Ons praat met

Neil Sandilands: ‘Ek breek die reëls, ja’

’n Maverick, sê die woordeboek, is: s. Iem. wat anders wil doen as die meerderheid, eiesinnig, ’n ongebrande bees, dwarstrekker, jukskeibreker, hardekop; b. ongewoon, buitenissig, eksoties.

Neil Sandilands is ’n maverick. Natuurlik ken jy hom goed as die gewilde Bart van 7de Laan. Maar Neil is veel meer as die somtotaal van sy 7de Laan-dele. As Lövborg het hy tot groot lof die manlike hoofrol in Hedda Gabler vertolk, vroeër vanjaar die KKNK se vlagskip-produksie. As poësieliefhebber en -interpreteerder (en hy skryf sy eie gedigte ook) het hy al die verhoog met Jan Blohm en Sallas de Jager van die groep Klopjag gedeel in die Droogland-produksie by die KKNK én in verskeie teaters, en hopelik later vanjaar ook by Aardklop.

Hy was ook al so ’n paar keer in die nuus weens sy omstrede aksies (hou maar net die skinderrubrieke dop). Soos daardie gewraakte, verkeerd verstane opmerking teenoor ’n lugwaardin, die kroeggevegte . . . En nou, as Zatopek van Heerden, speel hy die hoofrol in die TV-reeks Orion, wat op Deon Meyer se gelyknamige roman gegrond is. Ek het Neil hoeka ontmoet deur Orion. Hy het my genader om hom te help met musiekkeuses vir die klankbaan.

Musiek van goeie, ongehoorde stemme in Afrikaans. En só het name soos Bacchus Nel, Riku Lätti, die Brixton Moord & Roof Orkes, Rian Malan, Radio Kalahari Orkes, Bed on Bricks, Gert Vlok Nel – om maar ’n paar te noem – op die klankbaan beland. Neil sélf sing een van sy eie komposisies daarop, en jy sal verras wees, luister maar. Uiters aangenaam verras.

[box:200:grey:right]

GUNSTELINGE

KOS: Wildsbiltong, gemsbokfilet, sushi, skenkelpot, galjoentjie oppie kole by die see

DRANK: Soveel as moontlik!

BOEK: Papillon van Henri Charièrre. Locked in the Arms of a Crazy Life, biografie oor Charles Bukowski deur Howard Sounes. L’Etranger van Albert Camus.

FLIEK: Hoe beantwoord ’n mens dit? Ek kan jou my “100 beste”-lys gee. Onlangs: No Direction Home – die dokumentêr oor Bob Dylan. Terloops, wanneer kry ons die Gert Vlok Nel-film te sien wat weer eens deur ’n buitelander gemaak moes word, my magtig! (Beautiful in Beaufort-Wes is gemaak deur die bekroonde filmmaker Walter Stokman vir Nederlandse TV.)

AKTEURS: Benicio Del Toro, Sean Penn, Philip Seymour Hoffman, Lena Olin, Juliette Binoche, Scarlett Johansson . . . nog ’n lang lys.

[/box]

“Ek is lief vir Afrikaanse musiek wat iets sê oor hierdie tyd waarin ons leef en terselfdertyd tydloos is. Daar is ’n groep kunstenaars wat onlangs na vore getree het wat nie noodwendig so gewild soos van die voorste CD-verkopers is nie, maar beslis musiek skep wat aan die genoemde kriteria voldoen. Méér as!” sê Neil. “Ons het spesifiek musiek gesoek wat by Deon se roman sou aansluit. Ronelle Loots – die redigeerder – het ’n uitstekende manier gevind om die musiek te inkorporeer sonder dat dit voel asof dit ‘aan die hare bygesleep’ is.

Die hele formaat van die reeks is verander en dit word toe óf gevoelsmusiek óf sosiale kommentaar. Elke episode begin en eindig met ’n ander werk. Ons het besluit om ’n CD uit te reik wat van die musiek insluit.

