tourist
Ons praat met

Eksklusief: Die twee kante van Johnny Depp

DIE FAMILIE

Johnny Depp en sy vrou, Vanessa Paradis, is al 13 jaar saam en hulle het twee kinders, Lily-Rose (12) en John Christopher Jack (9).

Waarom is jy so lief vir jou vrou?

Sy is altyd daar vir my, maak nie saak wat nie. Ek sal altyd dankbaar wees vir haar in my lewe, sy het my lewe gered. Ek was nie op die regte pad toe ek haar ontmoet het nie, ek het nie geweet wie ek was nie, en ek was besig met mal, simpel dinge. Maar die oomblik toe ek haar ontmoet, het my lewe totaal omgekeer. Ek het besef sy is die persoon met wie ek my lewe wil deel, al moet ek my lewe lank wag daarvoor. Ek was binne oomblikke ’n nuwe mens.

Het jy genoeg tyd vir jou familie, aangesien jy een van Hollywood se besigste akteurs is?
Ja, ek en Vanessa is ’n baie goeie span. Dit is vir ons belangrik dat daar ten alle tye minstens een van ons by die kinders is. Ons glo dit is baie belangrik vir hulle opvoeding dat hulle nie voor ’n spul oppassers grootword nie. Dit is soms nodig vir ’n oppasser, maar ons hou dit so min as moontlik.

As watter soort pa sal jy jouself beskryf?
Ek is baie lief vir my kinders en ek onderhou hulle so goed ek kan, maar ek maak ook foute. Ek is nie Superman nie. Ek is soms streng, maar normaalweg is ek net ’n gewone pa. Ek sal hulle verbied om iets te doen, maar ek verduidelik altyd hoekom. Ek wil hulle die verskil tussen reg en verkeerd van jongs af leer en hoekom dit so is. Ek glo dissipline is onontbeerlik.

Hoe reageer jou kinders op die feit dat jy so bekend is?
Ek praat baie met hulle daaroor. Hulle moet daarmee grootword, hulle ken nie ’n ander wêreld nie, dit is deel van hulle lewe. So, hulle verstaan dit, dit pla hulle nie in hierdie stadium nie, maar bygesê, ons lewe baie privaat, so hulle het nie baie druk van die media af nie. Ek is baie bly daaroor!

Jy het altyd iets goeds oor jou vrou in die media te sê…
Ja, sy wys vir my wat maak saak in die lewe, en die heel belangrikste – liefde. Geen partytjie of dwelm kan dit doen nie, dit bly net vir ’n oomblik dan is dit weg, maar sy en ons liefde bly vir ewig. Ek weet nie wat ek sonder haar sou doen nie. Ek vertrou haar met my lewe.

Speel jy regtig pop saam met jou dogter?
Ja, ek het dit al baie gedoen, en ek verander my stem om meer soos Barbie te klink! Sy het eenkeer net vir my gekyk en gesê: ‘Pa, wees asseblief normaal en praat met jou eie stem.’ Dit was vreeslik snaaks. Lily Rose is my prinses! Die kinders is alles vir my, hulle is my inspirasie en ek leer so baie by hulle.

SY LOOPBAAN

Na watter akteur kyk jy op?
Definitief Marlon Brando. Sy talent was onbeskryflik, hy het daai X-faktor gehad. Hy het charisma en mag ook gehad. Ek is mal oor hom!

Wou jy altyd ’n akteur geword het?
Nee, toe ek 12 was, het my ma vir my ’n kitaar gekoop. Van daardie oomblik af wou ek ’n musikant wees. Ek was so mal oor die Rolling Stones, Bob Dylan, Johnny Cash – ek wou hulle wees. Ek was vir honderde oudisies, maar niks het uitgewerk nie. So, toe besef ek ek moet dalk iets anders doen. Musiek is steeds deel van my lewe, dit is net nie meer die belangrikste deel nie. As ek gespanne is, sit ek musiek aan en dans met my vrou, dit help gewoonlik.

Hoe het dit gebeur dat jy toe ’n akteur geword het?
Dit is alles Nicolas Cage se skuld! Aan die begin van die 80’s het ek Los Angeles toe gekom saam met my band, The Kids. Ons was baie swak! Nicolas het hom so geskaam vir my dat hy my na ’n oudisie geneem het. Ons het mekaar van jongs af geken. Toe kry ek die rol!

Waarom sien ons jou nie gereeld by premières en partytjies nie?
Ek is nie mal oor sulke geleenthede nie. Ek is nie goed daarmee om met ander mense te gesels nie. Daarom vermy ek partytjies. Ek kry engtevrees as daar te veel mense om my is.

Hoe was dit om vir Angelina Jolie te soen in The Tourist?
Ek het al moeiliker dae by die werk gehad as om haar te soen… (Lag). Dit is maar altyd ’n ongemaklike storie, jy lag maar jou pad daardeur. Al is jy hoe professioneel raak dit soms snaaks en moet dit meer as een keer gedoen word. Mens voel weer bietjie soos ’n tiener!

Is jy bang om oud te word?
Nee, glad nie! Ek verwelkom elke liewe plooi soos ’n ou vriend van my. Oor 20 jaar wil ek op ’n stoep sit, ’n mooi see-uitsig waardeer, ’n ronde magie hê en omring wees met al my kinders en kleinkinders.

  • Pops

    Ag, hy is die oulikste akteur wat daar is, en so talentvol!!! The Tourist is ‘n pragtige film en behoort deur almal gesien te word!! Mooi so Johny, jy is my hero in die movies!!!

  • Anita

    Hierdie man is my HERO!! Ek het eers nie van hom gehou nie, maar na sy lewensverandering is hy werklik ‘n voorbeeld. Ek dink sy vrou en kinders is baie gelukkig om ‘n man en pappa soos Johnny te kan hê…hulle verdien geluk!!!

  • Ria Maritz

    Die man het die regte uitkyk op die lewe ! En hy is boonop gevaarlik aantreklik.

  • veralda

    as ek hom vat, is dit nie fliek toe nie

  • JanaS

    Wens ek was Vanessa Paradis! *laaaang groot met sterre in die oe sug*

  • CherryBlossom

    OEFFFFFF, is al wat ek kan sê!! Sexyste man in die WêRELD!!!!