11.sonskyndag
Ons praat met

Eksklusief: Mathys Roets se ski-vakansie-dagboek + FOTO’S

Die lekkerste goed wat ‘n mens soms doen, is die dinge wat jy sommer so op die ingewing van die oomblik besluit en deurvoer. Byna 6 maande terug, ná ‘n vertoning, het ek JP en Nici Viljoen, Suid-Afrikaners wat in Kanada bly, ontmoet. Hulle het my gevra hoekom ek nie in Kanada kom ski nie? Ek het al voorheen geski ná my ongeluk, en is mal daaroor! Ek skimp toe sommer en sê “reël ‘n vertoning, dan is ek daar …”

Dag 2 op die hellings

FOTO: Mathys, Jané en twee ski-instrukteurs op die ski-hellings. Mathys in die bi-ski.

Hulle het nie op hulle laat wag nie en saam met Tia Steyn, ook ‘n Suid-Afrikaner wat in Kanada bly, die bal aan die rol gesit. Ek moes net daar kom, hulle sou al die reëlings tref. En kort voor lank was my konsert, verblyf by die Silverstar-ski-oord én ski-lesse gereël! Silverstar is geleë in Brits-Columbië net buite die dorpie Vernon.

Mathys, Jané, JP en Nici
FOTO: JP en Nici Viljoen saam met Mathys en Jané. (Foto: Janus Steyn)

Hier kan enigiemand met ‘n gestremdheid gaan ski! Die oord het programme vir alle gestremdhede, van mense wat blind is tot dié wat spierdistrofie het. Al die instrukteurs is vrywilligers en die toerusting vir alle gestremdhede is gratis en ek kry afslag om te ski. Hoe kan ‘n mens nee sê vir hierdie geleentheid?!

13 Desember

Ons klim vanaand laat op die vliegtuig. Ek is vol verwagting en effens senuweeagtig oor die lang vlug. Ons moet ‘n paar keer oorklim en daar’s soms min tyd tussen vlugte … JHB tot Frankfurt neem 11 uur. Daar aangekom, moet ons 3 uur wag. Frankfurt tot by Vancouver neem nog 10 uur. En Vancouver na Kelowna omtrent ‘n uur.

Uiteindelik, ná byna 30 uur van regop sit, is ek en Jané in Kelowna. JP en Nici ontvang ons met groot glimlagte op die lughawe! In die stadium is ek nie seker watter dag of datum of tyd dit regtig is nie. Maar dit begin klaar skemer raak, seker so 17:00 se koers toe ons by die Silverstar-ski-oord aankom. Almal waarsku teen vlugflouheid, maar daar is nie nou tyd daarvoor nie, ons het net 5 dae om te ski. Slaap kan later kom. Eers gaan ons nou ‘n bietjie uiteet saam met JP en Nici.

15 Desember

Die 14de het iewers verlore gegaan. Ek lê al van 2h00 af wakker en hou die horlosie dop. 9h00 rol ek by die ski-skool in. Sommer dadelik word my ski nader getrek. Ek is effens teleurgesteld, want hulle bring ‘n beginner-ski. Ek kán mos ski. My instrukteur is Dan. Hy rig die Kanadese Olimpiese span af, dus reken ek hy sal my gou laat aanbeweeg na ‘n vinniger, ligter ski.

Mathys en sy bi-skiDit raak oggend

FOTO’S: Mathys by die bi-ski en vroegoggend buite.

Jané het ‘n private les en ek word weggestoot na die eerste afdraandetjie om te wys ek kan ski. Ewe skielik voel ek soos ‘n beginner! Dan toets my vermoë om te kan draai, want jy moet kan draai om te stop teen ‘n helling! Ek val darem nie om nie en kry my draaie gemaak. Nou vir die regtige ski-deel. Dit begin sommer dadelik steil en rof, maar hulle stuur my deur die moeilikste dele. Hulle het geen genade nie en stoot my baie vinnig af tot onder of ek trek hulle en hoop hulle weet hoe om te stop.

