Ons praat met

Steve se ma praat: “Ek ken Steve nie só nie”

Die ooreenkomste is onmiskenbaar. Sy het dieselfde blou oë en skerperige neus as een van die land se grootste musieksterre. En nou, op 63, ook dieselfde ligte hare (vroeër jare was dit donker). Steve Hofmeyr se ma, Carien, groet senuweeagtig buite haar meenthuis in Bloemfontein.

Sy is sku vir die media, wil nie eintlik met enige joernalis praat nie. Tog, as jy by die voordeur instap, verwelkom die teekoppies jou op ‘n skinkbord saam met bordjies eetgoed onder ‘n net: koeksisters, vleispasteitjies en muffins met biltong en kaas. Vrystaatse gasvryheid.

Verlede jaar was ‘n moeilike jaar vir haar seun. ‘n Mediaherrie oor buite-egtelike verhoudings het om sy kop losgebars, hy is in die hospitaal opgeneem weens ‘n geperforeerde dikderm en sy vrou, Natasha Sutherland, het besluit om van hom te skei. En toe is daar boonop die tee-insident met die redakteur van Huisgenoot . . .

As jy met Carien gesels, besef jy dit was ook ‘n moeilike jaar vir háár. Steve is kwaad en sy weet nie waar die woede vandaan kom nie. Sy is bekommerd oor wat die toekoms vir haar seun inhou. Sy stem nie altyd saam met hoe hy optree nie. Maar sy waarsku ook: “Jy sal niks leliks vir my oor een van my seuns sê nie, want dan sal ek jou beslis aanvat.”

Haar familie is haar trots. Dít sien jy met al die foto’s in die huis van haar kinders en kleinkinders. ‘n Foto van Steve saam met klein Sebastian, een van sy seuns, pryk op die spieëlkas oorkant die swaar hout-eetkamertafel. Daar is ook ‘n geraamde potloodskets van Steve se gesig en ‘n middelblad-tydskriffoto van hom vroeg in sy loopbaan – lang hare en kaal bolyf – teen die mure in een van die slaapkamers.

 

Vir my is hy nog die kind wat by my in die huis grootgeword het. Ek sal nooit my rug op hom draai nie

 

Carien kies haar woorde oor Steve versigtig. Dis ‘n ma met respek en liefde vir haar kind wat praat. Sy lees ‘n SMS wat hy gestuur het voor hierdie onderhoud: “Al wat ma oor my hoef te sê, is Steve is nie ‘n kind wat jy kan voorskryf nie. Ek dink mense onderskat hoe diep seergemaak ek en Natasha is oor al die knaende media. Die res is ma se storie.”

Dat hy iemand is wat jy nie kan voorskryf nie, is die waarheid, sê sy. Sy vertel hoe sy haar seuns smiddae ná skool by Grey-kollege in Bloemfontein gaan oplaai het.

“Dan staan almal daar, behalwe Steve. Hy het besluit ek kom te laat; hy loop solank. Toe ek dit vir sy pa (ook Steve) vertel, het hy gesê hy sal die kinders gaan haal. Ek het mooi vir Steve gevra om asseblief tog net vir sy pa te wag, maar as sy pa met opset laat kom, het Steve maar weer besluit om te loop. Hy’t gesê hy kan nie wag tot ons eendag besluit om daar aan te kom nie.”

Steve se naam was verlede jaar pal in koerant- en tydskrif-opskrifte.

“Dis nie lekker om die goed te lees wat oor hom geskryf word nie,” sê Carien.”Ek probeer dat dit by my verbygaan, maar dit maak my seer. As ek met Steve daaroor gesels, probeer hy my moed inpraat en sê dis nie alles die waarheid nie.”

Steve waarsku haar gewoonlik as die koerante weer ‘n storie oor hom het. “As hy sê ons moet maar laag lê, vra ek gewoonlik: ‘Hemel tog, wat het jy nóú weer gedoen?'”

Rex Freeme, die man wat al 19 jaar aan haar sy is, sal haar soms Sondae op pad kerk toe bel en waarsku as daar weer iets teen die lamppale is. “Dan bly ek sommer by die huis en vra vir Rex om die inkopies te doen. Ek sal dit eers twee dae later weer waag om Pick n Pay toe te gaan. Ek ploeter op my eie voort as dit swaar gaan. Ek vra nie sommer my kinders se raad nie, want hulle het hul eie gesinne en dinge. Al wie ek nodig het om my te help, is Rex.”

