sr0906amor01
Ons praat met

“Ek sal hom nooit los. Joost sou my nie deur dié hel sit”

Net ’n paar minute voordat sy by die KKNK op die verhoog moes verskyn, het ’n wonderlike kalmte haar oorval, vertel Amor van der Westhuizen. Dit was die eerste keer dat sy voor so ’n groot gehoor moes sing ná die moeilike tyd wat sy en Joost vanjaar deurgemaak het.

“Ek het opgekyk na die maan en geweet ek word beskerm. ‘My engele sit op die maan,’ het ek vir Joost gesê.”

Amor sit plat op die mat in die sitkamer van hul huis in ’n veiligheidskompleks noord van Johannesburg. Haar donker hare hang glad om haar gesig en sy lyk bleek.

“Vandag is ek moeg,” het sy netnou, toe ons gegroet het, gesê. Daar’s weer ’n voorblad-artikel op die rak wat van “nuwe skandale” oor haar en Joost vertel. “Ek koop dit nie en lees dit nie. Ek en Joost hou ons nie met sulke negatiewe energie op nie,” sê sy. “En wat weet hulle van wat hier, tussen ons vier mure, aangaan?”

 

Joost het vir my gesê ek het daardie aand sy lewe verander

 

Amor lyk skielik broos, veel jonger as haar 37 jaar. Sy skop haar hoëhakskoene uit en vou haar bene onder haar in. Praat eerder oor daardie aand by die kunstefees op Oudtshoorn . . .

“Nog voor ek op die verhoog gestap het, toe my beeld op die skerms langs die verhoog verskyn, het die 10 000 mense in die gehoor my toegejuig. Ek het my liedjie ‘Voluit’ gesing. Hóé weet ek nie, want ek was so emosioneel.

“Ek het na links gekyk en Joost met ’n glimlag op sy gesig sien staan. Oral om my was net glimlagte. Toe ek klaar gesing het, het die mense weer opgestaan en hande geklap. Daarna het hulle gaan sit, en daar was ‘n doodse stilte. Niemand het uitgestap nie. Ek moes iets sê, maar ek het niks voorberei nie. Ek het net voor die tyd om leiding gebid. Ek het opgekyk na die maan en geweet die regte dinge sal uitkom.

“Presies wat ek alles gesê het, weet ek nou nog nie. Ek weet net ek het namens my en Joost gepraat. Ek het dankie gesê vir almal se ondersteuning, vir hul gebede. Ek het ook vir my Skepper dankie gesê.

“Die mense het weer opgestaan. Daar was trane in hul oë. Ook Joost het gehuil. Dit was vir my ’n geestelike ondervinding. ‘Voluit’ was die aand nie net ’n liedjie nie, maar ’n lewensles.

“Mense het daarna vir my kom sê ek weet nie wat my liedjie vir hulle beteken het nie. Joost het vir my gesê ek het daardie aand sy lewe verander.

“Ek is beskerm, daar op die verhoog. My engele was daar.”

Amor en Joost se huis lyk soos ’n veilige hawe teen die stortvloed van stories wat al weke lank in die media oor Joost verskyn.

Uit talle foto’s teen die gangmuur en in die sitkamer glimlag Amor, Joost en die kinders, Jordan (5) en Kylie (3), stralend gelukkig. Kylie, wat op ’n haar na haar ma lyk, kom staan en lag voor ’n foto van Joost by ’n dolfyn, geneem op sy en Amor se wittebrood.

Jordan lê op die bank voor die TV in die leefkamer langs sy pa se kroegtoonbank. In sierpotte in die gang en op die eetkamertafel gooi feetjieliggies hul vrolike skynsel. Net ’n Kersfeesboompie met kristalballetjies wat nou nog op die koffietafel staan, en ’n klein slee met takbokke op die vloer, verklap presies watter moeilike tyd Amor agter die rug het.

Sy het swaargekry, erken sy.

Ek het die eerste twee weke so baie gehuil dat ek dink ek is nou uitgehuil. Sommige dae wou ek net opkrul en slaap. Ek was so uitgeput dat my hare so droog soos gras was, my vel het knoppies gekry, my stem het soos ’n rasper geklink.

“’n Dokter moes my een keer ’n kalmeerinspuiting kom gee, so ontsteld was ek. Ek het twee keer van ontsteltenis my selfone stukkend gegooi. Ek moes ook, heel aan die begin, ligte slaappille gebruik omdat ek van nagmerries wakker geruk het elke keer wanneer ek ingesluimer het. Ek het daarmee opgehou, ek is nie ’n pil-mens nie. Ek gebruik nou net Vitathion en kry vitamien B-kompleks-inspuitings.

“Ek het meer begin eet, ek het eintlik vet geword. Ek is nou fine en gelukkig.

Sy glo vas in Joost se onskuld.

