Ons praat met

Rolanda Marais: “Ek sal nooit ’n ander man afvry”

As sy instap, hoor jy roomysklokkies lui. Dis die soort beskrywing wat Rolanda Marais uitlok. Maar in die gewilde Binnelanders op kykNET (en M-Net) is sy die feeks wat haar hande nie van ’n getroude man kan afhou nie. En TV-kykers vergewe gewoonlik nie sulke dinge nie. Met Rolanda is dit anders. Sy bly ’n geliefde karakter.

“Stephanie is onskuldig en naïef,” verdedig Rolanda haar. En nee, in die werklike lewe sal sy nóóit ’n ander vrou se man afvry nie. Sy verstaan hoekom kykers so kwaad geword het toe Stephanie dr. Zieg Combrink (Gys de Villiers) van sy vrou vervreem het. “Sy besef nie altyd wat sy doen nie. Dis dalk hoekom mense steeds van haar hou, veral kinders.”

Die een wat haar met ’n roomysklokkie vergelyk, is die veteraan Jana Cilliers, saam met wie sy al gewerk het. Jana beskryf haar as sprankelend en opreg. “Vir ’n soettand soos die beste soetgoed ná ete. As aktrise is sy ongetwyfeld uitsonderlik talentvol. Haar besonder nugter verstand sal haar – soos ’n Charlize Theron – groot sukses in die bedryf kan bring.”

Dawid Minnaar het haar selfs al “die beste aktrise van haar generasie” genoem. “Dit laat my goed voel as mense dit van my dink,” sê Rolanda.

As iemand wat self stylvol aantrek, is Jana veral ook beïndruk deur Rolanda se heerlike flair vir klere. “Haar kleurrykheid lig elke man, vrou en kind se gemoed.” Rolanda verduidelik sy kry haar ietwat vreemde kleresmaak (ook net sy wat pers sykouse met ’n groen handsak kan laat werk) by haar pa, wat self ’n eksentrieke streep het, predikant of nie. “Ek hou van mooi aantrek en is glad nie ’n modeslaaf nie. Ek hou van something old, something new, something borrowed, something blue. Ietsie goedkoops, ietsie duurs. Alles hoef nie Gucci van kop tot tone te wees nie. Daar is niks ergers as dit nie. Dis soos iemand wat te veel parfuum dra.”

Lille van der Walt, SARIE se moderedakteur, wat vroeër vanjaar ’n mode-fotosessie met Rolanda gedoen het, sê: “Party mense het lae en lae ingewikkeldheid wat dit moeilik maak om hul persoonlikheid raak te sien. Maar Rolanda het lae en lae interessantheid. Sy straal natuurlike glans uit.”

Haar stralende, outentieke ou-Hollywood-voorkoms is juis een van die redes hoekom sy mense aan ’n jong Isabella Rossellini herinner. Groot, groen oë, vol lippe en ’n kort haarstyl met ’n 50’s-gevoel. Sy self voel persoonlikheid en energie speel ’n belangrike rol in skoonheid. “Ek kyk na my gesig in die spieël en dink nie dis vreeslik waffers nie. Ek sou eerder dink mense is aangetrokke tot die lewe ágter my oë.”

 

Suid-Afrikaners se sin vir humor hou my positief

 

As aktrise is sy vreesloos, kreatief en talentvol. Teatergangers het Rolanda ook op die verhoog gesien – met net haar onderklere aan. Hoe rym dit met haar “rein” beeld? (Sy is immers die predikantskind van Wellington!)

“In Romeo en Julia het ek in my bra en panty rondgehardloop, kan jy dit glo?” lag sy. “Dit was moeilik, maar ek moes dit doen. Dit was belangrik vir die storie.” Die bekroonde regisseur Marthinus Basson, saam met wie Rolanda al baie gewerk het, sê sy is bereid om enigiets te doen. “Býna enigiets,” keer sy. By kaal op die verhoog trek sy versigtig ’n streep. “Néé! Tensy dit baie goed verlig óf donker is. Ek weet darem nie of ek só ver sal gaan nie. Ek probeer altyd my instinkte volg, om nuwe dinge te probeer. Maar ek sal nooit rekspring nie!” voeg sy vinnig by. “Ek’s bang ek kry ’n hartaanval.”

En, terloops, sy’s nou al goed moeg vir die gedurige verwysing na haar as predikantsdogter en die vrae oor wat haar ouers van haar toneelspel sê. Dis so holrug gery. Sy kan enige tyd met haar pa, Fanie, oor geloofskwessies praat. “Soms,” sê sy, “verwag mense jy moet op ’n sekere manier optree omdat jy ’n dominee se dogter is. Vandat ek in Binnelanders is, praat mense ewe skielik oor my pa wat ’n dominee is. Hy doen ook maar net ’n werk.” Jy bespeur irritasie. Haar sprankelende aard kan ook plek maak vir ’n frons op daardie gesig wat maklik lag. “My ouers het my grootgemaak om my eie besluite te neem en hulle vertrou my. Ek praat gereeld met hulle oor my werk en die rolle wat ek kies.”

Op 28 het sy reeds verskeie TV-reekse soos Zero Tolerance, Charlie Jade, 7de Laan en natuurlik Binnelanders op haar CV. Sy het ook al lekker teaterrolle opgeraap – én in ’n paar internasionale advertensies gespeel. Waaroor sy nie té opgewonde is nie. “Dis embarrassing,” sê sy. “Ek wil eintlik nie daaroor praat nie. Ek het advertensies vir produkte soos graanvlokkies en bier gedoen.” Die geld was goed, maar dis mos nie teater nie! “Met teater word jou waardes uitgedaag. Jy kry die geleentheid om byvoorbeeld onderwerpe soos gay-wees te ondersoek. Jy kan kyk hoe ver jy bereid is om te gaan.” En Binnelanders is regte werk, sê sy. “As aktrise leer ek baie en kan ek saam met ongelooflike akteurs en regisseurs werk.”