Ek wil nie voorspellings maak nie, maar ek dink ons kan die Afrikaanse hoofstroom so bietjie normaliseer, sodat dit ook sinvolle musiek insluit . . .”

Deon Meyer was self nou by die produksie betrokke. Oor Neil se bydraes en sy toewyding aan die Orion-projek is hy vol lof.

“Hy het geweldige moeite gedoen met die karakter van Zatopek. Het my gebel en my kom sien, wou weet presies wat ek met hom bedoel het, hoe ek die karakter self belewe. Ek het Neil as geweldig professioneel ervaar. En, dink ek, hy speel briljant. Geesdriftig, vol passie.”

Joernalis Dirk Jordaan onthou Neil goed as een van sy joernalistiekstudente aan die RAU in die laat-90’s (hy het kommunikasiekunde gestudeer). Toe al as ’n intense, kreatiewe dryfgees. “Neil was opvallend gefrustreerd deur die beperkings van die gewone universiteitsopset en hy het kreatiewe uitlaatkleppe gesoek. Hy was baie bevraagtekenend en het veral uitgestaan as ’n intensiewe leser. Ek glo hy het wel die uitgebreide vaardighede wat dit verg om ’n (goeie) joernalis te word, maar dit was duidelik dat dit nie vir hom genoeg sou wees nie.”

Daardie intensiteit word duidelik uitgeleef, ook in sy huis – waar die mure vol hang van jagtrofees, Ngunivelle en wildhorings. Waar hy elke oggend sy tuin manikuur en natlei, voëls voer en skoffel. Waar hy daarna agter sy rekenaar inskuif en sy kreatiewe daad van die dag verrig. Neil ís in der wese ’n jagter, en die lewe is sy prooi.

           ***

Vir SARIE se fotosessie kry ons hom by ’n kafeetjie in Groenkloof. Ons moet egter vinnig maak, want Stef Bos is in die land en ons kan hóm slegs oor middagete sien. Neil kom sommer saam, na ’n Spur om die draai.  Die twee gesels land en sand. Ons eet slaai en drink wyn en luister na hulle. Daar lê oënskynlik baie meer onder die oppervlak van Neil Sandilands as moeilikheidmaker en hartejagter. En dit kom al ’n ver pad.

Vertel bietjie van jou grootword-jare – jou grootste invloede?
Ek dink daaraan met fondness en fear. Randfontein was ’n tawwe plek om in groot te word. Die aarde lyk asof dit seergekry het met al die mynbou daar. My pa self was ’n mynman en my ma ’n onderwyseres. Ek onthou rugbydae in die H.F. Verwoerd-stadion (in my fragile eggshell mind was dit net die naam van die stadion). My pa was Randfontein se skrumskakel. Op die onthaal ná die tyd het hulle my opgetel en tussen hulle laat dans . . . Ek onthou visvang saam met Pa en Oupa en Ouma. Ek onthou bietjie van my eerste epiese toneelstuk by die Klein Duimpie Kleuterskool. Ons het ons ouers vermaak met Die lappop op die ashoop.

Ek was die “kous sonder maat”. Ek onthou my vriend Pieter Bosman en hoe ons ons toebroodjies geëet het terwyl ons op ons rûe lê, want êrens het iemand my vertel ek gaan só horings groei. Die idee was om Juffrou Zinn – die kleuterskoolhoof – dan daarmee rond te jaag. Freud sou beslis iets daaroor kon sê . . . In gr. 2 was ek Stommerik in Die goue gans. Dus was die Shakespeariaanse nar al van ’n vroeë ouderdom af deel van my wapenrusting.

