mei07voorbladartikel1a
Ons praat met

Sonja Herholdt: “Ek het ’n liggie uitgedoof”

Dis ’n blatant eerlike boek. Sy ontbloot haar siel, en stel haar bloot aan kritiek en oordeel. ’n Paar weke voor die verskyning van die boek wil Sonja eers uitpraat. Nie in ’n restaurant of in haar huis waar haar kinders kom en gaan nie – in die stil woonstel van ’n vriend van haar. Vrou teenoor vrou, vra sy. Sy neem eers my hande in hare en bid vir ons.

Sonja is steeds ’n uitgesproke Christen, al het die Rhema-kerk haar destyds met haar egskeiding hard op die skeen geskop. Sy glo vas aan die sisterhood. Vroue moet verdriet en lag kan deel. Vandag vertel sy my van die moeilikste besluit van haar lewe. Sy was te besig en daar was te veel eise. Sy moes ’n sekere beeld uitstraal. Haar verhouding met FC was nie ’n veilige plek nie. “Ek was nie reg vir nóg ’n verantwoordelikheid nie. Ek kón net nie.”

Sy glo die besluit was die regte een in daardie stadium. Sy het jare daarna daaroor geworstel, maar is steeds oortuig sy het reg gekies. Die vraag kom sonder dat ek dit beplan het. “As jy eendag in die hemel staan en die kind wat jy laat aborteer het, kom staan voor jou, wat gaan jy vir hom of haar sê?”

Die kwetsing in haar oë en haar skokreaksie laat my wens ek kon my woorde teruggryp. Sy vou vooroor op die rusbank soos iemand wie se wind uitgeskop is. Sy maak haar gesig toe tussen haar hande. As sy dit uiteindelik wegneem, is haar oë vol trane.

“Ek weet nie. Ek weet regtig nie.” Sonja het nog altyd geglo sy gaan die kind eendag in die hiernamaals weer sien. “Ek het hom met die aborsie in die Here se hande gegee. Dalk gaan hy my vra hoekom ek hom nie ’n lewe op aarde gegun het nie. Miskien verstaan hy reeds hoekom. Ek glo ons sal saam lag en huil. Ons gaan mos almal daar gelukkig wees?”

Haar boek trek die sluier af van ’n paar diep geheime waarmee sy jare geloop het. “Maar dit was tyd om my verlede vierkant in die oë te kyk. Nou is daar nie meer omdraai nie,” sê sy. Alles staan nou finaal swart op wit, gedruk op papier, vir almal om te weet: Sonja Herholdt, die eens goue meisie van Afrikaanse musiek, het op die kruin van haar loopbaan ’n fetus van drie maande in Londen laat aborteer. Dit was vanselfsprekend nie ’n maklike besluit nie, sê sy. Sy het haarself eers moeg gebid vir ’n oplossing.

“Die Here het my nie gekeer nie. Ons het die reëlings getref,” vertel sy in die boek. Sy benadruk nou dit was háár besluit, nie FC s’n nie. “Ek kan nie oor dié ding agter God wegkruip nie. Ek kan die skuld daarvoor op niemand anders se skouers pak nie. Nie eens op die man wat ek al van talle buite-egtelike verhoudings beskuldig het nie. Ek aanvaar volle verantwoordelikheid daarvoor.”

Sy weet mense gaan haar oordeel en kasty. Veral as Christen. Daar is dinge in haar boek wat mense ’n ander beeld van haar gaan gee, weet sy ook. Maar sy hoop die meeste mense gaan haar verhaal inspirerend vind.

“Die boek is mý waarheid. Dis soos ek my lewensverhaal sien. Dis dalk nie die perspektief van my kinders of FC nie. Ek het binne-in my gaan delf na my ou self.”

Sy glo mense oordeel mekaar maklik van buite. As glansmens is jy in die kollig. “Maar mense weet nooit werklik wat in die lewe van ander mense gebeur en wat hulle die mense maak wat hulle is nie.”

 

Dit was tyd om my verlede vierkant in die oë te kyk

 

Die boek stroop die gepoetste beeld wat mense nog altyd van haar gehad het. Sy laat die ware Sonja byna kwesbaar voor die leser staan. Sy het eers met die hoop plakboeke wat haar pa van haar loopbaan gemaak het en foto-albums van haar kleintyd gesit. Berig vir berig het die herinneringe teruggekom. Haar gedagtes het teruggegaan na warboel-jare. Tye van rusies, hardkoppigheid en rebelsheid van kleins af deel van haar persoonlikheid was. Dit het haar besluite en verhoudings geraak. Daardie hardkoppige streep het sy van haar pa geërf, sê sy.

“Dit het my soms benadeel, maar ook baie gehelp om vas te byt.” ’n Groot deel van die rebel het sy as kind agtergelaat, maar dit het plek gemaak vir ’n ander, teenoorgestelde gewoonte. “Ek wou ander tevrede stel. En ek het ’n mislukking gevoel as ek dit nie kon regkry nie.”

Haar bewonderaars, die media, die mense na aan haar, én syself het te veel eise begin stel. Daar was te veel wysies om op te dans. “Ek was bekend as die sweet en nice Sonja, maar iewers het ek die ware Sonja onderdruk.” Nóú kan sy sien hoe sy haarself langs die pad verloor, en weer opgetel het. En weer laat val het. Die tye wat vir haar gevoel het of dit nooit sal verbygaan nie, lyk nou vervlietend vinnig. Sy besef sy het soms te vinnig oplossings verwag, wat dikwels eers jare later gekom het. Sy glo sy het haar oorlewingsdrang te danke aan haar kinderlike, naïewe geloof in God.