Veteraan-akteurs soos Dawid Minnaar en Antoinette Kellerman is haar rolmodelle. “Ek het baie by hulle geleer. Klein goedjies. Soos om gefokus te wees en soms ook lekker laf te wees. Hulle het vertroue in my gehad. Hulle het respek vir hul mede-akteurs, maak nie saak hoe jonk jy is nie.” Marthinus Basson is ’n ongelooflike mentor, sê sy. “Hy laat my voel enigiets is moontlik. Hy weet hoe om die beste uit my te kry.” Marthinus vertel hy het Rolanda as dramastudent aan die Universiteit van Kaapstad begin dophou. Hy het haar uitsonderlike talent raakgesien. Sy het as student in die TV-reeks Lied van die Lappop gespeel. Haar eerste teaterrol ná sy graad gekry het in Elke Duim ’n Koning het aan haar die ENB Vita-prys vir beste nuweling besorg.

 

Alles hoef nie Gucci van kop tot tone te wees nie

 

“Sy’s ongelooflik entoesiasties en professioneel,” sê Marthinus. “En kreatief. Sy’s só positief dat dit soms vir haar moeilik is om na haar donker dele te gaan, maar sy’s bereid om dit te ondersoek.” “Ek’s bang vir wat in die donker is,” sê Rolanda. “Ek ondersoek wel my donker dele, maar dit ontstel my nogal. Dit maak my bewus van my destruktiewe kant. Ek dink almal het ’n destruktiewe kant. Myne is dat ek baie krities op myself kan wees – in so ’n mate dat ek nie meer kan aangaan nie. Ek kan myself in ’n groot gat kry. Ek probeer wegbly van negatiwiteit.”

Sy sing kliphard saam met Maria Callas as sy bestuur om haar stem te oefen, hou van argitektuur en mooi geboue en is gek na Pedro Almodóvar se flieks. “Op skool was sy eerder vriende met die ‘kreatiewe’ mense as die sportouens,” sê haar pa. “Sy was ’n voorbeeldige kind. Sy wou altyd meer van die wêreld weet en het haar oopgestel vir nuwe ervaringe.” “Sy’s ’n impulsiewe koper,” lag haar ma, Charlotte. “Op universiteit sou sy ’n duur ding koop, dan het sy net tamaties in haar yskas.” Dis haar ouers by wie sy sal gaan aanklop as die wêreld druk.

Die moord op haar vriend, die akteur Brett Goldin – sy noem hom Brettie – vroeër vanjaar het haar geruk. Hulle het saam gestudeer. “Sy dood was vir my onwerklik. Dis nog steeds. Die geweld in die land maak my kwaad, ja. Ek haat geweld met ’n passie, maar ek glo die wiel draai en dat geregtigheid sal geskied. Dit help nie om geweld met geweld te probeer keer nie. Suid-Afrikaners se sin vir humor hou my positief. Ons het ’n wonderlike sin vir humor.”

Aan die liefdesfront is haar hart al gebreek, flenters: “Jy kan jouself nie van seerkry weerhou nie, anders verhinder jy jouself om ten volle te vóél. En jy weerhou jouself van potensieel ongelooflike vriendskappe en verhoudings.” Soos nou, met haar “fantastiese kêrel”, Adam Davies, ’n Zimbabwiër. “Ek wou nie by hom betrokke raak nie, want ek het pas met ’n kêrel uitgemaak en ek was baie hartseer. Maar Adam het in my hart gekruip. Ek is vreeslik gelukkig. Hy is twee jaar jonger as ek, maar hy’s ’n ou siel,” blom sy.

Wat’s daar nog vir haar te doen? “Ek het nege jaar ballet gedoen en wil graag weer begin dans. Veral tango. Dan wil ek ook leer om klere te maak. My ma het vir my ’n omkap- en naaimasjien gegee. Nou moet ek net begin. Ek sal ook vir so drie jaar in Europa wil gaan bly. Dalk in ’n bakkery in Amsterdam werk.”

Sy skop graag daardie Afrikaanse boksie oop waarin mense so maklik gesit word. “Afrikaans gee my identiteit en geskiedenis. Noudat ek in Binnelanders speel, beweeg ek terug na my wortels toe. Ek lees weer Afrikaanse literatuur en ek besef hoe ryk, poëties en uniek die taal is.” Sy droom van groot Afrikaanse rolle. “As daar ooit ’n TV-reeks of rolprent van Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins gemaak word, wil ek daarin speel. Of in Marlene van Niekerk se Triomf. Maar ek dink nie daar is ’n rol vir my nie. Dalk as ek oud en vet is.”  Hollywood is nie ’n moontlikheid nie, sê Rolanda prontuit, want sy hou nie van die Amerikaners nie. (Charlize, jou troontjie is veilig.)

Einde September kan jy Rolanda op Aardklop in die produksies Hedda Gabler en Die twaalfuurwals, ’n drama deur Chris Barnard onder regie van Katinka Heyns, sien. “Dis erg, maar ek hou daarvan om hard te werk. Hoe meer ek het om te doen, hoe meer fokus ek en hoe beter doen ek dit.”