mg_2658
Ons praat met

Aangename kennis, dr. Nathan

Hy het op die Olimpiese Spele in Athene geswem vir Suid-Afrika, is ‘n SA waterpolospeler, hy speel kitaar en sing, en dan is Karl Thaning boonop die nuwe dokter Nathan in die M-Net- en kykNET-sepie Binnelanders. Marguerite van Wyk het met hom gesels.

‘n Jaar regte aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, daarna ‘n jaar handelswetenskap aan die Universiteit van Kaapstad en toe toneelspel aan die University of Pacific in Kalifornië. Hoekom dié skuif na drama?
Ek wou eintlik altyd toneelspel studeer, maar het nie die guts gehad om vir my familie te sê nie en het gedink ek moet ‘volwasse’ wees en ‘n ‘regte’ werk kry. En miskien my lewensdroom, drama, op dertig najaag.

Was jou jare in Amerika waardevol?
Beslis. Ek was altesaam vier jaar daar. Die Amerikaners is baie vrygewige mense. Hulle is naïef oor Suid-Afrika, maar was bereid om meer te wete te kom. Ek het ongelooflik baie uit dié praktiese én teoretiese kursus geleer wat ek daar gevolg het. Ek het teater en film as hoofvakke gehad. Ek was mal oor Amerika. Hulle kan hard werk en speel.

Jy het geswem vir Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Athene en het al vir die SA waterpolospan by die Statebondspele geswem. Is jy ‘n baie gedissiplineerde mens, siende dat jy so ‘n goeie sportman is?
Ek is dalk ‘n gedissiplineerde sportman, maar beslis nie akademies nie. Ek moet báie geïnteresseerd in ‘n onderwerp wees en dit moet ‘n uitdaging wees, anders sal ek sommer niks doen nie.

Hoekom interesseer drama jou?
Jy kan nooit als weet of leer nie. Jy kan altyd iets doen wat nié op papier geskryf is nie. Daar is legio moontlikhede in elke teks/produksie opgesluit. Daar is ‘n magdom stories om te vertel en geen einde aan die impak wat stories op mense kan hê nie.

Wat was jou loopbaan-drome as klein seuntjie?
Ek wou in ‘n stadium ‘n fotograaf vir National Geographic word. Ek het ywerig foto’s geneem en selfs geleer hoe om my eie foto’s in die donkerkamer te ontwikkel. Ek was ook báie geïnteresseerd in die sterre en wou ‘n ruimtevaarder word. En toe wou ek ‘n spioen word nadat ek James Bond-flieks gesien het. Daarna kan mens sê ek wou soos Sean Connery word, want toe wou ek toneel speel.

Geniet jy die rol van Nathan in Binnelanders?
Ja, ek hou van hom. Hy is ‘n carpe diem-tipe ou. Hy neem niks té ernstigs op nie. ‘Die lewe is die lewe’ is sý houding. As hy van ‘n meisie hou en sy hou nie van hom nie, is dit nie die einde van die wêreld nie. En hy het ‘n ywerige belangstelling in vroue! Hy is ook ‘n ou wat opstaan vir dít waarin hy glo. Hy is pret. Hy hou dinge lig. Maar as ouens met hom sukkel, raak hy moeilik. Hy weet wie hy is.

Jy speel glo lekker kitaar en sing ook graag . . .
Ek sing en speel oukei, maar ek sal nooit ‘n lewe daaruit maak nie. Ek sing sagte, sinvolle goed. Die lirieke is betekenisvol, nie verspot nie.

As ou van vele talente, hoe kry jy balans met al dié aktiwiteite in jou lewe?
Ek neem genoeg vitamiene elke dag in. Ek lees baie, vors vreemde dinge op die internet na, ek hou daarvan om nuwe dinge te leer, ek kry my vlieglisensie binnekort. As vryskutakteur kry ek nie so baie tyd vir vakansies nie, maar ek gaan beslís later vanjaar op ‘n warm plek (mét ‘n sambreeltjie in my drankie!) iewers ontpan. Ek speel gereeld muurbal, bietjie tennis en swem af en toe.

Wat is die sleutel tot sukses?
Verstaan jou talente, wees getrou aan jouself en glo in jouself. Moet ook nie verwag dinge gaan vinnig gebeur nie. Bly klop aan die regte deure en dit sal uiteindelik oopgaan. Als gaan oor volharding.

  • Anon

    Wat ‘n oulike man, vandat hy in Binnelanders is, kyk ek dit meer gereeld. ha ha ha Mal oor sy karakter, dink ons het ‘n juweel hier beet

  • Elle

    Gorgeous verby, die ene!

  • Judith Vermeulen

    Oulike ou, sag op die oog. Hoop hy is nog lank in die sepie.

  • Corlia

    Ek het gehoor hy en Pippa is in die regte lewe getroud. Is dit waar?

  • adele

    pragtige ou! nee hy en Pippa is nie getroud nie – hulle is wel in ‘n verhouding. hopelik trou hulle eendag – hul maak ‘n stunning paartjie :-)