Hannes, uitgevat vir ons fotosessie, ontspan in sy tuin met sy hondekinders (van links) Liza, Mariet en Toto (voor).
FOTO: Willem Lourens

Hannes, uitgevat vir ons fotosessie, ontspan in sy tuin met sy hondekinders (van links) Liza, Mariet en Toto (voor). FOTO: Willem Lourens

Ons praat met

Egoli se ‘Krynauw’ op pad na KKNK …

Hannes van Wyk, aanbieder van die vermaaklikheidsprogram Bravo op kykNET, is pas aangestel as kreatiewe hoof van die KKNK.

“Ek is opgewonde oor dié pos. Die fees is op die regte pad en ek wil graag bydra om dit nog meer toeganklik vir almal te maak, veral die jonges. Mense moet steeds daaroor praat – veral oor die verskeidenheid en gehalte van produksies …”

Hannes, wat nege jaar lank die geslepe Krynauw in die M-Net-sepie Egoli vertolk het, repeteer op die oomblik aan die Liewe Heksie-pantomime vir die KKNK ter ere aan Verna Vels. Hy speel saam met onder andere Margit Meyer-Rödenbeck (wat ons beter ken as Dowwe Dolla), musikant Loukmaan Adams, operaster Zanne Stapelberg en die aktrise Crystal Donna Roberts. “Dit is ’n groot uitdaging, want ek kan nie sing of dans nie, maar ek werk dit so in die storielyn …”

’n Verhoogrol wat vir hom uitgestaan het in sy loopbaan, was die toneelstuk Voor ek vergeet, waarmee hy en die sangeres en aktrise Amanda Strydom die afgelope twee jaar landwyd getoer het. “Dit gaan oor ’n ma en haar seun se liefde vir mekaar. Ondanks struikelblokke soos Alzheimers en kanker (by die ma), is daar lieflike oomblikke.

Ek en my eie ma het so ’n pragtige verhouding. Sy bly in ’n aftree-oord in Aliwal-Noord. Dié stuk het ook afgespeel in ’n woonstel in ’n aftree-oord waar die ma en haar seun (ek en Amanda) besig is om haar laaste goedjies in te pak om na die kliniek te gaan …”

Hannes gaan nie meer Bravo vervaardig nie (wel steeds aanbied), sodat hy meer tyd het vir sy vryskutprojekte, onder meer toneelspeel. “Daar is so baie rolle wat ek nog wil vertolk. Enigiets met vleis aan en natuurlik ook komedie.”

Later vanjaar kan ons uitsien na ’n fliek Verskietende ster,n drama, waarin hy ’n musiekadviseur speel. “Ek staan die seun wat die hoofrol speel by, omdat sy pa nie wil hê hy moet musiek beoefen nie. Nogal ’n mooi storie …”

Lees nou