Phillip Henn
FOTO: Phyllis Green

Phillip Henn FOTO: Phyllis Green

Ons praat met

Phillip Henn: “Dwelms steel 9 jaar van my lewe”

Dit was ’n groot sepiemisterie: Wat het van Johann Vorster, die lang, aantreklike hartebreker in die beginjare van Egoli, geword? Só sexy in ’n suit dat hy vroue se hormone laat huppeldans het. Toe’s hy skielik weg. Twaalf jaar lank. En hier, uit die bloute, verskyn hy weer op ons TV-skerms as ’n ewe groot hartebreker, die plastiese chirurg dr. Chris van Deventer in Binnelanders op kykNET. Gryser om die slape, maar nog net so sexy in sy suit.

Waar was hy?

“Dis nie ’n mooi storie nie,” waarsku hy. Maar hy het uiteindelik ’n gelukkige einde gekies nadat hy laat een middag in 1999 in ’n plas bloed in sy Zenagtige badkamer op Oesterbaai naby Jeffreysbaai bygekom het. “Ek het bewus geword van my skaaphond, Max, se geblaf en my oogbank wat bloei.” Die badwater met die drywende laventelblommetjies was al yskoud. Dit was ná ’n Boeddhistiese vas van vyf dae. ’n Leë maag, ’n warm bad en ’n daggazol het nie goed saamgewerk nie, erken hy nou.

Hy klop met die kneukels van sy mooi hande op die leuning van die Art Deco-stoel waarop hy sit. Klop-klop-klop. Dit was die keerpunt. Hy het daardie middag besef dwelms het nege jaar van sy lewe gesteel. Hy was finansieel geruïneer. Hy en Max het van vis uit die see geleef. Hy het in ’n reuse-huis gewoon, maar nie ’n sent vir brood gehad nie. Die huis behoort aan ’n familietrust. Daar was nie ’n dwelm wat hy nie probeer het nie. Hy was die bobaasdaggaroker. Maar daardie dag het hy geweet: Laer mag hy nie val nie.

’n Paar dae later het sy visvangmaat, Ivan van der Walt, kom kuier, die steke gesien, en niks gesê nie. Phillip het vir hom ’n Bybel gevra. Ivan sê hy was verstom en dankbaar. Hy en sy vrou, Naomi, was lankal bekommerd oor Phillip. Hy ken hom vandat hy “’n laaitie van so 13” was, maar hy het hom beter leer ken toe Phillip op Oesterbaai “vir die lewe kom wegkruip het”. Dit was nadat sy loopbaan by Egoli tot ’n einde gekom het. (Phillip erken hy was toe reeds met dwelms deurmekaar.)  “Hy was kwaad vir die lewe én die bedryf,” vertel Ivan. “Dit was nie lekker om hom so te sien nie. Sy oë het soms stokstyf in sy kop gestaan.” 

Phillip het in daardie stadium baie grootsheidsillusies gekoester van wat hy nog gaan bereik, en Ivan het so deur die dwelms en drome deur probeer preek. “Ek het eendag in sy bedwelmde toestand vir hom gesê: Ek weet nie of jy nou hoor wat ek vir jou sê en of jy dit gaan onthou nie, maar as jy nie jou lewe regruk en Jesus Christus in jou lewe kry nie, gaan jy nooit vervuld voel nie.”

Phillip het in daardie stadium sy heil by al die -ismes probeer vind – van veganisme tot Boeddhisme. En by dagga, heroïen, kokaïen en “ander mans se vroue”. Soekend, maar hy het nie geweet waarna nie. Hy het die wildste goed aangevang, erken hy. Daar was genoeg drank om enige vrou mooi te drínk, sê hy sinies. Hy beskryf daardie fase as dié van ’n waansinnige. Soms het hy deftig aangetrek, met sy laaste geld ’n duur sigaar gekoop, en op die stoep van die Mount Nelson in Kaapstad gaan sit en gemaak of hy ’n Hollandse rolprentvervaardiger is.

Maar Ivan het die littekens op Phillip se siel geken, want hy was self vroeër op dieselfde plek. Hulle het baie gepraat. ’n Paar weke later, toe hulle weer staan en lyne natmaak, het Ivan hom gevra waarheen hy wil gaan as hy skielik sou sterf. Hy en twee getuies het Phillip kort daarna in die see gedoop. ’n Bybelse doop, nie noodwendig dié van enige denominasie nie, verduidelik Ivan. ’n Nuwe Phillip het uit die branders gestap, daardie jaar 1999 . . .

Was daardie ommeswaai maklik?
Ek het een oggend daarna, terwyl ek in my Land Rover ’n zol sit en rol het, besef ek moet finaal kies. Ek het God en die hele skepping as my getuie geroep dat ek die lewe kies. Ek het dikwels my “bidkoppie” by Oesterbaai uitgeklim, waar ek en Ivan altyd gaan kyk hoe die seestrome vir vis loop. My maat, toe moet jy sien hoe die duiwels my probeer terugwen! Ek moes verbete terugveg. Meisies wat ek voorheen met dagga na my huis moes lók, het skielik begin opduik om te kom party. Dit was moeilik om nee te sê.

Wanneer het jy uit jou kluisenaarskap gekom?
Eers sewe jaar nadat my genesingsproses begin het. My finansies het drie jaar gelede begin verbeter. Ek en Deon Coetzee het onlangs gesit en dink ons twee kan ’n teaterstuk skryf oor How to be really poor . . . and famous. Ons ken dit.

GUNSTELINGE

KOS: Gebraaide geelbek op die kole op Oesterbaai
DRANKIE:
Espresso
ONTSPAN:
Visvang, middagslapie en gesels om ’n vuur
FLIEK:
Apocalypse Now van Francis Ford Coppola, Stanley Kubrick se Barry Lyndon en die onlangse lokettreffer 300 van Zack Snyder
AKTRISES:
Gwyneth Paltrow en Meryl Streep
AKTEURS:
Naas Martin Sheen, is dit Robert de Niro, Al Pacino, Robert Downey Jr
MUSIEK:
Chopin, Tsjaikofski, Verdi en Paul McCartney
PLEK:
Ruimtes, stiltes, soos die Kalahari, die Karoo, en my hartsplek, Oesterbaai
GOUE OOMLIK:
’n Sonsondergang in Griekeland, ’n bruingebrande lyf en klassieke musiek in my ore

 

Hoe het jy in Binnelanders beland?
Deur die jare het baie mense my gevra wat van Johann Vorster geword het. So vier jaar gelede het ek en Franz Marx gaan eet. Ek het hom gevra of ons nie ’n plan kan maak en Johann in vrede laat sterf nie. Maar Franz het nie daaraan gebyt nie. My agent het in Julie 2005 gevra of ek ’n oudisie vir Binnelanders wou doen. Ek wou die rol van Sieg speel, maar Gys de Villiers het dit reeds gekry. Ek wou net in die reeks speel as ek een van die main manne kon wees. Ek het die kanale oopgehou en eers die reeks dopgehou. Ná soveel jaar uit die kollig was ek baie versigtig in watse reeks ek my bakkies weer wys.

Ek het ’n baie lekker lewe langs die see gehad en iets moes baie goed wees voordat ek daarvoor Johannesburg toe sou gaan. Toe duik die perfekte rol op. Maar ek wou dit op mý voorwaardes doen. Geen oudisie nie en ek wou die vervaardigers, Friedrich en Elsje Stark, en die geldman van Binnelanders eers sien. Ek was reguit. Ek het hulle beloof Binnelanders se kykertalle sou styg as hulle my karakter reg posisioneer. Dit klink arrogant, maar ek het geweet daar is minstens 1,5 miljoen mense daar buite wat wonder wat van Johann Vorster geword het.

Ek het al die pad van die Kaap gebid en gevra hoeveel ek vir die rol moet vra. Hulle het my tot op die sent die bedrag gegee wat die Here my gegee het.

Jy is destyds half onverwags uit Egoli?
Toe ek in Desember 1992 op Huisgenoot se voorblad was, het my ma gesê: “Dis nou tyd om uit Egoli te gaan. Van hier af gaan dit net slegter gaan.” Weens my dwelmprobleem het ek toe reeds besluit om te bedank. Vier maande later het ek saam met Niel Hammann, destyds redakteur van Huisgenoot, gaan middagete eet. (Ek was eintlik agter sy dogter, Christine, aan. Toe dog ek ek gaan maar na die pa vry. Sy het nooit vir my geval nie.)

Niel het my syfers gewys dat my voorblad die beste verkoper vir die eerste week in Desember vir Huisgenoot in 15 jaar was. Meer as Mel Gibson en Kevin Costner se voorblaaie.Maar my besluit was geneem. Twee jaar later, toe ek ’n kort rukkie terug was in Egoli (Johann Vorster het teruggekom om van sy pa en broer, gespeel deur Gé Korsten en Philip Moolman, ontslae te raak), was ek bly. Die hele span was soos zombies uit wie die lewe gesuig was.

Hoe lank gaan Binnelanders jou vashou?
Ek het ’n kontrak tot einde Januarie 2008, met die opsie om nog ’n seisoen aangebied te word. Maar ek sal besluit wanneer ek daar kom. Binnelanders is harde werk. Jy moet jou woorde ken. Jy is saam met groot ysters soos Dawid Minnaar, Michelle Botes, Neels van Jaarsveld en Hans Strydom op stel. (Roché Knoesen, een van die regisseurs, sê Phillip speel met ’n eerlikheid. “Dit wat jy sien, is soos hy is. Hy kan baie bereik as hy wil.”)

