Ons praat met

Dr. Jennifer Adams groet + Sandi lyk ‘fantasties’

Sandi Schultz het byna 8 jaar lank ‘n pad saam met haar karakter dr. Jennifer Adams van Binneland gestap. Maar ná 7 seisoene groet dié dokter vir eers die reeks.


Hoe voel dit om so ‘n karakter te groet?

‘n Mens sê nooit regtig tot siens vir ‘n karakter nie, veral nie as die karakter vir so ‘n lang tyd ‘n groot deel van jou lewe, en jou bestaan, gevorm het nie. En veral in sepie-land groet ‘n mens nooit regtig ‘n karakter nie, want ‘n mens weet nooit wanneer die skrywers van die reeks dalk weer op die karakter se knoppie gaan druk nie. Ook, Jennifer het ‘n baie groot en lang verbintenis met die Binneland-kliniek, en haar broerskind, Charnay, en seun, Daniël, het ook sterk verbintenisse met ander karakters in die reeks.  

Wat is die grootste lesse wat jy by die karakter geleer het?

Ek dink ek het geleer hoe om regtig te huil. Jennifer het in die laaste tyd heelwat trane gestort, en haar hart oopgemaak vir liefde en haar medemens. Dit is iets wat ek hoop aanhangers van die reeks ook by Jennifer kan leer – hoe om regtig met deernis te leef. Ek dink ook Jennifer is ‘n baie lojale vrou, maar moenie van haar ‘n vyand maak nie. Dit is nog iets wat ek by haar geleer het, want ‘n mens beskerm jouself nie altyd as jy in die openbare oog is nie.

Hoe verskil jy van haar en wat is die ooreenkomste?
Ek is meer boheems as Jennifer – ek weet wanneer die tyd daar is om my hare los te maak en myself gate uit te geniet, hoewel in ‘n verantwoordelike kapasiteit. Ek gaan byvoorbeeld elke jaar AfrikaBurn toe, en vanjaar gaan ek weer (vir die vyfde of sesde keer) Burning Man toe in Nevada, VSA. Dít is iets wat Jennifer byvoorbeeld nooit sal dink om te doen nie.

Ek is ‘n ywerige hula hooper, en ‘n vuurdanser van formaat (al moet ek ook self so sê). Ek sou wel nie nee sê vir Jennifer se mediese praktyk nie, maar die ongelooflike verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan, is nie iets waarvoor ek heeltemal kans sien nie. Die mense in my lewe is vir my belangrik, en ek dra hulle belange op die hart, maar om verantwoordelikheid te neem vir iemand anders se lewe is iets wat ek nie maklik sal wil doen nie – hoewel ek dit doen met my geliefdes.

Sandi Schultz

Hoe reageer jy as mense jou op straat herken?

Solank mense my met dieselfde respek hanteer as waarmee ek hulle hanteer, gee ek glad nie om as mense my in die straat nader om ‘n geselsie aan te knoop nie. Dit is ‘n geweldige voorreg wanneer iemand jou wel herken en met jou wil praat oor jou karakter. Dit beteken hulle voel sterk genoeg oor jou of jou karakter om wel met jou te wil kom gesels.

Dit is wel moeilik om persoonlike kritiek te aanvaar van mense wat jou nie regtig ken nie, maar tog onder die indruk verkeer dat dit aanvaarbaar is om goed te sê soos: “Jy lyk so vet op TV.” Partykeer is dit net die verkeerde ding, op die verkeerde tyd, op die verkeerde dag – en dit kan ‘n mens se dag versuur. Soms is mense te familiêr met ‘n mens, want hulle dink hulle ken jou omdat jy elke aand, volgens hulle, in hul sitkamers kom “kuier”. Ek probeer altyd my beste voetjie voor sit en my mooiste glimlag wys in sulke gevalle.

Jy het twee jaar gelede in SARIE vertel van jou nuwe uitkyk oor jou lyf – dat dit nié oor die buitekant gaan nie. Het dit intussen verander?

Ek het vrede gemaak met die feit dat ek ouer word en dat my liggaam nie meer die lyf van ‘n 20-jarige is nie. Ek oefen steeds, omdat dit vir my lekker is, maar ek weet ook dat ek oor tien jaar gaan terugkyk en weet dat ek FANTASTIES gelyk het. Ek probeer dit ook op hierdie oomblik opreg waardeer, maar dit is nie altyd maklik nie – vroue is krities op hulself op die beste van dae.
 
Waar woon jy en wat sê jou huis oor jou persoonlikheid?

Ek bly in Johannesburg, en ek dink my huis weerspieël nogal my persoonlikheid. Dit is eklekties en ‘n mengsel van tradisionele en moderne style – byna soos die klere wat ek dra.
 
Hoe gaan dit met jou ontwerpersreeks, Sass Designs?

Ek het nou ‘n bietjie meer tyd om daaraan te bestee, en ek hoop die besigheid gaan nou groei. Onlangs het kykNET se nuwe werklikheidsreeks, Nege maande, van die ontwerpe geleen vir die neem van hul publisiteitsfoto’s, en die eindproduk is fantasties! Ek is baie ingenome hiermee, en ek hoop dat dit meer mense bewus sal maak van my klerereeks.

Vroue van alle fatsoene en groottes en verskillende leefstyle kan met gemak in ‘n Sass Designs-skepping hul daaglikse take verrig, en hulself opdollie vir ‘n aand uit! Besoek www.sassdesigns.co.za vir inspirasie en aankope!

Nege Maande 
Wat is volgende vir Sandi?

Vir eers gaan ek vir ‘n wyle terug Amerika toe, maar ek hoop om op hierdie nuwe pad wat my lewe inslaan baie nuwe geleenthede te kry wat uitdagend is en nog meer waarde tot my lewe sal voeg. Wie weet, dalk ontmoet ek en Jennifer mekaar weer op hierdie nuwe pad…