sarie_web_simon_rademan_international_designer_collection_photo_lisa_hnatowich_model_maden_g3_2_
Ons praat met

EKSKLUSIEF: Dra die Simon Rademan-rok wat om die wêreld gaan toer

Die Springbokke mag uit die Wêreldbeker-eindstryd wees, maar ontwerper Simon Rademan het darem met ’n skepskop deur die pale geslaag.

Hierdie prag rok van Simon gaan op 18 en 19 Oktober 2011 by die The Westfield Style Pasifika modevertoning by die Vector Arena in Auckland, Nieu-Seeland vertoon word. Ontwerpers van die 19 deelnemende lande is genooi om deel te neem.

Simon het ’n paar benoude dae beleef toe die rok tydens die koerier-proses verlore geraak het, maar dis gelukkig weer opgespoor. Die rok het ’n protea-tema en vyf vroue het sowat 1000 uur daaraan gewerk.

Die kollig op bekendes laat ons dink ons weet alles van hulle. Maar elkeen koester verrassings. Mode-ontwerper Simon Rademan onthul hy is op pad Wêreldbeker toe!

Hy trek van ons bekendste glanspersoonlikhede aan en sy lys van bes- en swaksgeklede Suid-Afrikaners laat die glanswêreld elke jaar gons. Tog streef modeontwerper Simon Rademan sy lewe lank daarna om homself te bewys . . .

Sy ouers was albei doof en hy het arm grootgeword in die Ceres-omgewing in die Kaap.

“Ek het nog altyd geglo ek moet harder werk om uit te styg. Dit dryf my, want ek sal nooit daardie gevoel van armoede vergeet nie,” sê hy.

Nou, ná ’n loopbaan van 22 jaar, is daar ’n groot eer wat alles die moeite werd maak: Hy is deur die
Nieu-Seelandse regering genooi om as deel van die feesvieringe om die Wêreldbeker-rugbytoernooi vanjaar ’n skepping te maak wat Suid-Afrika by 12 modevertonings in verskeie lande sal verteenwoordig.

En SARIE wys vir jou die eerste glimps daarvan !

Die rok wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig Niko Grobler, Bongani, Sandra en Martha by die finale produk

WEES DIE MODEL:

Wil jy die model wees wat in dié skepping afgeneem word? Simon is opsoek na ‘n lang meisie tussen die ouderdom van 15 en 45 met die volgende mates: 84 (borsmaat), 64 (middelmaat), 93 (heupmaat)

Stuur jou Z-kaart of duidelike foto’s van jouself na style@simonrademan.co.za voor Maandag 15 Augustus 2011.

Die vertoning sal Sondag 30 Oktober op SABC1 om 22h30 uitgesaai word

“Ek het nooit kon droom ek sou eendag ’n loopplank deel met ontwerpers soos Oscar de la Renta
van Amerika, die Wallieser Elliott J. Frieze en John Rocha van Ierland nie. Ook Yohji Yamamoto van Japan,” vertel Simon in sy ateljee in Nieuw Muckleneuk, Pretoria.

Voor hom is ’n skinkbord met krale, sketse, blomme . . . Sy inspirasie vir die gesprek oor sy spesiale ontwerp. Net een ontwerper uit elk van die twintig deelnemende lande aan die Wêreldbeker-toernooi is gekies om ’n skepping te maak vir dié Global Designers of Fashion Collection, wat van Augustus as ’n simbool van wêreld-eenheid gaan toer, onder meer na Australië en Japan. Die program sal later bekend gemaak word, maar die vertoning sal ongelukkig nie ’n draai in SA maak nie.

“Die idee is dat ontwerpers aan die wêreld moet wys watter ontwerptalent hul land het. Die uitrustings moet iets van die kultuur en leefstyl van die land toon,” sê Simon.

Die hoogtepunt is natuurlik die vertoning by die Wêreldbeker-eindstryd op 23 Oktober in Auckland, Nieu-Seeland. “Dit sal dubbel spesiaal wees as die Springbokke weer die trofee kan huis toe bring!”meen Simon.

Die premier van Nieu-Seeland, John Key, het hom persoonlik genooi om deel te neem. “Ek het eers gedink iemand bak my ’n poets, totdat ek die uitnodiging per handafgelewerde pos ontvang het. Eers toe ek die briefhoof van die premier sien, het ek begin dink dis dalk waar. Maar ek het steeds die inligting op verskeie plekke op die internet nagegaan!”

Die dokumentasie wat saamgestuur is, beskryf hom as ’n top-ontwerper. “Ek dink nie so aan myself nie. Ek neem nie maklik aan internasionale modevertonings deel nie en wil net op my eie terrein sukses behaal. Ek is sterk patrioties en ken my mark. Ek maak haute couture-klere. Glansrokke en trourokke: Dít is my veld.

“Hierdie voel soos ’n beloning vir baie jare se harde werk. Ek het sommer nuwe energie om nog lank aan te hou ontwerp.” Vir die modetoer wil hy uiteraard almal se asem wegslaan met sy ontwerp wat deur die koningprotea geïnspireer is. Hy het na verskeie nasionale simbole, waaronder voëls, diere, blomme en vrugte soos die maroela gekyk, omdat hy lief is vir die natuur. Maar vir hom beeld die protea se skoonheid en die vele fasette van die blom ons land en kulture die beste uit.