Jou ander passies?
Fotografie. Ek spesialiseer in kinderfotografie. Kinders is nie vol draadwerk nie. Ek het ’n studie gemaak van die proses hoe om die natuurlikste reaksie uit ’n kind te kry. Dis tydsaam, daarom is my fotosessies duur. Ek neem nie kinders in ’n ateljee af nie. ’n Beperkte ruimte en flitsende ligte laat hulle versteen. Ek verkies om eers ’n verhouding met die kind en die ouers op te bou. Portretfotografie is ’n intieme ding. Groot portretfotograwe soos Annie Leibovitz sorg dat hulle eers die mens leer ken wat hulle afneem.

Vanwaar die liefde vir die lens?
Ek was in die vroeë tagtigs ’n fotograaf by Rapport. Maar ek het moeg geraak vir die politiek in die land en al die klipgooiery. Ek het baie geleer by persfotograwe soos Dennis Goddard, Nardus Nel en Corrie Hansen. Daarna het ek mode geskiet, maar ek kon ook nie met die modepolitiek oor die weg kom nie. Toe begin ek stilfoto’s op internasionale en plaaslike rolprentstelle afneem. Deur die internasionale flieks het ek sterre soos Jackie Chang en my held, Martin Sheen, ontmoet.

Die adrenalien agter of voor die kamera?
Ek het respek vir albei velde. As ek na myself in Binnelanders kyk, weet ek ek doen ’n dekselse goeie job. Die werk agter die kamera is veelsydig en opwindend, maar ek sal moeilik kies.

Hoekom bly jy op Oesterbaai, met omtrent net 100 inwoners?
Ek hou van stilte. Die strand, waar ek alleen kan visvang. Ek verkies ruimtes bo stede. Ek kan ure lank stilsit en staar. Dan vra my ma: My kind, waaraan dink jy so? Dan sê ek: Niks. Dis lekker. New York inspireer my wel, maar Johannesburg en Kaapstad is vergeetbaar.

Jy sê jy is nie ’n Afrikaan nie?
My wortels lê in Europa. Ek voel instinktief tuis daar. My ma was ’n operasangeres en as ek luister na iets soos die duet uit die opera Die Pêrelvissers van Georges Bizet weet ek ek is nie ’n kind van Afrika nie. Ek het nie ’n saak met die hele Afrika-kultuur en mense wat hulle soos varke gedra by die rugby nie. Maar ek bly lief vir ’n braaivleis-geselligheid saam met beskaafde mense. Vir my was ’n goeie oomblik een soos die dag toe ek in die winter by ’n konserthuis in Amsterdam verbygestap en deur een van die sneeu-omraamde vensters ’n pragtige Hollandse meisie sien tjello speel het. Daar is net iets aan Europese vroue wat my trek.

In Berlyn het ’n Duitse kelnerin – sy kon 40, 50 of selfs 60 gewees het, ’n mens kon nie haar ouderdom skat nie – met stylvolle eenvoud, haar hare in ’n netjiese bob gesny, by my kom staan en sag gesê: Guten Abend, mein Herr. Ek wou net daar vir haar sê: Trou met my! ’n Paar weke later het ’n jong kelnerin in Kaapstad by my kom staan, haar boekie uit haar jeans se gatsak gehaal, en ongeërg gevra: Wat wil jy hê? Vra my hoekom ek dink ek is ’n Europeër? Dís hoekom. Dis my spirituele tuiste. Hier in Suid-Afrika oorleef ek net.

Op 46 is jy nog nooit getroud nie. Gaan die regte een nog kom?
As sy kom, sal daar ’n onmeetbare fisieke en geestelike konneksie wees. Ek raak eensaam. Ek’s al agt jaar selibaat! Ek gaan alleen ballet en opera toe. Maar ek hoef nie te trou nie.

Is jou siel nou heel?
Ek is nou tevrede met myself soos ek is. Sonder die Here is ek steeds daardie dwelmverslaafde. Ek weet nou tot watter vlak jou lewe kan daal. Ek weet dit is net genade dat ek nie aan die een of ander seksueel oordraagbare siekte of oordosis dood is nie. Baie van my party buddies is só dood.

Die toekoms?
Ek wil ’n Afrikaanse fliek met ’n mooi storie maak. Ons is moeg vir die politieke gewroeg en die armsalige beeld van die Afrikaner. Ek is besig om te onderhandel vir die rolprentregte op ’n mooi verhaal van ’n meisie wat op ’n plaas grootword. Dalk maak ek dit binne die volgende twee jaar, maar voorlopig is ek baie gelukkig met die rol wat ek speel – en ek like my suits!