FOTO: Videogreep van YouTube

FOTO: Videogreep van YouTube

Ons praat met

SARIE.com praat met die ma van die oulike Holland’s Got Talent-ster met SA wortels

Die 9-jarige Amira Willighagen het verlede jaar groot opslae gemaak toe sy Holland’s Got Talent met haar operasang gewen het. Boonop het sy geen sang-opleiding gehad nie. En Amira se wortels lê diep in Suid-Afrika.

Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur, het vanoggend met Amira se ma, Frieda, gesels. Frieda is ’n Suid-Afrikaner wat in 1995 Nederland toe verhuis het.

“Ek het nooit besef sy sing só goed nie,” sê Frieda oor haar dogter se sangtalent. “Sy het 100% natuurlike talent!”

Amira het vir haar ma gesê sy wil sing en Frieda het dit toegelaat. Sy het gedink dís maar ’n droom soos wat baie kinders het. Maar kort voor lank het Amira haarself geleer opera sing deur video’s op YouTube te kyk.

Amira is ’n YouTube-sensasie – lees waarom

Amira se inspirasie was eers Jackie Evancho – ’n 13-jarige sangeres van Amerika wat sedert sy 9 jaar oud is reeds vyf albums met ligte klassieke musiek bekend gestel het.

Amira by Dagbreek se ateljee FOTO: Fanie Cronjé

Amira by Dagbreek se ateljee
FOTO: Fanie Cronjé

“Sy het belangstelling in Jackie verloor en toe het ernstige opera soos Maria Callas haar begin inspireer,” sê Frieda, wat self met klassieke musiek grootgeword het.

“Dit was eers vir my vreemd, want kinders lag mos gewoonlik vir opera. Maar dis haar belangstelling,” vertel sy.

Dié kinders se sterre skyn nog helder

“Sy hou daarvan. Dis wat sy wil doen,” voeg sy by. Amira se eerste album is pas opgeneem. Hulle het dít glo in baie min tyd opgeneem, aangesien Amira die liedjies in die ateljee vinnig onder die knie gekry het. Amira het haar album ook net na-ure en oor naweke opgeneem omdat Frieda nie wil hê sy moet skool mis nie.

Amira, haar broer Fincent en hul ma Frieda FOTO: Fanie Cronjé

Amira, haar broer Fincent en hul ma Frieda
FOTO: Fanie Cronjé

Kinderster Shirley Temple is oorlede

“Suid-Afrika sal altyd ons eerste prioriteit wees weens ons bande met die land,” sê Frieda, wat in Potchefstroom grootgeword het.

Amira, wat reeds genooi is om in Suid-Afrika op te tree, is nog tot Saterdag in die land. Sy was hier om ’n nuwe speelgrond in Ikageng, naby Potchefstroom in Noord-Wes, oop te maak. Sy het twee jaar gelede by haar ouma in Potchefstroom gekuier en opgemerk dat die kinders in dié woongebied nêrens het om te speel nie. Sy het belowe om wanneer sy dit eendag kan bekostig, dié kinders te help. Dié week het sy dit gedoen.

*Amira was vanoggend op Dagbreek op kykNET, waar Fanie kans gekry het om agter die skerms met haar en haar ma te gesels.

Amira se optrede tydens die finaal van Holland’s Got Talent: