Ons praat met

Eksklusief! Janie se glanslewe en die verskriklike seer + VIDEO

Janie du Plessis. Die meisie met die spykerhare wat in die 80’s Teletien op TV aangebied en een van SA se bekendste en gewildste celebs geword het. Die jong vrou met die sagter bob wat later in ‘n rooi rok met die Italiaanse multimiljoenêr Massimo Beltrami getrou en in weelde saam met hom in Portugal gaan woon het.

Deur die jare het ons Janie se Europese glanslewe in tydskrifte gevolg – die huise, die jagtogte, die vakansies vol adrenalien en opwinding, twee seuntjies wat haar en Massimo se lewe vervolmaak het.

Toe kry Janie borskanker. Nie lank daarna nie was sy terug in Suid-Afrika met haar kinders – vir goed. Daar was al geruime tyd probleme tussen haar en Massimo, het sy verduidelik. Kanker het haar aan haar kraag kom ruk en haar finaal laat besluit hulle kan nie so aangaan nie. Sy het met niks nie uit die huwelik gestap en moet nou van vooraf begin, ‘n enkelma wat finansieel vir haar seuns moet sorg.

Maar Janie is ‘n survivor, het ons lankal agtergekom. In die elf jaar sedert sy terug is in SA het sy ‘n dinamiese sakevrou in die eiendomswêreld geword, ‘n motiveringspreker en ‘n ambassadeur vir borskanker.

Immergewild, selfs jare nadat sy nie meer in die kollig was nie. Ondeund-mooi, sportief, suksesvol. Bevoorreg.

Dis net: Ons het nie alles van Janie se lewe geweet nie. Nie besef hoe hard sy soms in haar siel moes veg om te oorleef nie. Ons het nie ‘n benul gehad van die uiterstes waartoe sy in haar huwelik gegaan het om dit te probeer red nie.

In haar biografie, wat pas verskyn het, gee sy en die skrywer, die gesoute joernalis Martie Retief Meiring, ‘n glimps in ‘n lewe van “verskriklikheid én wonderlikheid”. (Lees ‘n eksklusiewe uittreksel uit Janie se boek)

Die sprokieselemente is daar – maar ook Massimo se kokaïenverslawing wat hul gesinslewe verwoes het. Soos die boek dit beskryf: “Die huwelik met sy kruipende donker kant het ‘n vreemd-makabere loop begin neem.” Janie het haarself gedwonge gevoel om byna ondenkbare ooreenkomste met Massimo aan te gaan.

Toe dit nie wou help nie, het sy uiteindelik besef as sy nie nou uit hierdie verhouding stap nie, gaan daar net ‘n hopie van haar oorbly, vertel sy in Kaapstad se Mount Nelson-hotel waar ons

Lees Janie se blog

Janie blog vir sarie.com

gesels, om die draai van waar sy deesdae in die stadskomwoon. Sy is soos altyd onderbeklemtoond-elegant in haar langbroek, liggeel hemp, grysblou serpie, JP Tod’s-skoene en La Coste-handsak. Sy ken steeds die kuns om haarself goed in woorde uit te druk.

“Jare lank al vra mense my om ‘n boek te skryf en ek het nog altyd nee gesê, want daar is so baie dinge in my lewe wat privaat is. Toe nader Human&Rousseau my weer vir ‘n boek oor kanker. My voorwaarde was dat Martie dit skryf, want ek het respek vir haar as iemand wat die lewe ken. Hoe meer ons gepraat het, hoe meer het sy besef kanker het ‘n voor en ‘n ná en as ek oor alles eerlik wil wees, moet die boek ‘n biografie word,” vertel sy.

“Die moeilikste deel was om te praat oor wat binne die intimiteit van my huwelik gebeur het, want ek het dit nie net van die wêreld weggehou nie maar veral ook my kinders daarteen beskerm. Die dele in die boek is maar ‘n katspoegie van wat gebeur het.”

Massimo se kokaïengebruik was eers sporadies, maar dit het later in hul huwelik toegeneem en hy het seksueel pervers geraak. Uit desperaatheid om haar gesin te red het Janie uiteindelik ‘n ooreenkoms met hom aangegaan dat sy een keer in drie maande aan sy fantasieë en sy “hobby” sou deelneem, op voorwaarde dat hy by die huis bly en nie in die strate en nagklubs geselskap gaan soek nie. Sy het ook ingestem om dan saam met hom kokaïen te gebruik. Later kon sy haarself nie meer so ver kry om dié ooreenkoms vol te hou nie, veral nadat sy kanker gekry het.

Is sy nie bang mense gaan haar veroordeel oor haar bekentenis nie?

“Ek het nie ‘n wilde lewe gehad voor my troue nie,” sê sy beslis. “Alles wat gebeur het, was in die binnekamer van my huwelik en huis. Ek het gevoel ek bly só getrou aan my man. Ek sou eerder dat hy met my onderhandel as dat hy my uitsluit – dis hoe lief ek hom gehad het.” (Lees ook die boekuittreksel)

Massimo is in September 2007 in ‘n kroeg dood nadat hy aan ‘n toebroodjie verstik het. Later sou Janie hoor hy het bankrot gesterf. Benewens sy sakeryk was hy ook ‘n opgeleide balletdanser, ‘n restourasie-argitek en ‘n modeontwerper. Janie het hom intens liefgehad. In die boek vertel sy hulle het reeds vroeg ná hul eerste ontmoeting ‘n verbintenis gehad en dit was nie net oor hul gedeelde liefde vir jag en visvang nie.

“Hy was byna hipnoties kompleks vir my.” Dit het baie van haar gevat om sy dood en wat tussen hulle gebeur het te verwerk. Ook sy disrespek en ondankbaarheid teenoor haar in die jare nadat hulle uitmekaar is.

“Ek kon lank nie dié wreedheid verwerk nie,maar ek is weer op ‘n goeie plek, want ek glo nogal in vergewe en ek glo deur lief te wees oorkom jy baie uitdagings. Dis waarop ek gefokus het met Massimo, nie op die kwaad en die onreg nie,” vertel sy. In die jare dat sy terug is in SA het sy agtergekom daar is baie vroue wat soortgelyke situasies in hul huwelik beleef.

Dis ook hoekom ek nou daaroor praat. Dis die sielkundige aftakeling wat jou op ‘n verkeerde pad kan sit. As jy boonop soos ek geïsoleerd oorsee was, is dit nie so moeilik om te verstaan dat jy in ‘n situasie kan komwaar jy byna jou persoonlikheid verloor nie.

“Gelukkig kon ek met vriende en my ouers se ondersteuning deurdruk. Ek weet hoe dit voel om heel onder in die put te wees en daaruit te kom.” Massimo se laaste jare was vol selfverwyt en die boek vertel hoe ‘n pakkie kort voor sy dood by Janie aangekom het met 24 briewe wat hy oor ‘n tydperk van drie maande op restaurante se tafelpapier geskryf het. Sommige is gerig aan Piccirilla, Soldatino en Le Petit – sy troetelname vir haar, en hul seuns, Misha en Benito. Onder meer skryf hy: “You know I am 16 000 years old. This brings a lot of experience and lots of duty. I am at the end of the charge.

Veral Benito, haar jongste wat nou in graad tien is, was lank vir haar kwaad omdat sy hom weggeneem het van sy pa, erken Janie.

“Die skok was enorm. Hulle het gesukkel met die tale. Ons het niks gehad nie en ook gesukkel ná die weelde.” Misha (19) woon nou in sy gap-jaar in Janie se vriend, Rian du Plessis, se huis in Londen.

“Hy wil volgende jaar op Stellenbosch kom studeer. Benito is my eksentrieke kind. Hy wil ‘n kursus= in animasie-grafika gaan volg. Hulle is albei sterk individue.”

Janie het Rian, ‘n sakeman wat al elf jaar tussen Londen en Suid-Afrika werk, verlede jaar ontmoet. “Hy is ‘n private mens van min woorde,maar dit gaan baie goed tussen ons. “Rian het balans in haar lewe gebring. “Hy het my geleer om dinge mooi te evalueer en te oorweeg.”

Daar is steeds ‘n Europeër iewers in Janie, en Rian se huis in Soto Grande in Spanje waarheen hulle soms gaan, is net 200 km van waar sy en Massimo gebly het.

“Alles ruik dieselfde, ek verstaan die taal en die kos. Ek het Europa gemis, want ondanks my huwelik en die uitdagings was dit lekker om daar te woon.”

Was dit nie vir haar vriendskap met die beroemde gholfspeler Sally Little waaroor sy ook in die boek praat nie, sou sy nie nou in ‘n verhouding met iemand soos Rian kon wees nie, sê Janie. Sy het Sally in 2006 ontmoet terwyl hulle saam aan die Kingswood-gholfoord-ontwikkeling by George gewerk het. Sally het ook ‘n ruk by Janie gewoon en dit het mense laat wonder of Janie van seksuele oriëntasie verander het.

