tipies in haar aard, dit eendag met arms vol blomme en ’n jolige
“Hallo, howzit!” op my voordeurdrumpel verbreek het.
En my naam is mos Sonia/Sonja, my ma se nooiensvan Retief …

Goed. Kom ons kyk ’n bietjie na jou agtergrond, Dorette. Waar het jy begin?
“In Bellville grootgeword. Ek was stout, ’n tomboy, almal se maat. Ek was in
bendes, het kleilat gegooi. Maar Juffrou se engel ook, ek het mos die mooiste
geskryf! Van sub A was ek al in musiekblyspele en opvoerings soos Pieter Fourie
se Die Joiner. Ballet en klavier geneem. Wou ballerina word. Beurse gewen. Hugo
Lamprecht-kunsskool toe. Ballet as vak geneem. Tekstielontwerp ook. St. 9 en
10 in een jaar gedoen aan die Boston House College. Modelwerk, oorklanking,
radio werk, verhoogwerk gedoen, gesing.
Ek wou Aviva Pelham word! Ná skool gestudeer, opgeskop, weer probeer, opgeskop.Geld gemaak. Model gewees. Oorsee gegaan.”

En later was jy in Egoli, jou eerste sepie-ervaring?
“Haai, ja!” onthou sy.

Hoe was dit vir jou?
“As daar appeltert gebak word en jy’s ’n peer, wel…”

Wat was die groot hoogtepunte tot dusver in jou loopbaan?
“Watter een? Daar’s duisende. Ek’s mal oor my werk!”

Wat was vir jou die heel beste ervaring?
“Toe ek op my eie oorsee gegaan het, was ek op een verskriklike warm Sondag in
die Palace de Versailles se beroemde Hall of Mirrors. Ek het oorfone aangehad met
wonderlike musiek wat my oorspoel het.
Daar was duisende mense. Ek het deur die saal gestap, en my weerkaatsing in
die spieëls gesien. Ek het begin dans. Net deur die hele saal gedans. Nie omgegee
wie my sien nie, want ek kon myself sien, hier en daar.”

En hoe het jy gevoel?
“Wonderlik! Dis mos wat ons doen, ons akteurs en aktri-zes. Ons is spieëls vir
mense. Ek was 100% myself daar, kant en klaar. Tuis. Ek verstaan spieëls!”

Ons betaal. Sy gooi haar sak oor haar skouer. Die laaste wat ek van haar sien, is ’n
blonde visie vol ambisie wat die rol trap op verdwyn en soene oor haar skouer blaas.
Toe ek wegstap, wonder ek of ek moes “apploudeer”. Toe onthou ek wat sy my
eenmaal vertel het: In ’n musiekwinkel saam met kitaarspeler Albert Frost het sy hom
gevra: “Speel julle ooit my liedjie?” Sy’t bedoel een wat deur haar geïnspireer is.
“Watter een?” het Albert doodluiters teruggevra.
Die muse se naam is Dorette.