En die pad na die verhoog?
Bloot ’n natuurlike progressie. Die verhoog was van altyd af daar. Ek moes hard werk om die balans te kry deur ook atletiek en rugby te beoefen en intussen goeie punte te behaal, selfs in wiskunde. Ek’t nooit dramakuns gaan studeer of so iets nie, dalk voordelig. Daar was egter die geleentheid om op ’n baie vroeë ouderdom saam met pro’s te werk aan TV-produksies soos Meester en Konings. Jy leer baie deur waar te neem wat ander mense doen. Die beste akteurs is dié wat die ego sonder moeite kan verwyder. Albert Maritz se vertolking in Orion het dit vir my geleer. Hy kon my mý size gemaak het as hy wou, maar hy’t my die ruimte gegee om te doen wat ek moes sonder dat hy onnodige kompromieë moes aangaan. Sulke vertolkings sal my aanspoor om op die verhoog te bly.

Hoekom speel ’n mens toneel?
Want jy hou daarvan om in die spieël te kyk en gesigte te trek. Nie net die spieël in jou kamer nie, maar ook die een in die lewe om jou – en om daarvoor ook gesigte te trek. Soos ek groter geword het, het ek ontdek ek is ’n akteur omdat ek nie die talent van Bob Dylan of Jimi Hendrix of Mozart het nie. Ek’t iets anders gekry, maar sou tog meer musikaal wou leef. In die groter sin. Miskien ’n Les Paul leer speel. (’n Les Paul is ’n Gibson, ’n soort elektriese kitaar.)

TV, flieks of verhoog?
Daar is ’n sekere magic of elektrisiteit wat net op die verhoog kan gebeur. Dit gebeur ook nie elke aand nie, eintlik selde. Jy gaan egter telkens terug met die hoop om daardie oomblik te herleef. Film is nie minder uitdagend nie. Dis bloot anders – jy kan minder lieg. Trix Pienaar sê altyd daai kamera sien tot binne-in jou siel. Die proses is ook nie altyd linieêr of chronologies nie – so dit verg ’n bewustheid van kontinuïteit. Televisie, nou ja, dis seker iewers tussenin. Wat verkies ek? Rock & roll! As ek met ‘n projek kan ”brand” – die vuur kan voel – dan doen ek dit, maak nie saak watter medium nie.

Wat van al die stories wat oor jou geskryf word, die sensasiegedrewe stukke?
Ek glo in goeie joernalistiek en ek weet ook daar is swak joernalistiek. Nes daar goeie en swak akteurs, rekenmeesters en politici is. As dit sensasioneel is, skryf dit, maar Piet Koornhof in sy pantoffels is nie sensasioneel nie. Daar is seker mense wat daardie publikasies koop, maar dit sê ook iets oor hulle. Op die ou end glimlag Ton Vosloo en Steve wil die joernaliste bliksem.
Sou dit reg wees om Jim (Morrison) hier aan te haal?  “Did you have a good life when you died? Enough to base a movie on?”

Is Neil Sandilands werklik so stout/omstrede soos uitgemaak word?
Natuurlik. En ek sal aanhou om te wees! My oom Kerneels het English mustard in die custard gesit. Dis verskriklik stout. En as die rapse op die ken kom, moet ek daarmee ook saamleef. Wat ook al die persepsie is – ek is die ou wat daarmee moet saamleef. ’n Mens maak foute. Daar’s egter nie malice nie. Ek’s ook ’n ou wat huil in ’n fliek soos Cinderella Man. Ek wonder baie daaroor en ek glo dit het my by ’n dieper besef van myself uitgebring. Dis belangrik, al is dit net vir my.

Hoekom wil ’n mens uit die kassie klim, oftewel ‘die reëls breek’?

Her-definisie is vir my belangrik. Party mense lewe met 47 reëls – dit werk vir hulle. Ek het so min as moontlik en begewe myself soms in situasies waar ek instinktief moet reageer. Soos om totaal onvoorbereid vir 40 dae Namibië toe te ry. Of om ná amper 5 jaar te besluit 7de Laan was goed vir my. Of om ’n baard te groei. Annelize van der Ryst gee op ’n keer vir my ’n poskaart wat sê: “Beware of the man who tells you he has 20 year’s experience when what he should be saying is that he has 1 year’s experience 20 times.” There lies the rub.

