friedland_linda
Ons praat met

Dr. Linda Friedland

Linda Friedland het pas haar nuutste boek, Omvattende Vrouegesondheidsgids (Tafelberg, R250), bekend gestel. Die boek dek elke denkbare aspek van vroue se gesondheid in die verskillende fases van hul lewe.

“Jou gesondheid is die één ding waaroor jy beheer kan neem, veral in vandag se stresvolle tye,” sê sy. Sy het haar gesondheidswenke vir vroue met Phyllis Green gedeel.

Waarom so ’n gids?
Elke vrou sal ’n gedeelte van die boek relevant vind vir haar spesifieke ouderdom. Dit is die eerste boek van sy soort in SA wat gerugsteun word deur ware navorsing oor die hot issues in geneeskunde vandag. Ons gesondheid is in ons eie hande. Elkeen van ons kan ons gesondheid optimeer en verbeter. Elke denkbare toestand kan tot op ’n sekere vlak genees word.

Watter siekte hou die grootste bedreiging vir vroue in?
Hartsiektes. Daar sterf jaarliks tien maal meer vroue aan hartaanvalle as aan borskanker. Vroue onder 50 loop ’n kleiner risiko.

Ons wil almal maer wees. Wat is jou siening oor dieet?
Dieet maak jou vet. As jy wipplank dieet, sal jy al die verlore gewig en nog meer optel. Dis ’n leefstylkeuse. Jy kan kies hoe en wat jy wil eet. Jou verhouding met kos kan een van genot en plesier wees, of dit kan skuldgevoelens en selfkastyding ontlok. Die sleutel is om op die gehalte van jou kos te fokus en om gesonde keuses te maak.

Beïnvloed stres ons almal?
Ons kan almal deur stres geraak word, omdat ons in sulke onstuimige tye leef. Die gejaagdheid verhoog ’n mens se risiko om siek te word. Die vraag wat jy jouself moet afvra, is: Wat is my anker? Het ek ’n anker of net ’n harnas? Die dinge waaroor jy die grootste beheer het, is jou houding, jou gesondheid en jou innerlike krag.

Jou resep vir stresoorlewing?
- Vat dit rustiger.
- Waardeer wat jy het.
- Sorg baie goed vir jou gesondheid.

Hoe doen ’n mens dit?
- Voorkom siektes
- Herken stres-simptome vroegtydig
- Bestuur jou stres
- Hervul jou energievlakke
- Leef jou lewe betekenisvol

Hoe voel jy oor plastiese snykunde?
Ek het niks daarteen nie. Eerstens moet jy weet waarom jy dit wil laat doen. Dis van kardinale belang om na die beste plastiese chirurg te gaan. En laastens, minder is beter!

Jy is baie filosofies ingestel teenoor gesondheid. ’n Belangrike lewensles vir alle vroue?
Waardes in jou lewe is belangrik. Volg jou droom. Vind iets waaroor jy passievol kan wees, want dit help jou immuunstelsel. Beweeg uit jou gemaksone en kry fokus. Bemagtig jouself met kennis, en laastens, reik liefdevol uit na ander.