“Ek vertrou my man. Ek ken hom. Ek weet wie en wat hy is. Hy sal my en die kinders nie deur so ’n hel sit nie. Ek sal hom nooit los nie. Ek is sy vrou. Hy is die pa van my kinders.

“Joost sê: ‘Dis nie ek nie. Hoe kan ek myself nog bewys? As dit waar was, sou ek dit gesê het. Hoekom sou ek daaroor gelieg het?’ Ek glo hom. Hy beleef baie spanning, maar hy sê hulle kan sy liggaam breek, maar nie sy siel nie.”

Amor erken: “Soos enige vrou was daar al dae wat ek gedink het wat gebeur as die waarheid nooit uitkom nie? Wat as . . . ? Maar as ek dít doen, leef ek in die toekoms en ek stuur negatiewe energie uit.

Ek is godsdienstig en spiritueel. Ek lees nou ’n boek van Deepak Chopra, The Seven Spiritual Laws of Success. Hy sê as ’n mens ’n rustigheid in jouself het en in die oomblik lewe, kan jy kreatiewe en positiewe besluite – die régte besluite – neem. Dis wat ek nou probeer doen.”

En wie is mense om te oordeel? vra sy.

Wat het ons persoonlike sake met enigiemand te doen? Selfs al sou Joost skuldig wees, sou dit ’n saak net tussen my en hom wees. Ek weet ons leef in die openbare oog, maar waarom hanteer die media dit só? Dit lyk asof mense wil hê ons moet uitmekaar gaan, ons oordeel, hulle in ons pyn verlustig. Maar ek gaan nie toelaat dat mense ons geluk en ons gesin verwoes nie.”

Die kinders is gelukkig nie geraak nie.

“Ons stel hulle nie hieraan bloot nie.” Aan die begin het Jordan wel gesien sy huil en vir Joost gesê: “Pappa, gaan na Mamma toe.” En dan het Joost vir Amor getroos soos hy dikwels doen.

Amor sê dit maak seer as mense sê sy staan by Joost omdat Victoria Beckham by haar man, David, gestaan het.

“Dis nie waar nie. Ek dink sy is ’n wonderlike en sterk vrou, maar ek het nie ’n rolmodel nie.”

Sy glo die waarheid oor die video sal nog uitkom.

“Die saak word ondersoek, en Joost se onskuld sal bewys word. Ons het gekies om nie in die media daaroor te baklei nie. God is ons advokaat en prokureur. Baie mense sal nog hul koppe in skaamte laat sak.

“Dit lyk asof iemand naby aan ons die media met inligting voer. Sekere feite wat uitkom, is algemene kennis. ’n Mens leer in ’n moeilike tyd wie jou ware vriende is, en ek het my adresboekie verklein. Sommige van my vriendinne het skielik veroordelend geraak en wou weet of ek van Joost gaan skei. My ware vriende sê hulle sal altyd daar wees vir my. Hulle glo, soos ek, dat ek ’n beter mens uit hierdie stryd sal tree.”

Hul ouers ondersteun hulle ook baie.

“My ma, Delyse, is baie sensitief en kry swaar, maar help en ondersteun ons baie. My pa, Dario, bel elke dag. Joost se ma, Mariana, is die toonbeeld van ’n engel. Sy het ’n hart van goud en stuur gereeld vir ons SMS’e: ‘Hou moed, alles sal regkom.’ Joost se pa, Gustav, staan ook by ons.”

Dis nie maklik as jy weet mense kyk na jou en skinder nie.

“Ek weet as ek in die winkels is, of in ’n vliegtuig, en daar by die KKNK, dat ek en Joost en ons verhouding bespreek word. Ek word nie kwaad nie. Inteendeel, ek stuur vir die mense seëninge en liefde. Ek weet só stuur ek goeie energie uit, wat na my toe sal terugkom.

Ek haat ook nie die vrou in die video nie. Ek wil haar nooit ontmoet nie, maar ek wil haar ook nie leed aandoen nie. Ek draai eerder weg as om te baklei.”

Die steentjies in die kruis om haar nek skitter in die lig wat deur die balkondeure val. “Mense bespreek selfs ons geldsake,” vervolg sy. “Ons is nie platsak soos hulle sê nie. Joost werk van die huis af en dis wonderlik. Hy laai die kinders by die kleuterskool af en ek laai hulle op. Hy doen eiendomsontwikkeling en is nog betrokke by SuperSport.

“Al was ons ook platsak, sou dit nie aan my saak gemaak het nie. Vir my is my man en my kinders die belangrikste. Ek en Joost het nou die aand na ons slapende kinders gekyk. ‘Ons het nog soveel om voor dankbaar te wees,’ het ons vir mekaar gesê.

“Jordan is in hierdie tyd met ’n gehoorprobleem gediagnoseer. Dit was ’n geweldige skok, en dit het weer die skinderstories oor die video in perspektief geplaas – dis so kleinlik in vergelyking met dinge wat werklik belangrik is, soos ons gesondheid.