Carien was geskok toe sy einde verlede jaar hoor Steve het ‘n koppie tee in die gesig van Esmaré Weideman, redakteur van Huisgenoot, gegooi. “Hy het my gebel en vertel vóór die storie in die koerante was. Toe sê ek vir hom: ‘Hemel kind, hoekom doen jy so iets?’ Ek ken Steve nie so nie.”

Die trane sit vlak in haar oë.

“Hy’t gesê hy het sommer vir Huisgenoot gesê hulle is die oorsaak dat hy Kersfees sonder sy vrou en kinders moet deurbring. Toe sê ek vir hom: ‘My kind, dit is mos nie so nie. Waar kom die foute vandaan? Soek eerste by jouself daarvoor. Moet dit nie by ander mense gaan soek nie.

“Maar hy sê die media betaal die mense wat vir hom werk (soos sy huishulp) om uit te vind wat in sy huis aangaan.” Sy klink moeg.

Die voorbladstories oor Steve se jare lange verhouding met die fiksheidsinstrukteur Janine van der Vyver, ook nadat hy en Natasha al getroud was, het haar en Rex onkant betrap. “Nie een van ons het geweet dit gaan in die koerante wees nie. Steve het ons nie laat weet nie. As jy uitgevang word, is jy soos ‘n bul met ‘n seer toon. Ek dink dít is wat die woede in hom wakker gemaak het.

“As dit by sulke goed kom, voel Steve soms vir my soos ‘n vreemdeling. Hierdie kwaadgeit van hom is nie hoe hy is nie. Ek ken hom nie as so opvlieënd nie. Hy bly ook nie meer stil as hy kwaad is nie.”

Van al stories was die een oor Steve en Janine vir Carien die moeilikste om te lees. “Ek kon nie glo dat hy die verhouding soveel jare kon wegsteek nie. Ek is eintlik bang om Huisgenoot weer te koop, want netnou krap hulle weer iets uit. Steve is dalk net besig om homself weer op te bou, dan gebeur dit. Ek dink nie hy het gedink die verhouding sou ooit uitkom nie. As hy dit soveel jare kon wegsteek, hoekom kon hy dit nie langer wegsteek nie?

 

As ek op ‘n Sondag bietjie hartseer voel, luister ek na een van Steve se CD’s. Dan loop die trane

 

“Dit pla my ook as ek Huisgenoot oopmaak en nie meer sy foto by die Afrikaanse sangers sien nie. Vroeër jare was sy foto altyd daar. Sulke goed pla my as ‘n ma.”

Sy en Steve gesels so een keer ‘n maand oor die foon, maar hy vra nie sommer haar raad nie en praat moeilik oor dinge wat hom na aan die hart lê. “Ek wil ook nie heeltyd uitvra nie. Ek dink Steve is in ‘n sekere opsig ‘n introvert. Hy meng maklik met mense en aanhangers, maar hy praat nie maklik oor persoonlike dinge nie. Hy hou baie vir homself.”

Carien dink Steve en Natasha se egskeiding knou hom erg.”Steve lag nou oor ‘n klomp goed, maar hy steek baie hartseer weg. Dit is dan wanneer hy bombastiese dinge sê wat alles weer in die koerante kom. Hoe sê hulle? The best form of defense is attack.”

Sy en Natasha is nog op goeie voet. “Ek stuur gereeld vir haar SMS’e om te hoor hoe dit met haar en die kinders (Benjamin en Sebastian) gaan. Dan sê sy ons moet kuier. Natasha het my gevra of ek van die verhouding met Janine geweet het, toe sê ek nee. Sy het ook niks daarvan geweet nie. Steve sê hy wil baie graag vir Natasha terughê en hy sal veg daarvoor, maar ek dink sy wil nou haar eie pad volg. Dalk kom dinge reg. Hulle pas pragtig bymekaar.”

Carien is bang vir wat die toekoms vir Steve inhou. “Ek is nie bang vir wat hy nog kan aanvang nie, maar vir wat die lewe aan hom gaan terugdoen. As ek met hom oor sy toekoms praat, sê hy ek moenie worry nie, hy sal bo uitkom. Dan hou ek maar weer op moan. Met jou stem gaan daar nie sommer iets verkeerd nie, dis jou gedrag wat die probleme veroorsaak.”

Sy onthou hoe sy aan die beginjare van Steve se loopbaan gaan kyk het as hy in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein optree. Sy het gebid die teater moet asseblief vol mense wees, want sê nou daar daag net drie mense op. Maar hy het vol sale gelok. En selfs vandag, ná al die negatiewe publisiteit oor die jare heen, lyk dit steeds asof hy ‘n stewige groep aanhangers het.

