Ons praat met

Deon Coetzee: ‘Ek het byna my lewe verloor’

Die lewe is vir Deon Coetzee soos ’n rugbywedstryd. Soms wen jy, soms verloor jy. Maar as jy op pad doellyn toe is en die bal laat val, vergewe mense jou moeilik. Die man wat ons die eerste tien jaar van Egoli as sepiester leer ken het en daarna onder andere as Herman Croucamp in 7de Laan gesien het, wéét. Want hy was daar. Hy het die bal ’n paar keer laat val. En daar is mense wat hom steeds nie vergewe het nie.

Hy was op sy dag ’n goue seun. Op skool die atletiek- en rugbyster. Ook die ster van die TV-reeks Skooldae. Later het hy vir Noord-Transvaal en Transvaal op die rugbyveld uitgedraf. Op 22 het hy met sy jeugliefde, Estelle, getrou. Twee pragtige seuntjies is gebore. Toe begin dinge verkeerd loop. Twee huwelike het gesneuwel, hy het sy werk verloor, huise verloor. ’n Aanrandingsklag en een van dronkbestuur het koerantvoorblaaie gehaal.

Hy het die binnekant van ’n tronksel ’n paar keer gesien. Maar as hy nou terugdink, weet hy: Dinge het al begin skeefloop met daardie eerste drankie op 17. Van toe af was drank vir hom té lekker. En as hy gedrink het, het woedebuie hom amok laat maak.

Naas die moleste waaroor die koerante berig het, kan hy min onthou van die donker dae toe drank en dwelms sy lewe oorheers het. Iemand het hom eenkeer voorgekeer en gevra of hy nie eens Deon Coetzee was nie. En ja, hy was, maar Deon Coetzee het homself langs die pad verloor. Hy het sommige oggende nie eens geweet waar hy is wanneer hy wakker word nie. Op ’n dag het hy besluit dis nou genoeg. Toe moes hy skadebeheer begin doen. Dis nie lekker om mense om verskoning te vra vir wat jy aan hulle gedoen het nie. Ook nie om terug te kyk op ’n stuk lewe en dit lyk soos ’n slagveld nie. Dis hoekom Deon, wat nou al van 2005 op die herstelpad is, saam met dramaturg Deon Opperman aan ’n outobiografiese eenmanvertoning, Oog op die bal, werk. Hy hoop ander gaan daaruit leer. Hy wil nooit weer die bal “drop” nie . . .

Wat het jou finaal laat ophou drink?
My pa, Pieter,’n oud-joernalis, het op 50 ophou drink. Ek dink ek het ook op 43 by daardie punt gekom. Ek glo dis ’n ou Afrikaner-ding: rugby, drink en speel. Dis maar in ’n ou se gene. Daar is ’n Engelse gesegde: “Stupidity is doing the same thing over and over again and expecting different results.” Ek het letterlik een dag ná nog ’n aand van kerjakker opgestaan. Toe dink ek: Ek het mos dié ding nou al lank genoeg gedoen? Kom ek kyk of iets anders nie werk nie.

Jy is nou ’n geheelonthouer?
Ek is ’n ou van uiterstes. Ek het heeltemal opgehou. Maar ek is nie een van daai ouens wat vir ander sê “hou op drink, dis ’n euwel” nie.

Wat het jou laat voel alkohol vernietig jou lewe?
Toe ek wakker geword het in die bed en vir 20 minute nie kon uitpluis waar ek was nie. En die chaos in die huis en die girlfriend wat weer weg is.

Hoe het jou lewe verander?
Ek het tyd teruggewen. Tyd om te dink, tyd om te reageer en tyd om te dink hoe om te reageer.

Is als wat die koerante oor jou geskryf het waar?
Absoluut! En nog meer . . .

Was dit die drank wat jou so laat optree het?
Dit was ek! ’n Mens ken die verskil tussen reg en verkeerd. Jy kan sielkundige redes opper en teruggaan in jou verlede, maar dit kom als neer op jou eie besluite.’n Mens pak heeltyd die skuld op ander, dis die maklikste. Maar als is jou eie skuld. Ek was op ’n pad van selfvernietiging en ek wou dit loop. Ek het ’n daadwerklike besluit geneem om te gaan delf in daardie wêreld.