“Ons het vir Jordan gebid, en sy toestand het met 40% verbeter. Ons glo hy sal heeltemal gesond word.” Amor raak aan die armband wat silwer aan haar regterarm blink.

“Nou die dag by die kerk het ’n vreemde vrou dit in my hand gestop. Ek dra dit pal. Ek het dit ook daardie aand op die verhoog gedra. Daarop staan boodskappe van die Here.”

Dis ’n mooi armband waaraan ’n kruisie en ’n vissie hang. Op twee plaatjies is gegraveer: “Soar on wings like eagles, run and not grow weary. Those who hope in the Lord will renew their strength.”

Dis hul geloof wat hulle aan die gang hou, vertel sy. “Ons pastoor, Neville Norden van die Lewende Woord-gemeente in Pretoria, bel ons elke dag. My en Joost se geestelike lewe is nou 100% sterker as tevore. Ons bid saans hardop saam.

“Voorheen het ons ’n gejaagde lewe gehad. Ons het nie as gesin genoeg tyd afgestaan aan stiltetyd nie. Nou gaan sit ons almal langs die rivier hier naby. Ons sit net en kyk na die natuur. Ons is net in die oomblik.

“Ek het al baie keer gebid en die Here gevra hoekom ons só erg getoets moet word. Dan slaan ek die Bybel oop en kry ’n boodskap en voel weer beter. Dis eintlik vir ons ’n kompliment om so getoets te word. Dit wys ons doen iets reg, of beteken iets vir iemand, waarvan die duiwel, of negatiewe energie, nie hou nie.

“Dalk moet ek en Joost hieruit leer dat daar ’n ander doel met ons lewe is. Dalk moet ons positiewe boodskappe uitdra – ek deur my musiek en Joost in toesprake.

Hulle kry elke dag honderde SMS’e en e-posse van mense wat hulle ondersteun, vertel Amor.

“Gemeentes het gebedsgroepe vir ons gestig. Oral is daar mense wat ons moed inpraat. Nou die dag by Steers het die kassiere saam met my kleingeld ’n briefie in my hand gestop: ‘God be with you, don’t be scared’.

“Ons het nooit voorheen godsdienstige boodskappe gekry nie. Dat ons dit nou kry, laat ons ook glo daar is ’n groter rede vir ons swaarkry. Dis asof daar elke dag ’n liggie in my skyn wat al hoe groter en sterker word.”

Amor se nuwe CD word waarskynlik in Junie uitgereik.

 

Nou die dag by Steers het die kassiere ‘n briefie in my hand gestop: ‘God be with you, don’t be scared’.

 

“Dis later as wat ons beplan het, maar ek was soms so ontsteld dat ek nie opnames kon doen nie,” vertel sy.

“Dis ’n positiewe album, met mooi boodskappe. Dit gaan oor menswees, die liefde, herinneringe, positiewe energie, en om te lewe en te lag. Een liedjie, ‘Herinner my’, is vir Joost geskryf. Ek sing daarin dat ek ’n sonneblom omhoog hou, en Hom vra om my geliefde veilig terug te bring na my toe. Ek en Joost reis albei baie, en dis altyd my gebed dat hy veilig sal terugkom.

“Ek was besig om twee meer geestelike liedjies op die CD op te neem toe die video-stories begin het. Dis asof die duiwel nie wou hê ek moes dit doen nie. Toe ek ‘Voluit’ opgeneem het, was daar weer probleme met ’n teisteraar. Wanneer ek dit sing, is daar gereeld tegniese probleme.

“Die Voluit-CD het nou al 30 000 eksemplare verkoop, maar dit gaan nie vir my oor die verkope nie. My doelwit is om gelukkig te wees saam met my kinders en my man, nie om platinum-status te bereik nie.”

In hierdie moeilike tyd het Amor nog iets om voor dankbaar te wees – internasionale erkenning wink. Een van Duitsland se suksesvolste sangeresse en liedjieskrywers, Kristina Bach, het Amor genooi om saam met haar in ’n regstreekse uitsending op TV, voor 7 miljoen mense, die liedjie “Fly Away” te sing. Die liedjie gaan waarskynlik ook op Amor se nuwe CD verskyn. Kristina het ook die melodie van “Voluit” geskryf.

“Ek beskou dit as ’n groot eer,” sê Amor. “Daar is ook sprake dat ons ’n album saam gaan doen. Dis vir my ’n bewys van die mag van God. Uit die negatiewe kom soveel goeie dinge.”

Haar selfoon lui, die soveelste keer die afgelope uur.

“Hallo, my angel,” sê sy liefderik. Dis Joost, hy bel oor hul naweekplanne.

Sy groet: “I love you.”

* Vir besprekings, kontak Amor se agent, Jenny Valsecchi, by 084 700 1399.