Die ski-les begin nou in alle erns. Ná die eerste uur is my arms so seer dat ek wonder hoekom ek dit weer aan myself gedoen het. Dit is baie moeilik en my hande vries en ek sukkel om die tegnieke presies reg te doen. Ek dink nou regtig aan miskien net warmsjokolade drink vir die volgende paar dae en kyk hoe ander dit doen. Hulle het my weer op met die stoelhyser en ons begin weer van bo na onder en hierdie keer gaan dit darem beter en my vingers kan ek nou weer voel.

Die 'chairlifts'
FOTO: Die stoelhyser.

Middagete kan ek nie wag om te hoor hoe Jané gevaar het nie. Hoeveel valle en hoe moeilik dit vir haar is nie. Maar ek word verras, want haar instrukteur reken sy kan maar gaan ski. Wat ander mense 3 tot 5 dae vat om te bemeester het sy in 3 uur reggekry. Dit beteken sy kan sommer vinng saam met my kom ski. Met die middag-sessie voel ek effens beter en begin weer die gevoel kry. Daardie aand is ons vroeg uit. Seker voor 20:00 al.

Mathys en Jané eet saam middagete op dag 3Mathys en sy mono-ski
FOTO’S: Mathys en Jané tydens middagete. Mathys klim in die bi-ski by die ski-skool. As hulle by die deur uitgaan, is hulle in die sneeu!

16 Desember

Weer baie vroeg wakker … 3:00 en ek staar na die dak. Toe ons uiteindelik moet opstaan, was ek nie seker of ek nog kan nie – my hande, my arms, bors, my maag … elke spier wat ek kan voel, is styf. 9:00 begin die ski weer. Ewe skielik ná ‘n nag se slaap en wakker lê, is dit asof ek baie gemakliker begin voel. Op die steil dele doen hulle nog die stuurwerk (stagecoach), maar hulle los my darem meer en meer op my eie.

JP ski elke dag saam met sy GoPro-kamera om al die aksie vas te vang. Die instrukteurs is ongelooflik. Hulle is almal vrywilligers en doen dit heeltemal gratis. Ek raak net deurmekaar met die name. Daar is Dan, Ron en nog ‘n Ron en Don en nog ‘n Don en Ben en Al. Al is 81 jaar oud en hy ski soos ‘n tiener. Hy wip met sy ski’s tussen die bome in, spring met sy ski’s en het selfs vertel dat hy ook ‘n GoPro-kamera het, maar dit nog net gebruik het as hy in die somer bergfiets ry! Al is beslis ‘n inspirasie om te wys dat oud nog nie koud is nie!

Dan, Mathys en Al

FOTO: Dan, Mathys en Al op die stoelhyser.

17 Desember

Wéér eens vroeg wakker. 3:00 kyk ek vir die dak. ‘n Voordeel van hierdie vroeg wakker word, is ons sien elke oggend die son opkom teen die mooi landskappe van die ski-hellings. Vandag kan ek met die vinniger, beter ski begin. Hulle noem dit die mono-ski.

Mathys op sy mono-ski
FOTO: Mathys in die mono-ski.

Die eerste 2 dae was met die bi-ski wat 2 ski’s aan het. Getrou aan my aard is ek opgewonde oor die vinniger, ligter ski. My opgewondenheid het presies 11 sekondes geduur, toe val ek. Om elke keer regop te kom vat baie, baie energie. Ná ‘n uur toe wou ek amper vra dat ons liewer teruggaan na die bi-ski sodat ek net lekker kan ski en nie heeltyd op my sy lê nie. Maar weer eens het die middagsessie sommer baie beter gegaan.

Mathys en Jané bo-op die berg
FOTO: Mathys en Jané op die berg met die “sneeuspoke” op die agtergrond.

