Katlego Maboe
FOTO: SAUK

Katlego Maboe FOTO: SAUK

Ons praat met

‘Ek onderskat nie my ouma se wysheid’ – Katlego Maboe

Katlego Maboe, mede-aanbieder van Expresso, se ouma, Ellen Mogoje (76), afgetrede skoonmaker van Potchefstroom, speel ’n reuse-rol in sy lewe. Dit is sy groot droom om haar en sy oupa, Salthiel (80), af te vlieg Kaap toe sodat hulle kan sien waar hy deesdae leef.

Grootwordjare

“My ma, Beauty, kon as enkelma nie alleen vir my sorg nie. Só beland ek toe by my oupa en ouma. Ek het in hul eenvoudige huisie in die township Ikageng, net buite Potchefstroom, grootgeword. Ma het as onderwyser naby Lichtenburg in Noordwes geld verdien en my grootouers help betaal om my groot te maak. Ek het dit verstaan. Dit werk dikwels so in die swart gemeenskap.

Ouma, my nkoko [Tswana vir ouma], is ’n karákter. Ek het nie noodwendig kleintyd altyd van haar gehou nie, maar ek het haar gerespekteer. Sy het geen teëpraat of stoutwees geduld nie.

Haar stem was hard, oeee, en sy het geglo aan dissipline. Tot vandag toe hou ek nie van ’n deurmekaarspul nie. Ons moes baie higiënies wees. En altyd respek aan ouer mense betoon. Ek wil nou nog soms vir ouer mense ‘Oom’ of ‘Tannie’ sê.

As ek stout was, het Ouma pak gegee. Soos die keer toe ek die potplant in die huis met ’n sokkerbal omgeskop het. Ná haar rapse het ek dit nooit weer gewaag nie.

Ek onthou ook hoe kwaai sy was oor vloekwoorde. Tot vandag gril ek daarvoor. Saterdagoggend moes ek help in die huis: vensters was, stofsuig. Elke Sondag moes ons kerk toe gaan.

Katlego Maboe met sy ouma, Ellen Mogoje FOTO: Sarie

Katlego Maboe met sy ouma, Ellen Mogoje
FOTO: Sarie

Die pad na sukses

Ouma het geglo met ’n vol maag kan jy beter werk. Sy kon lekker kook: stampmielies en boontjies met ’n lekker skaaptjoppie, mielies. Vir bederf het sy die heerlikste semelbeskuit gebak. Vandag nog, as ek in Johannesburg is vir werk, besoek ek hulle in Potchefstroom. Ons praat dan ’n hond uit ’n bos uit.

Daar was nie plek vir trane by haar nie. Sy het gesê as jy iewers wil kom in die lewe, moet jy hard werk, nie sit en rondtjommel nie. Jy moet ’n man wees en besef jy het verantwoordelikhede. Ek het hard geleer en gelukkig nooit gesukkel op skool nie. Aan die einde van die kwartaal, as my punte goed was, het sy dit beloon met ’n drukkie en ’n mooi glimlag.

Skool was lekker – ek het op hoërskool in die Noordwes-jeugkoor gesing, aan krieket, atletiek, rugby en hokkie deelgeneem en matriek geslaag met twee onderskeidings aan Potch Boys High.

Loopbaan in televisie

Oupa en Ouma het my so baie geleenthede gegee. Ek het in 2005 ’n graad in rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit verwerf, danksy ’n beurs en húl aansporing. Ouma het altyd gesê as ek my deel doen en Boontoe kyk, sal ek suksesvol wees.

As student het ek in sanggroepe begin sing. Die kersie op die koek was toe ek in 2005 as tenoor by die a cappella-groep Flip A Coin aangesluit het. [Die groep het in 2011 ontbind.] Toe ontmoet ek Johrné van Huyssteen, deesdae radioaanbieder by OFM en stigter van die musiekgroep ddisselblom, en hy vertel my toe van oudisies vir De Kat se televisie-leefstylprogram. In 2007 het ek daar begin werk. Later het die natuurprogram 50/50 op SABC3 gevolg.

Die afgelope drie jaar is ek deel van die Expresso-span. Ouma kyk elke oggend na my op die kassie. Sondae spog sy met my by die kerk.’’

Wat Katlego geleer het

  • Koester jou familie.
  • As Ouma jou winkel toe stuur, hardloop!
  • Doen dinge vir ander met liefde.
  • Moenie die wysheid van ouderdom onderskat nie.Ek bel Ouma-hulle nog minstens een keer per week.
  • Die lewe het my geseën – ek dink dit is my plig om ’n rolmodel vir ander jong mense te wees.