nov08voorbladartikel1c
Ons praat met

Quinne Brown: ‘Ek mis die klank van Afrika’

Om haar voete op twee vastelande te hê is nie maklik nie, sê Quinne Brown Huffman. Maar in Amerika leer sy onafhanklikheid en selfvertroue – in Afrika beleef sy nostalgie . . .

Die Amerikaanse aksent glip deur terwyl Quinne Brown Huffman opgewonde met iemand oor die telefoon praat – oor die aanbod wat sy en haar Amerikaanse man, Ryan, vir ’n huis in Wynberg, Kaapstad, gemaak het en wat nou aanvaar is. Dis dalk die begin van ’n nuwe reis vir dié spontane brunet wat so lief is vir verandering en wat ons leer ken het as die gewilde Connie in 7de Laan. ’n Reis terug na Suid-Afrika.

Quinne het, die eerste keer in byna ’n jaar, vir twee weke kom kuier. Eers by haar suster, Esther, in die Kaap en toe by haar ma, Salomé, in Johannesburg. Tussendeur het sy tyd gemaak vir vriende, ’n TV-onderhoud én, op haar laaste dag in die land, ’n ure lange fotosessie en onderhoud met SARIE.

Tydens die onderhoud bel ’n vriendin en haar ma – twee keer – om te hoor hoe lank sy nóg gaan besig wees en wanneer sy huis toe kom. Almal wil ’n stukkie van Quinne hê. Sy bly al twee jaar saam met Ryan, ’n sakeman, in San Francisco, Kalifornië, maar met een voet in Afrika. “Ek kom terug Suid-Afrika toe wanneer die tyd reg is, want dis my hartland. Ek wil my kinders hier grootmaak. Ryan wil graag eendag hier kom woon. Dis hoekom dit nou so maklik is om in Amerika te wees, want ek weet dis nie vir ewig nie.”

Quinne se hare hang blink en gesond tot onder haar skouerblaaie. Sy’s slank in haar Indiaans geïnspireerde baadjie en beige mokassins. Ryan is ’n agtste geslag Cherokee-Indiaan. Sy straal van geluk, maar jy kan sien dis vir haar erg om weer haar familie te moet groet. “Wanneer ek verlang, huil ek, ek bel my mense hier en ek kom weer daaroor. Ek hanteer die hartseer deur in die oomblik te leef en asem te haal. As ek te veel dink aan wat was en wat kom, is dit oorweldigend en dan word die verlange onuithoudbaar. Ek mis die mense wat vir my belangrik is. Jy leer baie van jouself deur jou verhoudings met ander en dis moeilik as ek nie hier is nie.

 

Omdat ek dinge nou alleen moet doen, leer ek om my besluite te vertrou

“Ek mis die klank van Afrika. As jy in Rosebank, Johannesburg sit, hoor jy Afrikaans hier en die verskillende aksente van Engels daar. Ook Xhosa, Zoeloe, Tswana en Sotho. Dis die klank van ‘aardsheid’. ’n Kiewiet se geluid maak my hartseer. Ek mis dit om hier in my kar te ry. Die southern sky is . . . anders.”

In San Francisco het sy nie ’n roetine nie. Soms is sy vroeg uit die vere, ander kere slaap sy laat. Sy loop dramaklasse, gee dramalesse vir hoërskoolleerlinge, repeteer en gaan na oudisies. “San Francisco is ’n maklike stad om in te bly, want die mense is oopkop, die kulture uiteenlopend, en daar is natuurskoon en spasie – baie soos in Suid-Afrika.” Quinne het in Suid-Afrika in die openbare oog “’n grootmens” geword. Sy was net 20 toe sy die rol van Connie van der Lecq in die sepie 7de Laan losgeslaan en uiteindelik een van die gewildste karakters geword het. “In Amerika het ek die kans gekry om myself te leer ken sonder die druk van die kollig. Ek geniet die vryheid wat ek daar het om net te kan wees en foute te maak. Omdat ek dinge nou alleen moet doen, leer ek om my besluite te vertrou.”

Dáár het sy vinnig geleer om te wees wie sy is en dit met selfvertroue te doen. “Die Amerikaners word nie groot met die Afrikaner-ding om nederig en ‘klein’ te wees nie. Hulle word geleer: Jy mag sê wat jy dink en jy móét dit sê. Ek is gek daaroor, maar dit is iets om aan gewoond te raak.” Jy kan nie nederig en klein by ’n oudisie opdaag nie. Jy moet jouself kan verkoop, sê sy. “Ek moet by ’n vertrek instap en sê dít is wat ek kan bied. Ek het besef as jy hard werk, mág jy vertroue in jouself hê.

Daar is niks mee verkeerd om te glo jy is goed in iets nie.” Quinne het aanvanklik nie beplan om ’n aktrise te wees toe sy Kalifornië toe getrek het nie, maar sy kon die stemmetjie binne haar nie ignoreer nie. Sy geniet San Francisco se klein en innoverende filmbedryf. Dis glad nie soos Los Angeles se glitz en glam waar “jy kan verval in wat ander mense wil hê jy moet wees” nie. “My gut sê ek moenie nou LA toe gaan nie, want dis ’n groot plek en mense raak weg daar. Ek wil baie seker wees wat ek wil hê en wie ek is vóór ek gaan. Ek weet ek is nou op die regte plek.”