Nou begin ek ski! Jané en Nici ski ook sommer lekker saam. Ons probeer elke aand die slaap so ver moontlik uitstel, maar teen 20:00 se kant gaan dit baie moeilik. Ons kry dit darem reg om elke dag een uur aan te skuif. Die volgende paar dae gaan alles baie vinnig. Elke dag raak die ski makliker en ek kan net soveel meer die ongelooflike ervaring geniet.

20 Desember

Mathys op die verhoog
FOTO: Mathys op die verhoog by die Powerhouse-teater.

Vanaand is my vertoning by die Powerhouse-teater! Ek moet nou voorberei om te sing ook. Dit was een van die redes hoekom ek hier is. Die aand toe ons by die teater opdaag, was dit nogal ongelooflik om my naam in ligte teen die muur, so ver van die huis af, te sien. Tydens die vertoning voel ek egter baie naby aan die huis. Hier praat almal Afrikaans. Daar was wel so ‘n paar Kanadese ook. Om een of ander rede het ‘n hele klomp gehuil toe ek “Somerkersfees” van Koos du Plessis sing.

Mathys se optrede by die Powerhouse Teater
FOTO: Mathys se vertoning by die Powerhouse-teater.

21 Desember

Die laaste oggend het ons gou vir oulaas weer gaan ski. JP weer saam met ons soos elke dag, altyd soveel pret! Hierdie keer het ons sommer vir die ervaring die steiler blou hellings gaan aandurf. In Kanada is die moeilikheidsgraad groen, blou en dan swart! Die blou is so steil, as ek sou val, gaan ek sommer net so verder aan. Ek het maar ‘n paar benoude of eerder komiese oomblikke gehad as ek kop eerste op my sy teen die helling afgly.

Mathys en kie baljaar met die 'snowmoblie'
FOTO: Diesneeumobiel-groep.

Ons sluit die Kanada-deel van die reis af met ‘n sneeumobiel-rit die berge in en ‘n aandete op die ski-hellings saam met al ons nuwe Suid-Afrikaanse vriende. Die sneeumobiel was ook ‘n eerste vir my, en ek het nog altyd van dinge met enjins gehou. Aandete was ‘n ongelooflike ervaring op die berg terwyl dit buite sneeu!

Mathys en kie op die 'snowmobile'

FOTO: Op die sneeumobiel saam met Suid-Afrikaners.

22 Desember

Alles is gepak en reg vir die lang vlug. Of eerder die baie vlugte. My volgende bestemming is Val d’Isere in Frankryk. Daar ontmoet ek my seuns vir nog ‘n paar dae van ski. Jané is terug Suid-Afrika toe vir Kersfees. Om daar te kom het my 4 vlugte en ‘n taxi-rit gekos: Kelowna na Vancouver, Vancouver na Frankfurt, Frankfurt na Brussel, Brussel na Genève en van Genève ‘n 3 uur lange taxi-rit tot in Val d’Isere. Op die aand van die 23ste kom ek sonder my bagasie in Genève aan. Ek het net my sweetpak by my. Verder niks.

Hulle belowe my hulle stuur dit onmiddellik na my hotel toe. Hoekom vertrou ek die Switser?

24 Desember

Die oggend kom en gaan en steeds is daar geen bagasie nie. Ek gaan koop toe maar die nodigste, kleiner dinge. Nou is dit tyd om my ski-toerusting te gaan haal. Wat ongelooflik is, is dat hulle sonder papierwerk of handtekeninge of deposito’s vir my die sit-ski gee en los om self te gaan geniet. Die man het wel gesê ek kan sommer etenstye die ski teen die muur onder by ski-hyser los, want niemand steel dit nie. Ek kan nie juis ski sonder my warm ski-klere nie, maar ek moes darem my nuwe vaardigheid aan my seuns wys wat nou hier in Frankryk is.

Mathys in die Alpe
FOTO: Mathys in die Alpe!

Sommer in my sweetpak en dun baadjie is ek toe boontoe vir een vinnige ski. Die omstandighede, die sneeu en die ski voel heeltemal anders as Kanada, en ek verloor sommer dadelik effens beheer en gaan baie vinniger af as wat ek wou. My seuns was egter baie beïndruk oor ek so vinnig ski. As hulle maar net weet!