My vriendskap met Sally is privaat vir ons albei. Sy is ‘n fenomenale mens en ek is ongelooflik lief vir haar. Ons het wonderlike tye saam gehad. Wat ek daaruit geleer het, is hoe vroue mekaar in moeilike tye kan ondersteun. [Dis ook in dié tyd dat Massimo en drie van Janie se nabye vriende oorlede is.]

“Ek en my seuns praat baie daaroor. Dis nie asof ek nou tot vroue aangetrokke is nie. Ek dink net Sally het ‘n groot aspek van my hart oopgevlek en daardeur het ek ongelooflike deernis herontdek. Ek was afgestomp vir emosionele kontak. Ek het nooit gedink ek sou weer wou lief wees of my ruimte wou deel nie.My kop het vir my gesê duidelik kan ek nie die mengeldrankie van die liefde regkry nie. [Veral ná Massimo en nadat haar vyf jaar lange verhouding met die Kaapse advokaat Marius Scholtz op die rotse geloop het.]

“Sally het vir my ‘n bad ingetap. Sy het Benito se kop gevryf as hy hartseer was. Kortom: I needed a wife, want vir soveel jare moes ek soos ‘n man werk om ‘n lewe vir my en die kinders te skep. Ek het iemand nodig gehad wat weer kerse brand en musiek speel in die huis en die hond vat om te gaan stap. Ek is dankbaar sy het oor my pad gekom en my hart en ons gesin gesond gemaak.

“Ek het ook vir my kinders gesê ek sal hulle nooit oordeel vir wie hulle lief is of hoe hulle liefhet nie. Liefde is die een medisyne wat alles in die lewe regmaak. Ek lewe deur liefde.” Janie het pas vir die derde keer aan die Journey of Hope-bewusmakingsveldtog deelgeneem (kyk die video) en saam met ‘n groep vroue wat borskanker oorwin het op Harley Davidson-motorfietse deur die land gery. Sy spot oor haar lyf wat “gesnipper en gesny is” as gevolg van die kanker.

“Die kruispad van my en my kinders se lewe is uitgeëts op my liggaam. Tog voel ek ongelooflik bevoorreg, want ek weet daar is byna niks in hierdie lewe wat ek nié beleef het nie. Dit gee my groot begrip vir hoe ander mense voel.”

Toenemend word sy as spreker genooi om nie net oor kanker te praat nie, maar oor die lewe self.

“Dis dalk waarvan ek die meeste weet.” Sy pluk ook die vrugte van haar harde werk: Sy en haar span het pas twee internasionale toekennings vir Kingswood gekry as beste gholfontwikkeling en beste eiendomsontwikkeling in SA.
“Ek doen die konseptualisering van ontwikkelings – hoe dit moet lyk en bemark moet word, die tema, gevoel en leefstyl-trends,” verduidelik Janie.

Ondanks alles het die essensiële Janie deur die jare dieselfde gebly, glo sy.

“Net die naïwiteit is weg.” Dan kom die waagmoed en menslikheid deur wat maak dat sy mense ná twee dekades steeds fassineer. “My lewe bly vol uitdagings en soms raak ek bang.Ek baklei en probeer my bes totdat ek niks meer kan doen nie.Dan los ek. En op daardie oomblik is ek glad nie meer bang nie . . .”

  • Lorraine

    Janie, ek het jou as jongmens bewonder vir die lewenslus wat uit jou gestraal het- ek wou soos jy wees, al was ek klaar met skool toe jy hoerskool toe is- maar vyf jaar is min, en vandag bewonder ek jou steeds vir die voorbeeld wat jy stel.
    Ek self het soms gewonder wanneer die lewe my dan gaan ophou indoen, maar tog staan ek nou verwonderd oor hoeveel innerlike Krag mens kry in die moeilikste tye van lewe en dood, siekte en gesondheid. Ek verstaan die Krag in jou en omdat ek baie naby aan jou bly hier in die mooiste Kaap, wens ek dat ek ‘n koppie tee saam met jou kon drink- soos in die-reach-for a-dream-ding. Jy is ‘n inspirasie! En steeds so pragtig!

  • Mev Kobie Knoetze

    Ek wil graag weet of ek dalk ‘n video of CD kan aankoop van ‘n program wat Janie du Plessis in 1985 op Teletien laat uitsaai het. Die groep was Data 7 en dit was opgevoer deur die Standerd 9 klas van Vorentoe Hoërskool. Dit was ‘n sing en dans sessie by name "Meneer die Rekenaar". My dogter en 6 van haar skoolmaats het daarin opgetree en ek sou baie graag ‘n CD of video daarvan wil aankoop as dit beskikbaar is iewers in die argiewe. Kan iemand my dalk help asseblief.