Sy probeer die Amerikaanse aksent nog onder die knie kry, dit kom nie maklik nie. “I’m getting there, daaaarling,” rol sy haar r’e. In Suid-Afrika is sy 29 en in Amerika is sy tussen 23 en 35! “Jy sê nie daar hoe oud jy is nie. Jy sal jouself in ’n boksie sit, want as ek 29 is, kan ek nie ’n 23-jarige speel nie. Mense glo wat hulle lees.”

Quinne tree nou op in die verhoogstuk Knocked Up, ’n projek van die Shari Carlson Studio. Dit word in ’n klein teater in San Francisco opgevoer. Sy speel Anna, ’n vrou wat onverwags swanger raak en dan ’n paar moeilike besluite moet neem. Sy probeer steeds werk in Suid-Afrika kry vir die kere wat sy hier is. “Ek het ’n agent in Kaapstad wat uitkyk vir moontlike rolle hier.” Quinne skram weg van gerugte dat sy dalk ’n draai in 7de Laan gaan maak as sy weer kom: “Ek is lief vir die mense daar en ons praat steeds. Ek kan niks verder sê nie.”

 

Ek kom terug Suid-Afrika toe wanneer die tyd reg is, want dis my hartland

Wanneer sy oor die probleme in Suid-Afrika praat, klink sy soos ’n besorgde ma. “Ek word kwaad as mense sleg praat van Suid-Afrika, want dit voel asof hulle sleg praat van my kind. Omdat ek nie meer elke dag hier is nie, is die skok groter as ek hoor van dinge soos die xenofobiese aanvalle. Ek leer nie meer om daagliks daarmee saam te leef soos Suid-Afrikaners nie. “Dis swaar om anderkant te wees en te hoor deur watter trauma ons land gaan. Ek het hierdie jaar ’n vriend weens misdaad verloor. Dis moeilik om daaroor te praat. Ek het geleer om die emosies – maak nie saak wat dit is nie – in my lewe toe te laat en uiting daaraan te gee. Al wil ek gil of iets slaan. Ek moet dit doen, anders word ek siek.”

Ná twee jaar se getroude lewe is Quinne nog sielsgelukkig. “Trou was nooit deel van my lewensplan nie; dit het net gebeur. Ek glo nie aan kompromie en opoffering nie. Ek glo jy neem besluite wat jou lewe verander en jy kry wat jy wil hê en jy verloor wat jy gehad het. Ek en Ryan besef ons gaan verander. So, ons gee mekaar ruimte om te wees wie ons is.” Hul verskille pla nie regtig nie, sê sy. “Ryan is verantwoordelik met geld. Ek’s ’n kunstenaar – geld brand ’n gat in my sak. Hy leer my baie van finansies. Hy’s lief vir kuier en ek soek soms stilte. Omdat ek dit weet van hom, pla dit my nie. Maar ons is maar kort getroud, so, alles is nog happy.”

In die toekoms sal sy dalk ’n boek skryf oor haar lewe. “Ons het almal ’n boek wat in ons leef, ons moet net tyd maak om dit te skryf. Ek skryf byna elke dag en dit sal uiteindelik deel van my boek kan wees. Vir eers ervaar ek elke dag se avonture.”

Sy praktiseer ook ’n selfhelende kuns en filosofie, Metamorphosis, waar met jou lyf se reflekspunte gewerk word om emosionele en geestelike pyn te genees. Sy doen dit meestal vir haar familie en vriende. En verder vat sy dinge soos dit kom.

“Ek het vrede met wat ook al is, al raak ek soms gefrustreerd. Dis soos om met ’n globale posisioneringstelsel te ry. In die Kaap ry ek met ’n GPS langs paaie wat ek nie ken nie en ek verdwaal heeltemal. As ek dieselfde paaie sonder ’n GPS ry, kom ek uit waar ek moet, want ek ry met my gut.  “Dis ’n goeie metafoor vir die lewe. Hoe meer jy jou hart volg, hoe meer maak die lewe sin.

SA & San Francisco

Quinne se gunstelinge

Koffiewinkel
SA Vida e Caffé het ’n heerlike vibe en die diens is goed. Ek het nog nie een keer sonder ’n glimlag daar uitgestap nie.
SF Ek’s mal oor La Boulange Café & Bakery. Dit het ’n Frans-Europese gevoel en lekker koffie.

Plek om stil te word
SA My ma se tuin.
SF Op ons woonstel se plat dak van waar ek die stad en see sien.

Naweekwegbreek
SA Die ongereptheid van die Transkei maak my nostalgies. Ek gaan soontoe vandat ek ’n kind is.
SF Ek en Ryan hou daarvan om te ski in die berge by Lake Tahoe, op die grens van Kalifornië en Nevada.

Kuierplek
SA Ek geniet die Maleisiese en Thai-eetplekke op Stellenbosch, waar ek met my hande of chopsticks eet. Ek hou van ’n ete waar almal mekaar se kos proe.
SF Daar’s soveel ongelooflike restaurante om van te kies, maar Thai bly my gunsteling.

Ding om te doen
SA Wyn drink saam met my familie. Om in Stellenbosch se wingerde of Jonkershoek te stap.
SF Ek swem graag in die see. Die water daar is baie koud en laat my lewendig voel. Dis ’n nuwe luukse wat ek ontdek het.