Watter dramaturg spreek tot jou, en hoekom?

Samuel Beckett. Sy gesig lyk asof hy geleef het. En niemand kan hom namaak nie. Sam Shepard. Sy werk transendeer en kan baie maklik in ’n Suid-Afrikaanse idioom gedoen word. Paul Slabolepszy, want hy ken die Suid-Afrikaanse idioom so goed. Tsjechof. Ek kan sy werk doen, want ek begryp subteks. Dis jammer Quentin Tarantino doen nie teater nie . . .

Wat kan ons verwag van Orion?
Ek dink ons, en spesifiek die regisseur, Gerrit Schoonhoven, het daarin geslaag om die gees van die boek te behou. Die reeks lyk en voel anders as waaraan ons gewoond is, of aan gewoond geráák het. Onder Gerrit is daar uitstekende vertolkings (veral Albert Maritz, Erica Wessels, Lida Botha, Graham Weir, Charlton George). Progressiewe kamera en beligting deur Jacques Barnard. Ronelle se redigering is meesterlik. Barry Donnely se finale meng: Gedetailleerd.

En die klankbaan is plein “bedonnerd”. Verwag om dieselfde elemente in die reeks te sien as wat Deon in sy roman geskep het: ’n Speur-/liefdesvertelling wat boeiend en aksiebelaai is, ’n opwindende persoonlike psigiese reis van die protagonis, Zatopek van Heerden, en dan ook ’n reis deur ’n erg misplaasde Afrikaanse/Suid-Afrikaanse landskap.  Dit alles klink dalk bietjie akademies, maar hou vas, kry jul skrumpette en eierklitsers reg!

Wat dink jy van die stand van ons TV-/drama-produksies?
Daar is ongelooflike swak werk daarbuite, maar daar is ook mense wat bereid is om met hul projekte te stook, en dít is die verskil. Die meeste van die werk gebeur net té maklik, té vinnig, té ondeurdag. Na my mening is daar ook te min nuwe bloed – dis maar altyd dieselfde mense wat dieselfde projekte aanpak.

Ek het onlangs Altyd Jonker deur die jong regisseur Jaco Bouwer gesien en ek sou sê dít moet die artistieke digtheid wees waarmee ons projekte moet benader. Layeredness, soos in ’n oesterbed. Daar is baie goeie Suid-Afrikaanse werk daarbuite. Probleem weer eens: Hoekom sien ons dit nie? Is dit nie tyd dat kykNET uCarmen eKhayelitsha uitsaai nie? Wat vir my verblydend is, is dat daar elke nou en dan ’n nuwe generasie van skeppende mense en goeie werk gebeur. Kyk bloot na die verstommende groei wat ons op MK89 binne een jaar beleef het.

Ander liefdes – stokperdjies, modderstoei, wat ook al?
Jag, hengel, boeke, musiek, reis, my tuin natlei. Kuier by Steak & Ale. Die Kaap.

Waarheen, hierna?
Baie slaap! Die paar dae in Mosambiek by die Strab-musiekfees het my bietjie uitgeput.

                    ***
Stef moet gaan, hy is op pad lughawe toe. Hulle ruil e-pos-adresse uit. Neil skud sy kop ná die tyd. “Ek is net so bevoorreg om in dieselfde geselskap as hy te wees, ek’t maar merendeels geluister. Die oomblik was bietjie groot. “Ek dink wat my die meeste beïndruk, is sy belangstelling in wat ons doen. Nie net in ons as Suid-Afrikaners nie, maar die mense om die tafel. Die mense ná aan hom.” Hy sit peinsend vir ’n oomblik. Som dan dalk sy eie lewe in een sin op: “Ironies hoe dit profete van ander lande vat om ons vir onsself lief te maak . . . ”