“Dit het my nog altyd gered. Mense het my gedrop, maar God nooit nie.” Dis hoekom die boek vir haar ook gaan oor dankbaarheid. Oor die plek waar sy nou is. Dis ’n fase in haar lewe, verduidelik sy. “Nie een van ons is verniet hier op aarde nie. Daar is nie iets soos toeval met jou menswees nie. Ek weet nou daar was ook ’n doel met my lewe. Dit was nie ’n fout nie. Ek sou so graag wou sê ek sou alles anders aangepak het as ek my lewe kon oorkry, maar sou ek dan nog dieselfde mens gewees het? Sou ek dieselfde lewenslesse geleer het?”

Lag, lief, leed en trane het haar die Sonja gemaak wat sy vandag is, glo sy. “Met ’n lewensverhaal soos myne hoef ek nie van ’n hoë brug te rekspring of met ’n valskerm uit ’n vliegtuig te spring om myself te bewys nie. My lewe het uitdagings aan my gestel waarmee ek myself bewys het. Oor en oor.” Klein van postuur, maar groot van moed, besef jy as jy deur die boek lees. Al die breekpunte, glanspunte en hoogtepunte, maar veral al die kere dat sy van voor begin het.

“Dis nie maklik om voor jou foute te gaan staan en vir jouself te sê nie: Dit was my besluite en ek neem verantwoordelikheid daarvoor, en ek sal dit nou in die oë kyk.”

Een van die foute waaroor sy vandag spyt is, is dat sy nooit behoorlik ’n oog oor haar geldsake gehou het nie. Sy het dikwels in die verlede oor haar stormagtige huwelik met FC gepraat. Sy ontrouheid het seergemaak. Maar nou erken sy in haar boek ook sý het foute gemaak. Sy was besitlik en jaloers. Sy neem verantwoordelikheid vir haar aandeel aan die mislukking van die huwelik. Sy het baie getob oor wat FC se reaksie op die outobiografie gaan wees.

 

Dis die guts om op te staan en oor te begin wat van jou die mens maak wat jy is

 

“Maar mense moet besef dis my opregte en eerlike weergawe vanuit mý perspektief.” Sy glo FC sal met ’n oop gemoed lees en dat dit vir hom iets sal beteken. Hulle het nou ’n goeie verhouding. Hulle aanvaar mekaar vir wie hulle is, glo sy.

“Ons het elkeen die egskeiding op sy eie manier verwerk. Ons kuier nie oor en weer nie, maar ons het wedersydse respek vir mekaar. Ek verstaan hom nou beter. Ek het ’n deernis vir hom vir wie hy is en watter invloed hy op my loopbaan gehad het.” Met die skryf van die boek het sy FC een aand gebel en dankie gesê vir sy groot aandeel aan haar loopbaan. “Ons twee het tog iéts saam reggekry. Ons het saam ’n invloed op ’n tydperk van Afrikaanse musiek gehad.”

Haar boek is ook ’n huldeblyk aan mense wat baie vir haar beteken het, soos haar jare lange vriend en vennoot Mike Wannenburg. “Hy het vir my vensters oopgemaak om te kan vlieg. Hy het my gewys waartoe ek in staat is. Hy is ’n mens op wie ek my lewe sal vertrou. Hy is daardie praktiese mens wat jy in jou lewe nodig het as die wiele afval. Ons het mekaar deur die jare soos twee klippies geskuur.”

Vir haar is die lekkerte dat ’n mens verhoudings oor die jare kan uitsorteer. Met party verbreek ’n mens bande en met ander verdiep jou sielsgenootskap. Ja, sy hunker steeds
na “net daardie één mens wat my sal liefhê soos ek is”. ’n Sielsgenoot.

Ook vroue het ’n groot rol in Sonja se lewe gespeel. Met haar CD Verhale van vrouwees, waarin sy die stories van verskillende vroue voorlees, en haar Incelebration-projek, waardeur sy hoop en inspirasie aan vroue bied, wil sy ander vroue motiveer. Sonja erken vroeg in die boek sy het jare lank probeer om sekere seer-herinneringe te ignoreer in die hoop dat dit weg sal gaan. Maar dit gaan nooit weg as jy dit nie uithaal en konfronteer nie, sê sy.

“Die een of ander tyd kom alles uit, en grimering is skaars veldiep. Jy kan tog nie die geheime van jou eie gesig vir jouself wegsteek nie.” Nou krap sy die grimeerlagie van die glans-Sonja af. Sy konfronteer die Sonja op die verhoog – en eis die ou Sonja terug. Dit het begin met haar CD Reconstructing Alice in 2000. “Ek het balans in my lewe begin kry. Ek moes eerlik met myself wees oor wie ek is en wat van my geword het. Ek moes nadink oor waarheen nou.”

Sy glo dat God haar vier kinders gegee het om met oorgawe te vertroetel en lief te hê. “Hy het vir my kinders gegee toe ek reg was om die volle verantwoordelikheid van moederskap te dra.” Kinders wat elkeen ’n nuwe liggie in die donker plekke van haar hart kom opsteek het.