Waar het dit begin?
Ek het my eerste dop gedrink toe ek 17 was. Dit was lekker en het altyd lekker gebly. Tot die einde. Dis net die gevolge wat nie lekker was nie.

En as jy nie opgehou het nie?
Ek sou myself of iemand anders doodgemaak het. Dis nie melodramaties nie, dis ’n feit. Die ergste van als is ek sou dit nie eens geweet het nie. My laaste destruktiewe drankepisode was by ’n vriend se sestigste verjaardag. Hy het vir my ’n Chivas Regal aangebied. Ek het my hand uitgesteek en gesê: Yes! Dis die laaste ding wat ek kan onthou . . . die stukke wat ingevul is ná die tyd is too ghastly to contemplate. Karre en vroue wat weg is, en blou ligte en goed. Jis, do you really need that? Die lewe is al klaar so heavy.

Jy was ’n goue seun – was dit te veel vir jou? Die rugby en die nuwe roem van Egoli?
’n Mens kan nie dit sê nie, want dit was my lewe. Ek het grootgeword in daardie milieu. Vandat ek tien was, was dit atletiek- en rugbyprestasies. Koerante neem jou af en almal praat oor jou. Jou ego word kunsmatig aangewakker en gepoleer. Ek was ’n sportster by die Hoërskool Helpmekaar. Daar was persoonlike afrigters en rugbykampe. Ek is rondgevlieg, geld betaal vir drieë. Ek gee nie om wat mense sê nie, maar jy kan ’n jong laaitie nie te vinnig sê hoe goed hy is nie. Om ’n kind so te dryf is nie gesond nie. Ek sien dieselfde ook nou met my pêlle en hul kinders. Hulle praat asof dit húlle rugbyloopbane is: “Ons speel Saterdag teen julle . . .”

Het jy enige newe-effekte soos lewerskade?
Nee, ek is gelukkig, want ek het nog die dwelmding ook gedoen.

Wat het jy gebruik?
Ek was ’n groot crack-man. Dis ’n moeilike ding om te los. Ek het twee keer ’n oordosis geneem.

Hoe kom ’n mens uit die dwelm- en alkohol-kolk?
Net ek kon dit doen. Klinieke sou nie vir my gehelp het nie. Ek het nie baie geloof in rehabilitasiesentrums nie. Dis byna ’n in-ding om te sê jy was in rehab. Ek het AA toe gegaan bloot omdat ek nie geweet het wat om te doen nie. Ek het voor dit ’n paar keer probeer ophou. ’n Mens dink elke keer: Nee, jis, ek moet ophou, my girl het my weer gelos, of my kinders kry swaar. Maar ná die tweede bier vergeet jy.

Wat het dit aan jou ouers gedoen?
O, dit het hulle geraak! My ma, Shirley, is in 2006 dood. Sy het my darem nugter op haar einde gesien en dit is goed. Ek en my pa was eens na aan mekaar, maar hy het die laaste jare voor sy dood in 2002 nie baie van my gehou nie. Dis een van die dinge wat ek sukkel om te verwerk. My ouers het my elke keer teruggeneem as ek drooggemaak het. Dis wat ouers doen. Ek kom dit nou agter met my kinders.

Hoe gaan dit met hulle?
Renier (23) is besig met sy derde jaar in ingenieurstudie aan die Universiteit van Johannesburg en Werner (21) het pas teruggekeer van sy oorsese eskapades. Hulle is lekker outjies. Ons verhouding is uiteraard nou beter. Die twee het swaargekry onder my drinkery. Hulle is merkwaardig en het baie meer uit hierdie ding geleer as ek. Renier en Werner gaan uit en drink ’n bier saam met pêlle, maar hulle weet wat die gevolge is. Ek gaan elke dag op my knieë en sê dankie dat hulle insig het.

Hulle moet trots wees op jou?
Ek glo hulle is. Ek hoop so.

En hulle ma?
Ek het Estelle baie sleg behandel. Dit het my jare gevat om oor daardie ding te kom. Maar ons is nou oukei.

Was sy jou groot liefde?
Ja. Sy is die ma van my kinders, maar ek het haar nooit geken nie. Ons begin mekaar nou eers ken.

Is sy weer getroud?
Sy is weer saam met iemand en sy is gelukkig.

Sal jy weer trou?
Ja.

Het jy nou iemand?
Ek het iemand ontmoet wat my verstaan. Sy is bereid om ’n kans te waag. Sy is ook al deur die lewe. Ons gee mekaar ruimte.

[box:200:grey:left]

DEON SE GUNSTELINGE

BOEK: The World According to Garp

FLIEK: As it is in Heaven

AKTEUR: Robert Downing Jr. (Hy is deur dieselfde meul as ek.)

AKTRISE: My eerste vrou, Estelle . . .  omdat sy so lank met my uitgehou het. 
PLEK: Waar ek nou is.

JOU GROOT LIEFDE: Die verhoog

[/box]

Hoeveel meisies het jy langs die pad verloor?
’n Hele paar. Ek het vir almal verskoning gaan vra. Ek moes. Dié wat ek kon onthou. Die res sal maar moet wag tot hulle my weer sien en my herinner aan wat ek gedoen het.

Het mense jou vergewe?
Daar is net een ou, my groot skool-pêl, wat my nie vergewe het nie, maar ek respekteer dit. Jy kan nie verwag almal moet vergewe nie. Daar is grade van mense sleg behandel. Ek het mense baie sleg behandel. Juis omdat ek myself sleg behandel het.

Dis dapper om verskoning te vra?
Dink jy dis dapper of net oorlewing?

Sal ander leer uit jou ervaring?
Baie mense sê ek moet daaroor kom praat en ander inspireer, maar al wat ek kan sê, is: Hou op! Ek is nie ’n openbare spreker nie. Ek hakkel en kan nie praat voor ander nie.

Beroemd en brandarm?
Ek was down and out. Ek het uit rugsakke geleef. As ek kon skryf, sou ek ’n boek geskryf het. Dis hoekom ek nou aan Oog op die bal saam met Deon Opperman werk, wat ek teen Augustus gaan opvoer. Dit handel oor elemente van my lewe. Ek wil toer met die ding, want dit is wat ek kan doen – toneel speel. Of probeer om dit te doen.

Waar het die akteur-ding begin?
Ek het grootgeword met flieks. My pa het groot skerms agter in ons erf gebou. ’n Mens kon op ’n lilo in die swembad lê en fliek kyk. Toe ek in matriek was, het Franz Marx by skole omgekom om akteurs vir Skooldae te soek. Ek het vir die oudisie gegaan omdat ek dan vroeg huis toe sou kon gaan. Toe ek instap, het hy dadelik gesê ons begin op so en so ’n dag . . . stel jy belang?

Jy glo die lewe is soos ’n rugbywedstryd?
Jy kan jouself in ’n posisie inhardloop om die bal te onderskep. Jy kan mos sien waar jy dit gaan vang. As jy nugter is, en by jou volle positiewe, kan jy jou eie geluk bepaal deur dit met die regte tydsberekening te vang. As jy nie jou oog op die bal het nie, is jy in die moeilikheid.

’n Terugblik op vergete goed?
Dis ironies hoe vergete baie goed is. Toe ek by die SAUK gaan vra vir uittreksels van die reekse waarin ek sedert 1980 gespeel het, het ek uitgevind omtrent alles is vernietig! Ek kan niks van myself kry nie. Ek het ’n klomp plakboeke wat my pa van my gehou het, maar ek het soveel goed laat wegraak met al my dinge. ’n Mens verloor jou waarde vir jou goed as jy so rof leef.

Sou jy jou lewe anders wou gehad het?
Ek sou nie mense of myself wou seermaak nie, maar dit het my gevorm in die mens wat ek nou is. Ek sou nie my lewe nou waardeer het as ek dit nie byna verloor het nie.

Hoe lank gaan jy by Villa Rosa wees?
So lank as wat hulle my wil hê. Ek hou daarvan om Shane Rix te speel. Ek was vir lank sy tipe: bombasties, arrogant, gevoelloos, geldgierig. Ek ken dit. Ek ruik, proe en hoor hom. Ek ken hom in sy essensie.

Wat beteken die eenmanvertoning vir jou?
Deon Opperman sê heeltyd vir my: “Onthou wie jy is!” Dit het ’n rukkie geneem voor dit deurgedring het wat hy bedoel. Ek moet onthou wie is Deon Coetzee.

Het jy nou die bal onder die arm en hardloop jy vir die doellyn?
Presies! Ek gaan in die hoek druk.