Hy het doelbewus besluit om nié ’n tipiese Afrika-tema soos die Groot Vyf te gebruik nie. “Ek is genooi as verteenwoordiger van Suid-Afrika en nie van Afrika nie. Suid-Afrika bied meer as wild en die tradisionele Afrika-uitrustings. Ek wou ook nie ’n rok maak wat al die simbole en kleure van die landsvlag probeer uitbeeld nie.

“Dit moet ’n show stopper wees wat stylvol is. Daar is baie druk op ’n mens, want jy het net één rok en één kans om jou werk te wys.”

Simon gebruik shweshwe (tradisionele Afrika-sis-materiaal) vir die basiese rok gekombineer met aarbeirooi Nieu-Seelandse wol, en dit het ’n pienkrooi voering wat deurskyn. “Ná vele sketse en navorsing het ek ’n ontwerp wat my opgewonde maak.

Ek het foto’s en sketse van proteas bestudeer en verskeie nagemaakte proteas van lap, draad en kralewerk gekoop en van alle kante bekyk vir inspirasie. Ek het proteas met krale geborduur en geëksperimenteer met blaarontwerpe en teksture. Vier vroue werk nou dae aaneen aan die afwerking.

My ontwerpe is bekend vir kralewerk, en SA se Ndebele-kralewerk waarin die kraletjies soos baksteentjies ingeryg word, is baie gesog. Daarom gaan ek baie daarvan gebruik.” Om hom met die ontwerp van die rok se panele te help het hy telkens ’n koningprotea blaartjie vir blaartjie uitmekaar gehaal.

“Ek herontwerp as ’t ware die protea, maar ’n mens sal steeds kan sien dat dit die inspirasie agter die skepping is.” Die rok het vyf bane met ’n verborge strook tussenin en die uitrusting skep ’n rimpeleffek as dit oor die loopplank beweeg. Dit begin by ’n klein kring materiaal en klok uit tot ’n groter sirkel – “nes ’n klippie wat jy in die water gooi.”

Die rimpeleffek is simbolies van wat in Suid-Afrika aan die gebeur is, meen Simon. “Ons beweeg as ’n nasie na groter dinge. Baie van my vriende het geëmigreer, maar ek het besluit om te bly. Ek het my klere al in baie lande vertoon, maar Suid-Afrika bly my land.”

Die onderkant van die rok klok na buite uit en wanneer elke val oopval, sien jy ’n reënboogeffek, ook simbolies van ons verskillende bevolkingsgroepe.

Hoe lyk Simon se loopbaan vorentoe? Hy het al honderde modevertonings gedoen, maar verkies die couture-roete waar ’n kliënt na sy ateljee kom en hy volgens haar mate ’n unieke, eenmalige skepping kan maak.

“Ek geniet die vermaak-element van modevertonings, maar ’n mens kan nie my klere van die loopplank of van die rak af koop nie. Ek het ’n spesifieke mark met ’n spesifieke aanvraag.” Dit is steeds vir hom’n raaisel hoe die Nieu-Seelandse regering op hom besluit het.

“Wow! Dit het my drie weke geneem voor ek geglo het wat regtig met my gebeur het. Daar is so baie ontwerpers waaruit hulle kon kies, so baie vir wie ek respek het.”

Simon gaan net die finale vertoning by die Wêreldbeker-eindstryd in Nieu-Seeland bywoon. Daarna gaan sy skepping saam met die ander in die Nieu-Seelandse Nasionale Museum vertoon word as simbool van internasionale eenheid. Waar almal sal kan sien watter rykdom aan talent Suid-Afrika het.

En hopelik sal dit op die rugbyveld ook wys!

Volg SARIE op Twitter en Facebook

  • Hettie Drake

    Wow!!!! Dis STUNNING!!!! Ek mal daaroor en dink voorwaar dit gaan ‘n wenner wees!!!

  • Stephanie van den Berg

    Hoe wens ek nou ek is nog 21 jaar oud om in die rok te pas! Pragtige kleur en mooi ontwerp.

  • Elda Liebenberg

    Die rokke is absoluut pragtig! Ons is trots op jou! (Ek gaan my dogter daarvan vertel, sy is 1,94m lank,15 jaar oud en in graad tien.) Voorspoed en Sterkte!

  • Annatjie Heidi Tannie Jo

    Uiteindelik kry ons ook ‘n kykie. Dankie dat ons eerste kan wees Sarie en Simon. Ek en my familie wens vir jou voorspoed en bly maak ons trots. Ons is al die 3e generasie wat jou loopbaan volg.

  • Dina jansen

    dis so mooi vroulik ek hou daar van

  • Elsabe

    Baie geluk Simon, dis ‘n baie groot eer om jou land te verteenwoordig.

  • Toitjie Muller

    Dit is fantasties, Simon. Sal graag WEER eendag een van jou wonderlike skeppings wil dra. My trourok is nou nog asemrowend! Net die heel beste word vir jou toegewens!

  • Nelly

    Dis mooi sommer baie mooi en stylvol. Jammer ons ‘shorties’ val uit die bus wanneer daar gesoek word na iemand spesiaal.

    Dit is so ‘n groot voorreg om een vou jou skeppings te kan dra dink ek. Jy het my leer hoed maak ek toe het al gedink dis ‘n groot eer. (terloops dit het my op die wenpad gesit.)

    Voorspoed en sterkte.