“Ek dink dis hoe hy met mense omgaan wat hom so gewild maak. As hy in Bloemfontein optree, vra hy gewoonlik vir my om ‘n tafel te bespreek sodat ons ná die konsert kan gaan eet. As ek teen halftien die aand vra wanneer hy dan nou gaan kom, sê hy daar is nog ‘n paar aanhangers met wie hy wil gesels.

“Hy weet hoe om met mense te praat en hy kan na hulle luister. Hy is lojaal teenoor sy aanhangers. Ek wou al van sy aanhangers verwurg as ek hulle in die hande kon kry, want hulle bel my in die nag en vra of hulle saam met my kan ry as ek weer vir Steve gaan kuier. Dan sê Steve dit is sy aanhangers daai, ek moet hulle uitlos.

“Ek het eenkeer vir die meisie met wie Steve in matriek uitgegaan het, gevra hoe hy teenoor ander meisies optree. Toe sê sy: ‘Tannie, hy sal die lelikste enetjie wat in ‘n kring vol meisies staan, die beste laat voel.'”

 

Hierdie kwaadgeit van hom is nie soos hy is nie. Ek ken hom nie as so opvlieënd nie

 

Carien is self ‘n groot Steve-aanhanger. As hy in Bloemfontein optree, is sy daar, en sy het ook al ander konserte van hom in die land bygewoon. Sy het die meeste van sy CD’s en luister gereeld daarna.

“As ek op ‘n Sondag bietjie hartseer voel, vra ek vir Rex om een van Steve se CD’s te speel. Dan loop die trane. Ek dink ek huil omdat sy pa nie kan sien hoe suksesvol hy is nie. Ek dink Steve se pa se dood het hom ‘n groot knou gegee. Ek dink hy wou vir sy pa wys hy kán.”

Carien het Steve se outobiografie geniet. Sy was verras dat hy so baie oor sy pa se dood daarin geskryf het. “My seuns het nog nie een met my kom sit en praat oor hul pa se dood nie, maar dit lyk in die boek of dit tog ‘n groot invloed op Steve se lewe gehad het. Sy pa was kort van humeur. Steve is vir my nou baie soos sy pa was. Hy sê ook niemand trap op hom nie, nes sy pa gesê het.”

‘n Ma hou aan om haar te bekommer oor haar kinders, maak nie saak hoe oud hulle is nie.Toe Steve in Mei verlede jaar vir ‘n noodoperasie in ‘n Gautengse hospitaal opgeneem is, het sy en Rex twaalfuur die nag deurgery om hom te sien. “Ek kon eers ontspan toe ek weet hy is oukei.”

Steve en Carien sien mekaar nie baie nie, maar as hulle kuier, geniet hulle dit gate uit. “Hy laat my sommer agterop sy motorfiets klim en dan gaan ry ons ‘n entjie. Ons lag baie saam.”

Ander tye sal die kommer weer aan haar knaag. “Ek luister gereeld Radio Rosestad (‘n gemeenskapsradiostasie in Bloemfontein) om te hoor of hulle nog Steve se liedjies speel. Dit pla my as ek nie my kind op die radio hoor nie. Dan wil ek weet wat aangaan. Rosestad speel nog sy liedjies, so ek voel oukei. Hulle het hom darem nie afgeskryf nie.”

Haar een wens vir Steve is om rustig te word. “Ek het al vir hom gesê hy moet vrede in sy hart kry en nie so gou kwaad word nie. Hóé hy dit gaan doen, is die million dollar question. Hy moet sy lewe self uitsorteer. Niemand kan dit vír hom doen nie. Ek het my seuns goed grootgemaak. Wat hulle met die res van hul lewe doen, is hul saak. ‘n Ma kan raad gee, maar sy moet haar kind los dat hy self sy kop stamp.

“Deur dit alles sal ek altyd lief wees vir hom. En ek sal by hom staan, maak nie saak wát hy doen nie. My band met hom sal nooit weggaan nie. Die verkeerd is daar, ek kan dit sien, en ek sal vir hom sê wat ek dink oor die dinge wat hy doen. Maar vir my is hy nog die kind wat by my in die huis grootgeword het. Ek sal nooit my rug op hom draai nie.”

 


  • leonie oosthuizen

    Sterkte vir jou steve hoop alles gaan goed met jou en jou ma en kinders.
    en stekte vir jou ook jooist en amor mag die media die bekndes nou heeltemal uit los om hulle eie lewe te lei.

  • ckmeme

    X2vx7K gjoyhtkhohvs, [url=http://umwaoaqkwwuj.com/]umwaoaqkwwuj[/url], [link=http://blmuxxglkqyq.com/]blmuxxglkqyq[/link], http://wxqvvrtcwyok.com/