Mathys saam met Liam en Yuan in die Alpe!
FOTO: Mathys en sy seuns, Liam (links) en Yuan.

Die volgende paar dae in die Alpe was dit ongelooflik om so hoog in die berge te kan wees, daar waar geen mens in ‘n rolstoel veronderstel is om te wees nie. En hier kan ek saam met my seuns van heel bo af ski en die ongelooflike ervaring deel. Teen dié tyd moes ek elke dag nuwe klere koop. Geen spoor van my bagasie nie. Ek het ook net 5 dae om te ski, ek kan nie tyd mors om bagasie op te spoor nie. Dit is ongelooflik om somtyds so hulpeloos te voel, waar jy afhanklik is van mense om jou. En dan ewe skielik jouself baie styf vas te bind op ‘n baie dun ski en teen onnodige steiltes net so vinnig soos almal daar af te ski. Vir daai oomlik voel ek net so vry soos ek altyd gevoel het as ek ski.

Mathys en Yuan in die Alpe
FOTO: Mathys en Yuan in die Alpe.

My bagasie daag 2 dae voor ek terugvlieg eers op, maar in die stadium kan niks my gemoed versuur nie.

29 Desember

Ek is op pad terug Suid-Afrika toe! Alle goeie en mooi dinge kom tot ‘n einde en ek kan weer my foto’s bêre en my gedagtes formuleer en beplan vir die volgende uitdagings wat voorlê terug in Suid-Afrika in 2013. ‘n Vakansie om te onthou, nuwe plekke gesien, nuwe mense ontmoet en nuwe vriende gemaak!

'n Handvol Suid-Afrikaners
FOTO: Al die Suid-Afrikaners wat kom saam kuier het voor die Snow-Cat. (Foto: Janus Steyn)

PS: En die nuwe uitdagings kom vinniger as wat ‘n mens voorsien. Toe ek uiteindelik ná byna 24 uur van reis in Johannesburg opdaag, het hulle my rolstoel vir iemand anders gegee om te gebruik en sommer saam Kaap toe gestuur. Die uitdaging was om my humeur in toom te hou en byna 3 uur te wag voordat hulle uitvind waar my stoel is. Ek is toe maar geduldig huis toe en het my spaarstoel gebruik. Twee dae later stuur hulle eers my stoel …

Kyk die lokprent van Mathys se ski-fliek hier!

  • Marlene van Jaarsveld

    Fantasties!

  • BLOMMIE

    MASIEWE INSPIRASIE VIR ENIG EN ALMAL!!! MATHYS BO!!

  • Annerie

    Jy is ‘n inspirasie Mathys

  • Nici Viljoen

    Na Mathys se kuier hier in Kanada word ons nog daagliks vertel watter groot impak hy, nie net op ons Suid-Afrikaners nie, maar op al die Kanadese hier gehad het. Daar is ‘n Kanadees wat nou vir die eerste keer na sy amputasie weer ski en nog ‘n ander man wat sy visie verloor het wat weer die berg aandruf nadat hulle Mathys se storie gehoor het.

    Die konsert was vir ons almal so ‘n groot present vir Kersfees.

    Mathys, Ek dink jy het ere burgerskap hier in Vernon gekry. Jy en Jane is baie welkom om enige tyd weer te kom. Daar is wel bietjie jaloesie oor julle natuurlike ski talent.

  • Adre Claassens

    Mathys, jy is awesome jongman, ‘n inspirasie en ‘n SANGER, o wee, ja nee, daai stem kan ‘n mens net geniet!

    Geniet jou lewe ou grote!

  • RENETTE CHAPMAN

    MATHYS EK HAAL MY HOED VIR JOU AF WANT WAT JY AL ALLES VERMAG HE T IS WONDERLIK EN EK IS EERLIK EK WEET NIE OF EK SO IETS KAN DOEN NIE DIT VAT BAIE WIL EN WILSKRAG